Ongeklassifiseerd

Vervelig of doodgewoon?

Bileam se donkie vertel hoe vervelig is Bileam en toe gaan Maankind verder. Eerder as om laaaaang kommentaar by hulle te skryf oor hoe vervelig die Son kan wees (en soms is), skryf ek nou maar eerder hier op eie werf.

Eendag, lank lank gelede het ek ‘n inskrywing gemaak oor “Doodgewoon”, maar om my lewe te red kon ek dit nie vandag vind nie, dit het doodgewoon verdwyn😉

Daarin het ek geskryf dat ek eintlik nog my lewe lank doodgewoon is. In niks was ek regtig vrot sleg nie, maar ek het ook in niks uitgeblink nie. Op hoërskool het “hulle” gesê ek onderpresteer, want ek is verveeld. Maar “hulle” het ook niks gedoen om my te interesseer nie.

Ek het in matriek ‘n C-gemiddeld gehad – dis omtrent so gemiddeld as wat gemiddeld kan wees, al het ek darem ‘n A vir Afrikaans gehad. Ek het op laerskool atletiek medaljes gekry, maar op hoërskool die B-span gehaal in swem en netbal. Ek het gehou van sport, maar ek sou eerder gaan rugby kyk het as wat ek self aan sport deelgeneem het.

As daar daardie jare krieket vir meisies was, sou ek beslis daaraan deelgeneem het en as daar iets soos skyfskiet was, daaraan ook. Op die plaas was ek ‘n “mean” skut met my windbuks.

Dus, ek was nie ‘n akademiese reus nie en ook nie ‘n sportreus nie. Ek het darem tweede gekom in die landswye Junior Rapportryers Redenaarskompetisie – ek kon nog altyd ‘n swart kraai van sy nes af praat! En ek weet ek het my roeping gemis, ek moes eintlik ‘n advokaat (of politikus) geword het.

Ek was nie ‘n moelike tiener nie, het geen ‘posters’ teen my kamermure gehad nie, het wel na Uriah Heep en Jethro Tull geluister, maar het altyd my huiswerk gedoen en nie gerebelleer teen gesag nie.

Ek is nie beeldskoon nie, maar ek is ook darem nie te lelik nie. Nie te vet nie, maar beslis ook nie maer genoeg nie. Nie ryk nie, maar darem ook nie arm nie. Nie te kort nie, maar kort genoeg om gereeld iemand in die supermark te vra om vir my goed van die boonste rakke af te haal. Gewoonlik vra ek ‘n lang man en verkneuter my dan in sy vrou se suur gesig😈

Ek rook nie en ek drink baie selde en meer as een glas wyn maak dat daar so ‘n swaar man op my skouers kom sit. Ek was nog net twee keer in my lewe dronk – een keer omdat ek van spitefulgeit ‘n hele bottel KWV sherry uitgedrink het – dit het my 3 dae langs die toilet besorg. Die tweede keer op my 30ste verjaarsdag, toe ek en 2 vriende drie bottels Tequila uitgedrink het, terwyl ons ‘pool’ speel. In hierdie geval het ek myself dronk gedrink en toe weer nugter en ek het nog huis toe gery agterna. Snaaks genoeg het ek geen nagevolge van die Tequila oorgehou nie en is dit omtrent die enigste drank wat ek kan drink sonder om sleg te voel.

Ek was nog nooit nuuskierig oor dwelms nie en groepsdruk het my van skooldae af nooit gepla nie. Ek was juis stroomop – as die groep sus sê, dan het ek eerder só gemaak. Ek het wel een keer dagga gerook, maar dit het my so honger gemaak dat ek geweet het dis nie vir my nie, anders sou ek opeindig as ‘n vet daggaslaaf. Ek het ook eenkeer ‘n Ecstacy tablet probeer en ek wag nou nog vir die trip, so dit was SO nie die moeite werd nie. Ek hou nie van dronk mense en hul praatjies nie en gaan kuier gewoonlik by ander mense se huise, sodat ek kan huis toe gaan as die ‘party’ te rof na my sin raak.

Ek hou ook nie van in die stad bestuur nie, ek is heeltyd beangs dat iemand in my gaan vasry. Dis nie dat ek my bestuursvermoë onderskat nie, ek onderskat net al die ander bestuurders se vermoëns! Ek is niks bang vir spoed nie, maar ek het uit dure ondervinding (‘n gerolde Mazda op die N2) geleer dat jou motor GOEIE bande moet ophê as jy wil jaag.

Ek was nog nooit oorsee nie, maar darem al in Namibië.

So, wat is my “claims to fame” en wat se opwinding was daar al in my lewe: –

‘n Stud in my linkerwenkbrou

Vyf verstandtande

Ek ken mense in Hawston, het al (laaank gelede) perlemoen gesmokkel en in Kleinmond se selle geslaap vir ‘n nag.

Ek is nie bang vir die donker nie en het in my perlemoendae baie nagte stoksielalleen op verlate plekke geloop.

Ek het by Gouritsmond se brug ge-tandem-spring (dis soos bunji-jump, maar twee mense spring saam) – dis 65 meter

Ek wil nog:

Gaan valskerm spring

By Tsitsikamma gaan bunji-spring – dis 265 meter!

Die Camino gaan stap

Chile en Argentinië toe gaan

Vervelig? Dalk.

Doodgewoon? Beslis.

Maar ek is gelukkig met my vervelige, doodgewone self, dankie.

22 thoughts on “Vervelig of doodgewoon?

  1. Wow! Ek weet iets van die standaard van redenaars af en tweede landwyd krap jy nie onder elke bos uit nie. Dalk is jy nie so gemiddeld nie.. Dalk nie genoeg geglo in jou talente nie? Nooit te laat om te begin nie hoor!

    1. Anna – dis lekker dat jy hier kom inloer het! Ag, daai is lank gelede toe die wereld nog mooi en ek nog jonk was😉

      Ek is amper klaar met my LLB, al het dit my amper 10 jaar lank gevat! En dan, wie weet, staan my kop politiek toe. Dis dalk net ‘n droom, maar drome hou mens aan die gang.

  2. Ek like jou doodgewone lewe oor ‘n honderd! Net om naby DIE berg te bly maak dit al klaar meer as doodgewoon. :mrgreen: Eerlik nou, ek hou ook maar vreeslik baie van my doodgewone lewe. My hart sal gaan staan van te veel opwinding! 😆

  3. Ai tog. Almal kan ook nie so opwindende lewe soos opwindende ekke wil he nie. 😆

    Grappie…hoe opwindend kan ‘n Vrystater nou ook wees, huh? 😉

  4. Sommige mense se doodgewoon is ander mense se interessant. Solank die lewe geniet word, wie is “hulle” om te se dit is vervelig. Gaan doen die bungy – dit is ongelooflik!

    1. Toorts – dis soos almal sê, een se vervelig is dalk ‘n ander se interessant. Ek dink elkeen van ons het iets interessants wat ander nie het nie en dalk bewonder en ons beny!

  5. Die laaste sin sê alles! Ons het hierdie een lewe op hierdie planeet, en maak die beste van wat ons het, en as ‘n mens dit kan geniet en dankbaar kan wees, dan het niemand anders iets te sê oor hoe suksesvol ons lewe nou sou wees of nie sou wees nie.

      1. Ek het al, lank lank gelede, maar toe het ek dit meer as storie vertel. Ek dink ek sal (vir almal wat al intussen weer gevra het) dit in my volgende inskrywing in meer detail en werklikheid vertel🙂

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s