Raak gelees

Tou – Piet Steyn

Ek het ‘n hele rukkie terug ‘n Afrikaanse skrywer ontdek van wie ek definitief elke boek sal lees – Piet Steyn.

Tou is Piet Steyn se derde boek in die Pine Pienaar-misdaadreeks. Steyn se debuut, Snoeiskêr,  is in 2007 as ‘n finalis in Sanlam/Insig se Groot Romanwedstryd aangewys en sy tweede boek, Bottelnek het in 2009 verskyn. Ek het altwee sy vorige boeke ook reeds gelees. Elke storie staan onafhanklik, maar Pine en sy kollegas se karakters is deurlopend en dit help as mens by die eerste boek begin.

Die afgryslike berigte oor plaasmoorde waarvoor ons mense al tot ‘n mate afgestomp geraak het, vorm die grondslag van Tou. In Tou kom ‘n baie kontroversiële misdaadbende Pine se lewe deurmekaar krap. Die Hof-Onder-Kruis-bende wat geregtigheid in eie hande neem en moordenaars teregstel, veral plaasmoordenaars!

Die slagoffers (moordenaars) word gewoonlik in verlate geboue gehang, met ‘n lys van misdade wat elkeen gepleeg het, op sy bors vasgespeld en die teksvers uit Levitikus 24 vers 17: “Iemand wat moord pleeg, moet die doodstraf kry.”

In Pine se soektog na die Kruisbende, kom hy en sy bevelvoerder tot die gevolgtrekking dat daar ‘n “mol” in hulle midde is. ‘n Polisie kollega wat aan die Kruisbende inligting verskaf. Pine sukkel hiermee, want skielik kan hy nie eers sy beste vriend en jarelange kollega, Kat, vertrou nie.

Die roman is nie net uiters aktueel nie, dit laat mens ook wonder aan wie se kant jy sal staan as daar werklik so ‘n bende in Suid-Afrika begin om die helsems wat ons vrouens en kinders en boere uitmoor, te vang en tereg te stel. In Tou word dit sonder twyfel duidelik gestel dat die hele land die Kruisbende as verlossers en helde sien. En ek sal lieg as ek sê dat ek die heeltyd wat ek die boek gelees het, nie lekker gekry het elke keer as die Kruisbende die moordenaars vastrek en straf nie.

Veral na een plaasmoord toneel besonder grusaam beskryf is, het ek absolute ondersteuning vir die Kruisbende gevoel. Die skrywer wek natuurlik ook subtiel die leser se simpatie met die Kruisbende. In ’n peiling spreek 68% van ’n koerant se lesers hulle ten gunste van die Kruisbende uit. In koerantadvertensies bied oudweermagmanne hul dienste vir die bende aan. Alhoewel dit fiksie is, ontstaan die vraag wat sal wel gebeur as daar werklik so ‘n vigilantegroep ontstaan en waartoe kan dit dinge in ons land dryf?

Dit word ook goed uitgebeeld hoe selfs die polisie in twee geskeur is, want hulle moet die wet en orde handhaaf, en dit beteken hulle moet die Kruisbende probeer vang, maar eintlik sal hulle eerder hierdie bende wou help.

Daar word ook ander karakters en storielyne bygewerk by die hoofstorie, so die verhaal is nie een-dimensioneel nie. Piet skep ’n paar kleurryke karakters, wat die leser geniet en wat die spanning van die Kruisbende se doen en late op net die regte manier verbreek.

Tou is ‘n boeiende speurverhaal sonder tierlantyntjies en ek sien uit na Piet se volgende boek.

4 thoughts on “Tou – Piet Steyn

    1. Ek lees ook deesdae te min Afrikaans, want al die boeke op my e-reader is Engels! Maar ek geniet Piet, en natuurlik is Deon Meyer so goed, selfs my meisiekind wat nie hou van lees nie, het al Deon se boeke gelees😆

    1. Sjoe – Deon Meyer is darem BAIE goed! Maar Piet is self goed, op sy eie manier en ek dink dis die moeite werd om sy boeke te lees. Veral as jy soms self lus voel om die 9mm te trek op misdadigers😉

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s