Die Lewe · Raak gelees

Jou gesig – Skildery van jou Lewe

Ek het nog altyd gedink ‘n mens se gesig is ‘n skildery van jou lewe. Nou weet ek dit vir ‘n feit.

Toe ek Meimaand Karoo toe is, het ek vir Nick ontmoet. Ek het gehoor hy lees gesigte, maar ons het die aand gebraai en gekuier en die geleentheid het hom nie voorgedoen om daaroor te gesels nie. Ek het my ook nie juis gesteur aan die gesiglees storie nie. Saterdagoggend kom help hy vir Riaan byekorwe skuif en na die tyd kom drink hy koffie by die huis en ons raak aan die gesels.

Eintlik vertel hy van ‘n kursus wat hy tans vir verkoopsmense aanbied, waar hy hulle leer van ‘n kliënt se koopgewoontes deur na sy/haar wenkbroue te kyk. Hy verduidelik dat iemand met amper reguit wenkbroue, nie belangstel in die tierlantyntjies van ‘n ‘sales pitch’ nie en slegs die ‘bottomline’ wil hoor: “Wat gaan dit my kos?” En hy kyk na my en sê; “Amper soos jou wenkbroue.” My mond hang so effens oop, want hy het die spyker summier op die kop geslaan.

Blykbaar wil mense met wenkbroue wat gerond is, weer eerder die hele prentjie sien. Ingekleur en alles, voor hulle sal besluit. En mense met skerp geboogde wenkbroue wil weer in beheer wees, dus vra jy hulle of hulle die lang storie wil hoor of net die bottomline. Dan voel hulle in beheer en sê wat hulle wil hoor en jy gee dit.

Natuurlik is ek heeltemal te nuuskierig om die saak net daar te los. Dis deel van die man se brood en botter, so ek kan hom nou ook nie te opsigtelik uitvra nie, maar ek probeer so met ‘n ompad uitvind wat vertel my gesig nog alles. Hy lees my egter soos ‘n boek, ‘no pun intended’😆

Hy vertel my dat ek koppig is – my ken sê so. Hy vertel my dat ek ‘the gift of the gab’ het – my kakebeen se lyn sê so. Hy vertel my dat my ma ‘n moeilike geboorte gehad het met my – my ore sê so. Hy vertel my dat daar iets baie groot in my lewe gebeur het op 5-jarige ouderdom – my ore vertel hom dit ook (my suster is gebore twee dae na my 5de verjaarsdag). Ook op 13-jarige ouderdom het iets radikaals gebeur in my lewe – so sê my ore (my ouers is toe geskei.)

Die manier wat ‘n sekere deel van my oor gevorm is, vertel hom ook dat ek intuitief dinge aanvoel en ‘n deel van my wenkbroue vertel dat ek ‘n direkte lyn na die engele toe het.

Ek het naderhand nie eers meer my mond probeer toehou nie. Die man is verstommend akkuraat en hiermee het hy vir my ‘n nuwe wêreld oopgemaak en ek kon nie wag om meer te gaan lees oor ‘face reading’ nie.

Die mens het drie liggame. Eerstens is daar die fisiese liggaam, wat jy kan sien en aan kan vat. Dit is solied en het ‘n vorm, ‘n kleur en ‘n tekstuur. Die tweede en derde liggame is die geestelike en spirituele liggame, wat ontasbaar is en verenig is met die fisiese liggaam. Jou ware karakter neem ‘n fisiese vorm aan in jou gesig. Dit is waar jou emosies en die toestand van jou gesondheid heel eerste weerspieël word. En soos wat Shakespeare in Macbeth: “There’s no art to find the mind’s construction in the face.” Want ‘n mens se gesig is werklik ‘n ope boek!

Vir duisende jare het die antieke wysgeërs gewonder of ons gelaatstrekke ons lot of persoonlikheid kon bepaal. Hulle het individuele studies saamgestel, een gelaatstrek op ‘n slag, om vas te stel of daar ‘n direkte verband tussen spesifieke gelaatstrekke en spesifieke lotgevalle was. In Antieke Griekeland het Aristoteles baie geskryf oor fisionomie, of te wel gelaatkunde. Hy het sy bevindinge in ses hoofstukke gekategoriseer, wat fisiese karaktertrekke van gesig, lyf en stem ingesluit het. Die Klassieke geleerdes, soos Homeros en Hippokrates het geskryf dat gelaatkunde ‘n antieke metode is van praktiese filosofie. In die Middeleeue word fisionomie gekombineer met astrologie en word dit deel van die Waarsêerskuns. Teen die 18de en 19de eeu word dit in Europa as ‘n aparte studiedeel van kriminologie gebruik, waar gelaatstrekke gebruik word om potensiële kriminele te identifiseer. In die 20ste eeu gaan gelaatkunde byna verlore as gevolg van volksoorleweringe en bygelowigheid. Maar gelaatkunde maak ‘n terugkeer in die 21ste eeu as ‘n gids in psigo-analise, asook as ‘n hulpmiddel vir die fel mededinging in die raadskamers van korporatiewe Amerika. Dit is nie meer net ‘n woonkamer speletjie nie. Die voortgesette belangstelling in gesiglees gee nou geloofwaardigheid aan ‘n kuns wat die Chinese al vir jare beoefen en verskaf ‘n belangrike gids om mense beter te verstaan.

Die Chinese kuns van gesiglees is natuurlik ‘n baie komplekse stelsel wat die gelaatstrekke individueel oordeel deur kleur, vorm, en merke aan spesifieke dele van die gesig. Elke deel vertel van ‘n spesifieke ouderdom en lewenssituasie. Hierdeur kan hulle ook soms vroegtydig siektes diagnoseer, wat in jou gesig wys lank voor dit fisies verskyn.

Die gesig word gemeet in drie dele, naamlik Hemel, Mens en Aarde. Die Eerste Deel, Hemel, begin by jou haarlyn en loop af tot by jou wenkbroue. Dit verteenwoordig jou kinderjare. Die Tweede Deel, Mens, begin by jou wenkbroue en eindig by die area net onder jou neus se punt. Dit is jou middeljare. Van jou neus se punt af tot by die onderkant van jou ken, is jou bejaarde jare, of te wel die Derde Deel, Aarde. Dit is belangrik dat die afstand tussen elke Deel dieselfde in lengte is. As een Deel byvoorbeeld ‘n derde korter is, dan gaan daardie deel van jou lewe ‘n redelike moeilike tydperk wees. ‘n Kort, smal voorkop mag dalk dui op ‘n ongelukkige kinderlewe. Die Tweede Deel kondig as te ware aan: “Dit is my lewe!” As dit oop is of ‘n gelukkige gevoel het, beteken dit daardie persoon het tot dusver ‘n goeie lewe gehad. Maar ‘n kort Derde Deel mag aandui op ‘n kort lewe, waar ‘n lang ken weer ‘n aanduiding is van ‘n langer lewe.

Daar is Vier Draaipunte van die Lewe op ‘n gesig. Hulle word Hekke genoem. Die eerste Hek is tussen jou wenkbroue of die Derde Oog en dit is die ouderdom 41. Die tweede Hek is net onder die punt van jou neus en dit is die ouderdom 51. Die derde Hek is reg onder jou onderlip en dit is die ouderdom 61. En die laaste Hek is aan die onderkant van jou ken en dit is die ouderdom 71. Hierdie Hekke word gesien as “kritieke ouderdomme” en enige merke, lyne, moesies of vlekke op hierdie punte kan ‘n voorspelling wees van moeilike tye rondom daardie ouderdomme.

So kan ek aangaan, maar ek sal bladsye vol skryf. As jy meer wil lees hieroor, gaan gerus na die volgende plekke (daar is natuurlik baie ander ook)

http://serenapowers.com/facereading.html

http://www.facereading1.com/

http://www.chiofearth.com/article4.htm – hier sal jy ook ‘n lys van ander boeke kry oor hierdie onderwerp.

Ek gaan beslis hierdie nuwe speelding meer bestudeer!🙂

15 thoughts on “Jou gesig – Skildery van jou Lewe

  1. Ons het mos nie nou tv nie, maar my dogter kry vir ons reekse om na te kyk by die universiteits pelle. En daar is ‘n reeks van ‘n kriminoloog wat hierop gegrond is. Baie interressant.

    Lyftaal en nie-verbale kommunikasie is immers 85% van kommunikasie.

    Ek het ‘n oulike storietjie uit my klas hieroor wat ek na die naweek sal plaas, iets wat Vrydag in my klas gebeur het, ek sal skakel hier na jou inskrywing toe.

  2. Baie interessant! My vrou sê ek lyk altyd bedonnerd, maar ek glo ek is vriendelik en saggeaard. Nou hoe gaan ons nou die waarheid in my gesig lees? (soos mammie nou hier bo gesê het, sien nou eers dis sy…!)

    1. 😆 Julle kan enige tyd vir my ‘n foto email, dan oefen ek solank op julle. Maar dis op eie risiko, hoor! Grappies op ‘n stokkie, ek gaan die volgende kursus wat Nick in Kaapstad aanbied bywoon. Die gogga het my gebyt🙂

      1. Ek het niks gebyt nie. belowe (LOL)

        Gesig en lyftaal het my nog altyd gefasineer.
        Dat ek “intune” is met my sesde sintuig help natuurlik ook baie. Ek is al van kleins af sensitief vir daai subcontious movements maar as ek kon sal ek ook so kursus bywoon.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s