Die Lewe · Gedagtes · Sommer net

Pearly Days

Hoe sê hulle nou weer – “back by popular demand”😆

Heelparty mense, wat gelees het dat ek lank lank gelede toe die wêreld nog mooi en ek nog jonk was, perlemoen gesmokkel het, het gevra dat ek die storie (weer) vertel. Die eerste keer (op my sonkind blog) het ek dit probeer vertel as storie en dit was baie meer fiktief as werklik. Nou is ek oud en (amper) afgetree op my stoep, en ek dink nie dit maak meer regtig so baie saak nie en ek glo nie iemand gaan my knieë nou nog kom afskiet nie, so ek sal probeer om nader aan die waarheid te bly.

Na my egskeiding van my kinders se pa, was my eks-slegter-helfte vir ‘n hele ruk “missing-in-action”. Met twee kinders en ‘n huis om voor te sorg was daar heeltemal te veel maand oor aan die einde van my geld. Deur gemeenskaplike vriende raak ek toe bevriend met mense wat gereeld kreef en perlemoen duik. Uiteindelik vind ek uit dat ‘n paar van hulle eintlik meer perlemoen as kreef duik en meer perlemoen as die toegelate kwota duik en dit dan verkoop. En dat daar ‘n ‘vakante pos’ is vir iemand wat bereid is om sakke perlemoen te dra. Laat ek dit net duidelik stel – ek was nooit werklik deel van ‘n sindikaat nie, meer deel van ‘n “small time operation”.

Agtergrond

Nou, die ding werk so – daar is duikers en daar is draers. Die duiker duik minimum 20 kilogram perlemoen per duik uit. Hulle ‘shuck’ onder die water, wat beteken hulle ontskulp die perlemoen binne-in die see. Dis nogal gevaarlik, want dit lok haaie, maar arm man kan nie bekostig om bang te wees nie. Saam met die sak wat om hul lyf gebind is, vir hulle werklike kwota, om alles wettig te laat lyk, vat hulle ook ‘n bruin sak in see toe. Die bruin sak is die tipe sak wat die padwerke mense gebruik om sand in te gooi om padtekens mee vas te pak. Een so ‘n sak vat net mooi 20kg ontskulpte perlemoen. As die konstruksie mense dus gewonder het wat soms van hulle sandsakke geword het – nou weet hulle!

Elke duiker het sy eie draer en die twee bly ‘n span. Terwyl die duiker duik, hou die draer wag EN soek solank plek om die sak weg te steek wanneer die duiker uitkom. Duikers duik saam, maar kom een-een uit, sodat daar nie te veel woelinge is met te veel sakke gelyk nie. Die duiker los die sak in die vlak water, en loop dan weg met sy gewone kwota. Daarna kom die duiker nooit weer naby die perlemoen nie, want draers is vervangbaar, duikers is nie sommer nie. Die draer moet nou blitsvinnig wees, die sak gaan uithaal en gaan wegsteek, op die voorafbepaalde plek. Alles sonder dat onnodige oë jou sien. Duikplekke is gewoonlik op afgeleë plekke, weg van hoofstrande af, so dis nie TE moeilik nie. Maar ‘n draer moet sy/haar storie ken, want jy moet die sak goed genoeg wegsteek dat iemand anders nie daarop afkom nie, maar darem sodat jy onthou waar om dit weer te kry – IN DIE DONKER!

Later daardie nag – of te wel in die vroeë oggendure, is dit die draer se werk om die sak te gaan haal, terug te dra na die parkeerplek toe, wat gewoonlik ‘n stywe entjie weg van die duikplek is, en die sak perlemoen terug te vervoer na die afgespreekte aflaaiplek. Daar word die perlemoen dan geweeg en die draer word betaal en moet dan die duiker se deel vir hom gee. Die duiker en draer het gewoonlik ‘n ooreenkoms tussen hulle oor hoeveel wie kry. Sommiges het die geld helfte-helfte gedeel, ander het hulle draers ‘n vaste bedrag geld per sak betaal. Ongeag die reëling, daar was groot vertroue tussen draer en duiker en die spreekwoordelike “honesty amongst thieves”🙂

My persoonlike ervaring

Ek en my duiker het helfte-helfte gedeel. Ons het almal een koper gehad en destyds het ons R60 per kilogram gekry, want natuurlik belaglik min was, want iewers het mense RYK geword uit die perlemoen. Maar dit het R600 per duik in my sak besorg en dit was beslis nie te versmaaie nie. Dis meer as 15 jaar gelede en toe was R600 nogal iets werd.

Ons het probeer om ten minste een keer per week so ‘n duik te doen, maar dit het afgehang van die weer en die toestand van die water en die teenwoordigheid van die inspekteurs. Soms het daar tot twee weke verbygegaan wat niemand kon duik nie. Ek het darem ‘n vaste werk ook gehad, maar vir baie van die duikers was dit hul enigste inkomste en soms het hulle desperaat geraak en in slegte weer gaan duik. Hierdie was tawwe ouens, wat baie keer werkloos was en regtig om den brode geduik het. Dis nie ‘n ras ding nie, maar al die duikers wat ek geken het, was wit en dit was ‘n saak van eer by hulle om nie ondermaat perlemoen uit te duik nie. Daarenteen het die bruin duikers enige perlemoen wat voorkom, uitgeduik. Ek het soms rondgeswem en was hartseer om te sien watter klein skulpe onderwater lê.

Dis ook die rede hoekom dit vandag ‘n bedreigde spesie is en die wette soveel strenger is. Destyds al het van die duikers wat ek geken het, gespekuleer dat hulle met graagte sal betaal vir ‘n bestaansduiker lisensie en ‘n duikkwota vir perlemoen, wat hulle dan wettig kon lewer aan fabrieke. Later jare was daar sprake daarvan, maar ek weet nie of dit ooit werklik realiseer het nie.

My ma en pa het nie ‘n bang kind grootgemaak nie, so ek was nog nooit bang vir plekke en mense nie. Op ‘n dag het ek en my duiker, noem hom maar X, besluit iewers moet daar iemand wees wat ons meer sal betaal vir ons werk. Toe stel ek op ‘n dag voor ons moet bietjie Hawston binne ry. X was huiwerig, want Hawston het toe reeds ‘n reputasie gehad, maar ek lewe nog al die jare met die geloof dat daar baie meer goeie as slegte mense is, ons weet net nie van hulle nie, want hulle haal nooit die koerante se voorblaaie nie.

So ry ons toe na Hawston se ‘slipway’ toe. Natuurlik is ons Whiteys snaaks aangekyk, maar ons het uitgeklim en met die mense begin praat. En dit was nie honderd jaar nie, toe tel ons ‘n kontak op. Dié sê toe X moet by die winkel wag, hy sal my na die ‘main’ man toe vat wat perlemoen aankoop. Nou sal baie mense dink ek moes my kop laat lees, want ek soek mos nou om vermoor of verkrag te word. Wel nee, ek het nie so gedink nie en alhoewel X hard gesluk en diep asemgehaal het, het ek gesê dis okay. Ek is na die hoofman se huis en dalk was my gesig eerlik genoeg vir ‘n perlemoendief, want hy het my so effens bekyk, gevra waar duik ons en toe gesê hy gee R70 per kilogram en sus en so is die reëls.

En so het ons ons kontak in Hawston gekry. Die hoofman het in ‘n gewone huis gebly, maar sy wet was: GEEN duikers kom naby sy huis nie. Die draer het na die agterhekkie gekom, sak op die rug. Daar het ek ‘n kode vir ‘n wag (of “guard” soos hulle dit genoem het) gegee en ‘n ander ‘guard’ het met ‘n motor omgekom en my opgelaai. Van daar is ek en die ‘guard’ na ‘n ander huis, totaal en al aan die anderkant van Hawston. In hierdie huis was net vrieskaste, al die vertrekke vol. Hier het die ‘guard’ my perlemoen geweeg, die gewig in ‘n swart boekie opgeskryf en ek moes daarby teken. Daarna is ek en die ‘guard’ terug na die hoofman se huis, met net die swart boekie🙂 Die keer kon ek binnegaan, maar ek moes in die voorste vertrek wag en ek is gewoonlik ‘n koeldrank aangebied. Na ‘n goeie 10 minute het die ‘guard’ dan teruggekom en my geld gebring. Na die eerste ontmoeting het ek die hoofman nooit weer gesien nie. X het elke keer vir my by die winkel gewag, wat so ongeveer 200 meter van die hoofman se huis af was.

Ek het stoksielalleen die sak in die middel van die nag gaan haal, soms op die snaakste plekke. Ek het nooit ‘n wapen saamgedra het. Ek glo vandag my beskerm-engel het sekerlik daai tyd oortyd gewerk, arme ding. Volmaan aande was vir my erger as donkermaan, want dan was die nag te helder en ek te maklik sigbaar. Ek het nooit ‘n sak verloor nie en vir 2 jaar lank het dit goed gegaan. Toe ontmoet ons ‘n ander nuwe duiker en draer en daar word vir my gevra om haar touwys te maak. Ek was erg hierteen gekant, want ek glo mens seil jou skippie alleen in sulke operasies. Die ander duiker was egter my duiker se vriend en ek wou nie te veel protesteer nie. Die ander girl was onfiks – destyds was ek superfiks en het maklik 5 tot 10 kilometer op ‘n slag gedraf met 20 kg op my rug, oor duine en dale.

Mettertyd het ek egter die geselsskap verwelkom. Behalwe een aand wat die ander draer nie hulle sak kon gaan haal nie en die duikervriend toe saam met my loop. Ons was al ‘n ent weg op die donker strand, toe ek sien hy dra iets saam met hom – ‘n bleddie PANGA!!!  Toe ek hom vra, was hy stom verbaas dat ek nooit ‘n wapen by my dra nie. Tot vandag weet ek nie WAT hy gedink het wie hy met die panga gaan kap, AS ons iemand sou teëkom nie. Vir my was dit ‘hilarious’ en agterna het ek agtergekom die ou is ‘n regte banggat, maar dit daar gelaat.

Alles het goed gegaan, tot die oggend van 6 Januarie. Die inspekteure het lankal van ons geweet, maar kon ons nooit vastrap nie. Daardie dag het die ander duiker se draer veroorsaak dat ek my sak te laat gaan optel het, die inspekteure se skofruiling was reeds verby en toe ek oor die duine kom, was hulle voor my. En dit was dit – ek was vas.

Hulle het my weggevat en in Kleinmond se selle gaan toesluit. Die arme polisiemanne daar het nie mooi geweet hoe om my te hanteer nie en was eintlik moerse “nice” met my. Toe hulle die perlemoene uitskud uit die sak, was hulle selfs verbaas oor hoe groot dit is en wou weet waar dit uitgeduik is.

“In die wasmasjien, by Hangklip”, was my antwoord – dit was die waarheid.

“Wie is die duiker?”, het hulle my meer as een keer gevra.

“Ekself”, het ek elke keer geantwoord.

Die inspekteure het aangehou; “Jy lieg”.

“Bewys dit,” het ek hulle elke keer geantwoord, want dit was die ongeskrewe wet – jy split NOOIT op jou duiker nie.

Later die oggend is ek Caledon hof toe geneem en, omdat ek geen kriminele rekord gehad het nie, is ek op waarskuwing vrygelaat. Dit het nie gelyk of die landdros veel omgegee het oor wie die duiker was nie. Die saak is uitgestel tot April en uiteindelik het ek R9000 boete gekry, of nege maande tronkstraf, waarvan R6000 of ses maande opgeskort is vir 5 jaar. Die R3000 wat betaal moes word, het ‘n naamlose weldoener by my prokureur inbetaal. Die prokureur se onkostes is ook betaal.

Toe alles verby was, het ek besluit ek wil nie meer nie en dit was dit, tot vandag toe nog. Die vyf jaar van die opgeskorte vonnis is lankal verby en ek het ‘n rukkie terug aansoek gedoen om my naam skoon te laat maak en dit is toegestaan, aangesien die oortreding gekwalifiseer is as ‘petty crime’ met ‘n vonnis van minder as 1 jaar of R10 000. Ek lewe al lankal ‘n doodnormale, voorstedelike lewe, met die enigste opwinding ‘n lekker braai op ‘n Saterdagaand. Of een keer ‘n jaar drie cocktails en twee shooters😈

Wat het ek hierdeur en ook oor myself geleer?

Dat die inspekteure ook maar bang is, of omkoopbaar. Een dag, toe ons werklik net ‘n gewone duik gemaak het, het 6 kleurlinge met ‘n Ford Sierra, drie sakke perlemoen helder oordag uitgedra en onder die agterste sitplek van hul Sierra gebêre. Daarna het vier van hulle agter ingeklim. Ons was net agter hulle oppad uit, en net na die afdraaipad by Hangklip, het die inspekteure motors afgetrek en deursoek. Die Sierra was voor ons en die 4 kalante het bankvas agter gesit. Ons kon nie die gesprek met die inspekteur hoor nie, maar duidelik het hulle geen aanstaltes gemaak om uit te klim nie. Na ‘n minuut of wat, het die inspekteur teruggetree en hulle laat ry. Ons moes egter almal uitklim en ons motor is omtrent uitmekaar gehaal, sonder dat ons enige iets onwettigs by ons gehad het. Ons het stilgebly oor die Sierra se inhoud, maar dit het mens nogtans laat wonder.

Dat ek ‘n uitstekende sin vir rigting het, selfs in die donker. Ek het altyd vir my “mentally” bakens gemaak en sonder uitsondering elke keer reguit na die wegsteekplek geloop, al was dit hoe donker.

Dat ek nie ‘n bang mens is nie en dat ek senuwees van staal het – al stres ek in my daaglikse lewe myself soms dat my hare uitval. Maar as die poeding die waaier tref, bly ek kalm en treë ek koelkop op.

Dat ek gedoen het wat ek moes, toe ek moes, maar dat dit amper soos die weermag was – een van die beste tye in my lewe wat ek nooit weer oor wil hê nie.

En ten laaste – vandag werk ek in omgewingsbewaring. Ek is nie soos daai mense wat eers gerook het en nou ophou rook het en nou verdoem hulle alle rokers nie, maar ek weet ook nou dat ons as mens heeltemal te min doen om die aarde vir ons nageslag te bewaar. Ek regverdig niks wat ek destyds gedoen het nie, maar ten minste weet ek dat ek nie een keer ondermaat perlemoen uit die see gedra het nie. Dis ‘n skrale troos, maar darem.

Sal ek dit weer doen? Definitief nie nou nie. Maar ek is nie spyt oor destyds nie, omdat ek vir my kinders brood en soms selfs konfyt daardeur op die tafel kon sit. Ek kon seker ‘n tweede werk gekry het (of ek kon gaan ‘escort’ het😆 ), maar ek het nie. Ek het perlemoen gesmokkel. Dit is hoe dit was.

22 thoughts on “Pearly Days

  1. Is daar ‘n limiet wat ‘n ma vir haar kinders sal doen? Hats off to you Son =)

    If ever ek nou al ‘n broodjie wou breek saam met jou het hierdie skrywe my net meer oortuig dat ek moet !

  2. Dus waar Demoerin Sy is alles behalwe vervelig. Baie opwindende Storie. Soos ek lees kan ek nie wag om by die volgende paragraaf uit te kom nie want ek wil net weet wat het verder gebeur. Nice een Son!

  3. Ek onthou hoe pynlik dit vir my was toe ‘n hele kantoor-blok SFRI amptenare in Seepunt gearresteer was vir hul deelname in smokelary. Ek kon dit nie glo nie. Onthou jy op die radio hoe ek hulle nog verdedig het? Jisses en toe bars die bom onder my voete. Terloops, julle was nie die enigste mense waarvan ek bewus was wat gesmokkel het nie. Maar ek het nie gepraat nie, julle was my vriende.

    Ek is nie kwaad nie, my opinies oor die lewe en die heelal bly verander. En eintlik maak dit nie vir my saak of perlemoen uitsterf of nie.

    1. Ja Bileam, ‘n reis met meer geluk as wysheid😆 AS ek eendag kleinkinders het, kan ek darem vir hulle vertel van hul ouma se wilde jong dae😈

  4. Sjoe, jy het my nou vir ‘n oomblik laat verlang na die see en sy lewe onder die water maar dankie vir jou nice skrywe, jy vertel ‘n ding soos hy is.

  5. Unieke storie! Ons het maar almal een of ander tyd iets gedoen wat ons geweet het is nie reg nie, of was oningelig en vandag is ons nie op trots daarop nie. Jy is baie braaf om vandag soort van daarvoor verantwoordelikheid te neem!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s