Die Lewe · Gedagtes

Allegaartjie

Ek is moeg, die jaar is te lank, my kop is te vol en my Muse sit seker al klaar iewers op ‘n seiljag, want hier is hy wragtig nie. Ek het niks om oor te skryf nie, nou “mixed grill” ek sommer net.

Ek kan nie wag vir volgende week nie, want dan kom my Megan kuier, een hele week lank. Sy gaan vir my tjoklit koek bak en ek gaan nie kla as ek saam met haar in die winkels moet gaan klere soek nie. Ek gaan onthou dis net vir ‘n week en sy kom van die plaas af en daar is nie ‘n Canal Walk of Tygervallei daar nie, so ek gaan bekhou en help pakkies dra en plat skoene aantrek, sodat my voete nie seer word nie. En geduldig kyk en oeh en aah as daar klere en skoene aangepas word.

Ek ‘ramble’ – die jaar het net nog amper drie maande oor. Oktober, November en Desember – die lekkerste maande van die jaar vir my, van kleintyd af al. Oktober bring die somer, November bring my verjaarsdag (ek is nog steeds soos ‘n kind oor verjaarsdae, al moet ek eintlik myne nou begin vergeet) en Desember is dit Kersfees en vakansie. Afrikaners is plesierig en ek hou van partytjies🙂

Ek haat die winter. Haat is seker ‘n sterk woord, maar ek kom regtig nie goed oor die weg met koud kry en reën nie. Koud kry op sy eie, met ‘n flou sonnetjie wat skyn, kan ek nog vat op die slegste van tye, maar ek hou niks van reën nie. As ek wil nat word, sal ek bad of swem.

Daar is min dinge so lekker soos die reuk van sonskyn. En dit word vrugte tyd. Druiwe, waatlemoen, perskes, aarbeie. Ek sou kon lewe net van vrugte. Natuurlik raak ek lus vir steak as ek sien hoe lekker word dit op die TV gaargemaak, maar ek sal maklik met net groente en vrugte ook deur die lewe kan gaan. En koek natuurlik. Tjoklit koek met cherries. Rooies. En darem so nou en dan vis en tjips.

Ek raak ook so half melankolies dié tyd van die jaar. Ek dink terug oor die jaar wat op sy rug lê. Van laas jaar Oktober tot nou het ek nogal ‘n paar goed geleer. Party sou ek liewer nie wou weet nie, ander het my sterker gemaak. Wat jou nie doodmaak nie, maak jou mos sterk. Of vet. Of so iets.

Ek weet nou dat meeste mense goed is en dat vriende soms beter as familie is. Dat wildvreemde mense soms so goed is vir jou dat jy kan huil daarvan, ‘n bly-huil, want dit gee jou weer vertroue in die mensdom. Dat mens met jou kop kan vergewe, maar nog lank nie met jou hart nie en dat daar wonde is wat selfs tyd nie kan genees nie.

Ek het ook hierdie jaar my harts-kar verkoop, maar daardeur het ek myself bemagtig om te begin spaar vir ‘n groter droom – om Suid-Amerika toe te kan gaan. En om meer dinge te doen wat ek graag wil doen.

Ek weet ook dat my beskerm-engele wawyd wakker en op hulle pos is. Ek was in ‘n ongeluk en het niks oorgekom nie. Ek het amper op ‘n slang getrap en het ook niks oorgekom nie.

Ek het geleer ek kan nie altyd alles in my lewe beheer nie, soms moet ek aanvaar ander mense is net so bevoegd soos ek en selfs meer bevoegd wat sekere dinge betref. Soms moet ek net in die son sit en niks doen of dink nie, en nie skuldig voel daaroor nie.

“Sometimes it really is best to let go of the steering wheel and let the Universe drive, while you sit back and enjoy the ride!”

20 thoughts on “Allegaartjie

  1. Verjaarsdae vergeet ek liewer. Kersfees en sy tinsel kan ek nie verdrae nie. As ek “jingle Bells” hoor, dan verloor ek sommer die lus vir lewe en word ‘n selfmoord bommer. Somer is OK, maar as ek eers begin sweet op plekke wat ek nie gedink het mens kan sweet nie is ek sommer lam. Vrek oor sneeu en alles wat daarmee gepaard gaan. Vrek oor “mix grill” sonder niertjies en lewer.😉

    1. Ek doen nie Kersfees met tinsel en stupid songs nie – al lankal nie meer nie. Ek doen Kersfees op my eie manier en vandat ek myself nie oorgee aan die mallemeule van presente en insolvensie nie, beteken Kersfees weer vir my baie🙂

      PS: Ek is een van daai gelukkige mense wat omtrent moet kook voor ek sweet. Ek dink al baie lankal ek is nie heeltemal mens nie – kan mos ook nie sink nie😈

    1. Ja Schabbers – maar dis soms baie makliker gesê as gedaan – ek gryp nog gereeld daai stuurwiel en dis dan wat ek so lekker van die pad af jaag😆

  2. Het heerlik geknibbel aan jou mixed grill – laas ‘n regte allegaartjie geëet in ‘n road house naby Bleomfontein – ons gesin het Sondae daar gaan eet… kan nou galdnie die plek onthou nie, maar jy het my heerlik teruggevat soontoe, sonstraal – geniet die mooi somer, ek sweet vreeslik baie vir ‘n maer vrou (he he he) maar hou so van al die voëls wat van die koue lande af na ons mooi warm tuine toe kom.

  3. Ek hou van jou allegaartjie. Dit voel soos kuier.🙂 Aan die einde van elke jaar maak ek ‘n lysie van wat ek alles gedoen gekry het en geleer het – amper soos wat jy nou gedoen het. Dit help om ‘n mens te fokus, is dit nie?

    1. En jou donkietjie lyk weer vir my alte fraai. Jy laat my nou dink aan die ou wat by die vuurtjie gesit het en die trein sien verbyry en dink hoe lekker het die mense dit daar binnekant die trein. En dan sit daar iemand binne in die trein en kyk uit en sien die ou by sy vuurtjie en dink weer hoe lekker sou dit gewees het om daar by die vuurtjie te sit😆

  4. Sjoe, nat en koud is die Kaap se ding….miskien moet jy somer-reenval toe kom. Ek kon dit nie hanteer n die Kaa nie – daai koue en nat winters het my nder gekry.

    1. Nottedamn – ek smel eerder voor ek weer in die Noorde gaan bly. AS ek ooit iewers anders moet gaan bly, sal dit Namibië wees, of die Karoo🙂

  5. Somehow is verjaarsdae vir my depressing. Nie omdat ek ouer word nie, dis net so ‘n antiklimaks.

    Ek sien gewoonlik uit na Desembers omdat dit stiller by die werk en in verkeer is, maar die aanloop daarheen is vrek besig. En nie nice nie.

    Ek is bly jy sien uit. Sal jy sommer vir my part ook? Dan hoef ek nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s