Die Lewe

Dinsdag se einde

Ek het toe gisteraand veilig by my huis geland, maar nie sonder ‘n laaste bietjie drama nie. My ma het per geleentheid vir my gese; “My kind, hoe’s dit dan dat die moeilikheid jou so maklik vind.” Ai Ma!

Die vlug het sonder voorval verloop tot omtrent so 15 minute weg van die Kaap. Toe tref ons die slegte weer. Ek is g’n niks bang vir vlieg nie, maar gisteraand was nogal scary. Toe die vliegtuig begin daal, moet ons deur die wolke en toe voel dit soos die Big Dipper by die Merry-Go-Round. Net baie erger. En dis net grys rondom mens. Dis sulke tye wat mens regtig jou sterflikheid besef en dink hoe maklik jy jou lewe aan ‘n masjien en ‘n ander mens se hande toevertrou.

Toe die kaptein se dis nog 8 minute na landing toe, toe sien ek nog steeds nie eers ‘n liggie op die grond nie. Dis eers toe ons regtig laag is, soos BAIE laag, dat ek besef ons kom oor Valsbaai in, want toe sien ek die kuslyn en uiteindelik die liggies. En dit REEN! En ons skud-skud so aanloopbaan toe. Maar die landing self was nie te sleg nie, ek haal my hoed af vir die loods.

Elk geval, toe is my beproewinge nog nie verby nie. Dis maatskappybeleid dat ons nie ons eie motors vir werksdoeleindes mag gebruik nie, behalwe nou net werk toe en terug. So, jy kry ‘n huurkar lughawe toe, jy kry ‘n huurkar daar waar jy gaan en as jy terugkom, dan kry jy weer ‘n huurkar terug van die lughawe af, wat die huurmaatskappy dan weer die volgende dag by die werk kom haal.

Nou, ry in 24 uur met ‘n Opel, ‘n Polo, ‘n Renault en dan ‘n Toyota en vertel my bietjie of jou kop nie ook so deurmekaar sal wees soos ‘n verkleurmannetjie op ‘n Smartie Boks nie! Onthou nou, dit stortreen en die wind waai vir ‘n wen en ‘n plek gisteraand. Dis 300 kilometer van waar ek van die vliegtuig afgeklim het tot by die motorhuur kantore. Okay, nie heeltemal 300 nie, seker so 250 km. Gelukkig is 200 km daarvan onderdeur ‘n duikweg, so ek reen nog nie nat nie. Die laaste 50 km hardloop ek in die reen oor die oop stuk na die motorhuur kantoor toe. Toe voel ek darem nog net soos ‘n nat kat en ek skud vieserig my nat hare reg.

Na ‘n kwarteeu in die ry en sewe handtekeninge, kry ek my motorsleutels en die vroumens mompel “F25”. Die sleutels is in ‘n papierhouer, ek gryp net die houer en mik by die ander deur uit. Buite sien ek dit is Katrina en Irene en nog ‘n paar orkane wat verbykom. Ek hou so onderdak langs en tel die rye af. A B C D E F! Ek sien ook sommer nommer 25 is die tweede laaste nommer, aan die VERSTE kant van my af. Maar ek is moeg en ek wil by die huis kom, so ek besluit ek gaan hardloop, te hel met wind en reen.

Toe ek daar by nommer 8 kom, begin ek soos Mary Poppins voel, net sonder die sambreel. Die wind waai my twee tree links vir elke drie vorentoe en my kuif waai sodat ek soos Elvis lyk. So by nommer 10 kyk ek op en sien doer ver, op wat soos nommer 25 lyk, staan so klein klein KLEIN rooi karretjie. “Ag Here, jy kan mos nie vanaand DIT aan my doen nie. Ek gaan in my moer in wegwaai met daai gedroggie,” bid ek met oop oe. Dis toe ek nader kom, dat ek sien die Atos / Hyundai I10 (ek weet nou nog nie wat presies dit was nie, net dat dit ‘n belaglike klein karretjie was) staan eintlik op nommer 24. En daar is niks op no 25 nie.

My eerste gedagte is dat iemand my huurkar gesteel het! (onthou nou, ek is toe al MOEG en die brein nie meer so vars nie). Toe dink ek, nee wag, sy het seker die nommer net verkeerd gegee. Ek pluk die sleutel uit die papierhouer, maar dit reen so dat ek nie eers kyk wat se sleutel dit is nie, ek druk net al die knoppies op die sleutel. Maar NIKS maak bliep of bloep nie. Toe probeer ek die sleutel in die sleutelgat druk, maar nee! Toe besef ek die #*& by die kantoor het vir my die verkeerde staanplek nommer gegee en ek sal al die pad in die reen moet terug. Toe praat ek Duister Afrikaans, nie donker nie, DUISTER. En dis TOE dat die brein weer bietjie inskop en ek lig my arm in die lug en draai in die rondte en spring op en af en druk daai sleutel se knoppie en kyk of daar nie iewers ‘n kar reageer nie. (Wil nie eers weet hoe ek vir iemand anders moes gelyk het nie) En wragtig! DAAAAR voor sien ek oranje liggies aan en af flits. Op C25! Ek hol nader en sien dis ‘n Toyota Corolla,(“Dankie dankie Here, dat jy geluister het!”) en ek ruk daai deur oop en duik in die kar in, gooi sommer my sakke so bo-oor my skouer in, maak die deur toe en dink by myself; “Se moer, nou vat ek hierdie kar, ek gee nie ‘n hel om of dit die verkeerde een is nie. Julle almal se moere!” En daar kry ek nie reverse nie. EK, wat meer as 4 jaar Toyota gery het, het vergeet waar is reverse!

Uiteindelik, na ek amper al die ratte probeer het, kry ek toe agteruit en ek trek daar weg. Dis eers toe ek halpad oppad huis toe is, dat ek besef ek het nie die verkeerde kar gevat nie, my brein is net moeg, die bleddie vroumens het vir my die verkeerde nommer gegee. Op die N1 het die wind SO gewaai en die reen was SO erg dat ek net dankbaar was ek moes nie regtig met die rooi gogga ry nie, want dan was ek wragtig vandag dalk ook ‘n kruis langs die pad.

12 thoughts on “Dinsdag se einde

  1. 😆 Ek is bly jy het dit veilig gemaak Son…
    Ek haal my hoed af vir iemand wat sommer lag-lag 50km in die reën kafdraf….is jy seker daar is nie motorhuurplekke nader aan die lughawe nie?😆

  2. Dis hoekom ek nie graag reis nie. Voor die tyd verknies ek myself in stukke vir die moontlikheid dat ek deur sulke drama moet gaan. Dis hoekom ek sommer hierdie week ‘n oorsese reis gekanselleer het. My baas lag vir my en vertel vir almal dat ek nie van vlieg hou nie, maar dit is nou maar soos dit is.

  3. Ag nee genade julle, dit was ook nou nie SO erg nie. Ek het darem nie gesmelt in die reën nie en ook geen blywende nagevolge oorgehou nie. En more gaan ek lekker Karoo toe🙂

  4. Haai shame man, ek is net bly jy is veilig deur daai storm. Maar uhmmm, dan is daar seker mense wat 10 minute sou gewag het dat dit bedaar?!? 9Toemaar, ek sou ook nie….)

  5. Ai jong ! Dit klink erger as ‘n nagmerrie. Ek hoop jou trippie is verder sonder streke.
    Saterdag is dit ek en daai moerse vliegmasjien Kaap toe. Tot nou toe nooit probleme gehad nie … Touchwood.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s