Die Lewe · Gedagtes · Musiek

RunXie en Lea

Dit was ‘n rowwe drie weke wat verby is. Ek wou al hieroor skryf, maar ek moes net eers bietjie afstand kry.

Vier jaar en vier maande gelede het ek (vir die tweede keer in my lewe) besluit om vir my ‘n nuwe motor te koop. Uit die boks uit, soos my pa altyd gesê het. Ek was net nie slim genoeg om seker te maak van al die slaggate nie en laat my toe ompraat deur ‘n slim verkoopsman om die kar op “residual” te koop. Dit beteken jou paaiement is effens laer, maar aan die einde van jou kooptermyn, is daar ‘n ballonbedrag oor, wat jy dan óf kontant moet aflos, óf herfinansier.

In vier jaar se tyd kan baie dinge gebeur wat jou lewe anders kan maak. Gedurende daardie vier jaar kan jy ‘n geloofsbesluit maak deur eerder werkloos te wees as om Johannesburg toe te verhuis. In vier jaar kan jy weet hoe dit voel om net-net deur te skraap elke maand, maar bitter dankbaar te wees dat jy weer ‘n goeie werk het. In vier jaar kan jy met jou naels klou aan jou een waardevolle besitting (al is dit eintlik die bank s’n), jou RunXie.

Ek is nie eintlik iemand wat karre name gee nie en my karre was nog altyd ‘n “hy”. Ek het ook nog nie baie van hulle in my leeftyd gehad nie – daar was drie Mazda 323’s en ek het omtrent elkeen 7 jaar gery. Die middelste een van die drie gerol en afgeskryf op die N2, een aand na werk. Elke kar was soos my kind – ek het lief geword vir hom, en lang trane gehuil as ek moes groet.

Met alle respek aan ander karre, die Run X was die mooiste kar wat ek nog ooit besit het. Die dag toe ek hom gaan koop het, wou ek eintlik ‘n Tazz gehad het, toe praat die verkoopsman my in ‘n Run X in. Ek was nooit spyt nie. Maar uiteindelik moes ek die waarheid in die gesig kyk. Einde September sou ek moes kies – verkoop of herfinansier. Ek het nie kans gesien vir nog twee jaar van kar skuld nie.

Dit was nie iets wat ek oornag besluit het nie. Dit was nagte se wroeg en somme maak, om maar net weer elke keer by dieselfde antwoord uit te kom. RunXie sou moes gaan. Uiteindelik het ‘n wonderlike verkoopsman (ja, daar is nog van hulle ook) by McCarthy Toyota in die Paarl vir my ‘n koper gekry, wat my die prys gegee het wat ek wou hê.

Ek het begin soek vir ander wiele en DIT was seker een van die mees traumatiese ondervindings. Hoe mense kan lieg en skelm wees as hulle ‘n tweedehandse kar aan jou wil afsmeer, is ‘n boek vol se skryf werd. Ek wou NIKS anders hê as ‘n ander Toyota nie, maar helaas, dit was my nie beskore nie. Soms gee die Here nie vir jou wat jy WIL hê nie, hy gee vir jou wat jy MOET hê.

En toe kry ek vir Lea.(Sy het gister CL geword – ek kon nie weer CJ kry nie, want ek bly mos nou in Stellenbosch, maar CL is ook okay)

Ja, dis ‘n “sy”-kar, dit het ek sommer aangevoel toe ek haar kry, en sy het ‘n naam. Sy is my Lea, want ek kon nie vir Ragel kry nie. Intussen begin ek al hoe meer besef dat Lea presies net is wat ek moes kry. Dat sy een van daardie gedienstige motors is wat nie ‘n einde het nie. Ek het haar vorige eienaar opgespoor, wat haar van “uit-die-boks-uit” af besit het. En dis regtig ‘n ou tannie en oom. Hulle het haar ook soos ‘n babatjie opgepas, al het hulle bietjie vergeet dat mens soms ‘n kar se skokbrekers moet vervang😆

My goeie vriend uit Kanada skryf hierdie vir my, terwyl ek so hartseer is oor RunXie:

Runxie is jy “gedoop”en so sal jy bly. “Opie” klink vir my te veel na ‘n “druggie” Die lewe is  maar soos ‘n boksgeveg sonder die reels. Onder die belt of agter die kop houe kom so sonder waarskuwing en soms as jy lê kom trap iemand nog op jou. Van skeidsregter is daar min te sien. Gelukkig kom meeste van ons vol kneusplekke weer op die voet en dan slinger ons voort totdat die harsingskudding opgeklaar het en die blou kolle eers geel word voor hulle permanent verdwyn. Dobbertjie sal hopenlik bybly. Hoop jou Opel bring jou veilig waar jy wil wees!!!!!”

(Ek is Dobbertjie, omdat ek weier dat die lewe my onderhou – dis ‘n naam wat iemand my lank terug gedoop het. En hierdie woorde het meer gehelp as wat enige trooswoorde sou kon.)

So ja, dis nou amper ‘n week wat ek Lea het en ek is nog nie lief vir haar nie, maar ek begin so stadigaan “bond” met haar en ek begin so stadigaan vertroue kry in haar en glo dat sy my veilig sal vat daar waar ek wil gaan. Oor twee naweke gaan ek haar inwy Karoo toe.

Vir RunXie het ek verlede Woensdagaand gegroet deur sommer net ‘n ent pad te gaan ry terwyl ek hierna luister en my huile huil.

Nou gaan die lewe aan en ek sê vir die Here dankie dat hy weereens my meetsnoere op die regte plekke laat val het.

11 thoughts on “RunXie en Lea

  1. Oor ‘n maand of wat is dit vir ons ook hierdie paadjie. gelukkig is dit eie keuses. Maar as jy intussen hoor van iemand wat ‘n spotless Corsa Lite soek, laat weet my,.

    1. Bileam, ek wou my klere skeur en as op my kop gooi oor daai sexy wittejie, maar ek is geleer mens staan op en jy maak ‘n nuwe plan. En ja, solank daar asem in my lyf is, sal ek spaar vir die dag wat ek weer ‘n kar van my HART kan ry🙂 Ten minste KAN ek nou weer spaar. Dankie vir die verstaan.

  2. Ek het so paar maande die teenoorgestelde oorgekom. Ek het ‘n jaar of wat terug ‘n 2ehandse voertuig gekoop en van dag een af net moeilikheid gehad. Ek was so verlig toe ek ontslae geraak het van die simpel ding, dis die swakste aankoop wat ek in my hele lewe gemaak het! Hoop jou Leatjie bring jou baie ver!

  3. Ons mans is oor die algemeen mos maar treurig as dit kom by emosies en sulke goete, maar daar is een ding wat ons baie goed verstaan en dit is die feit dat meganiese goed soos mouterkarre en enjins en so ook siele het. So glo my as ek sê ek voel jou pyn.
    Ons kapokkie-trokkie is nou in maand ses van sy herfinansieringsperiode, so ek weet van daai boereverneukery besigheid ook.
    Mag jy en Lea baie duisende gelukkige kilometers saam aflê, en as dit so bestem is sal jou paaie eendag weer kruis met ‘n Toy

    1. Ai PJ – dis omtrent boereverneukery soos jy sê, maar ek moes ook van beter geweet het. Wel, vir nou is dit ek en Lea – dit help nie ek huil verder nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s