Gedagtes

Saterdagoggend waarneminge

Ek sit in die Spur in Bellville, want ek wag vir Lea. Sy kry vanoggend nuwe skokbrekers, reg rondom. Die ou by Supa Quick het net sy kop geskud toe hy vir my vertel sy het nog haar oorspronklike skokbrekers. Na 161000 km! Arme Lea. G’n wonder ek het so half seesiek gevoel die twee dae wat ek haar al het nie. Maar toemaar, behalwe daarvoor is sy kerngesond en dis ook nie waaroor ek wil skryf nie.

Hier waar ek sit, kan ek DF Malan Hoerskool sien (maak asb die deelteken op die e, want ek skryf met die BBerry en kan nie nou nie). Dis vandag Interskole tussen hulle en Bellville. Die velde wemel van die mense en ek dink met heimwee terug toe ek ook op skool die flank van die eerste rugbyspan se meisie was. Naweke het bestaan uit langs die rugbyveld staan en skree tot my stem hees was. Ek en my beste vriendin. Haar ou was die haker.

Terwyl ek sit en mymer oor my cappucino, is dit skielik net testosteroon hier in my hoekie. Dis DF Malan se eerste rugbyspan en twee menere wat skielik die Spur vol staan. Hulle kom eers ontbyt eet voor hulle die veld gaan aandurf. Ek verkyk my letterlik aan die kinders. En soveel dinge gaan deur my kop.

Ek sien hoe hulle op hulle selfone tik (soos ek ook nou LOL!) en ek onthou hoe ons met tiekiebokse gebel het. Die een meneer soek ‘n pen, maar nie een van die seuns het een nie. Ek leen hom myne. Ek hou die seuns onderlangs dop. Nie een van hulle se baadjies het nie een of ander balkie op nie. Die een s’n het 4 balkies EN ‘n Sport en Akademie kenteken. En ek besef hier sit van ons jeug se room. Die heel boonste skeppie van die melkemmer. En ek kyk weer en iets anders tref my. En ek wil regtig nie ‘n issue hiervan maak nie, maar hulle is almal wit. Elke enkele een van hierdie rugbyspan is wit.

En ek wonder daaroor. Ek wonder ook of hierdie kinders besef hoe bevoorreg elkeen van hulle is. Ek wonder hoeveel van hulle gaan uiteindelik die stof van hierdie land van hul voete afskud. Ek wonder oor hulle ma’s en pa’s.

Dan kom ‘n ouerige vrou met ‘n maer, tingerige seuntjie met ‘n bril ingestap. Sy gaan sit oorkant my en so entjie weg van die ouens. Die seuntjie kyk met verlangende oe na die rugbyspelers. Die vrou is suurder as suur melk en vertel sommer dadelik vir die kelnerin die vorige keer was haar chips koud. Maar nee, sy wil niks bestel nie, net ontbyt vir die seuntjie.

Terwyl ek hier tik, het sy ontbyt gekom, maar sy ma het dadelik die bord nader getrek en alles opgesny, so asof hy ‘n baba is. Ek skat hom so 10 jaar. Hy het so effens gepik aan die kos en toe die bord oorgestoot na haar toe. Ek neem hom nie kwalik nie, sy sal selfs my eetlus laat verdwyn het.

Die arme kind. Ek glo nie sy sal hom ooit toelaat om rugby te speel nie. Ek dink hy kan gelukkig wees as hy al toegelaat word om homself aan te trek. Dalk moet ek meer simpatie met haar he, dalk is sy so oorbeskermd omdat sy hom laat in die lewe gehad het.

Nou het hier ‘n ou bleskop oom ingestap. Genade, maar mense kan mislik en onmoontlik wees. Daar is net een tafel agter my en dan die muur. Die hele res van die Spur is amper leeg. Maar Bleskop MOET nou hier agter my kom sit en maak ‘n groot hoe-ha oor die kinders se toksakke wat hier agter le. En net mooi het hulle almal hulle sakke geskuif, toe stap sy vrou ook in.

“Nee, ek sit nie hier nie, jy WEET ek kan nie met my rug teen ‘n muur sit nie.” En daar gaan hulle, na ‘n ander sitplek toe. Ai ai ai, g’n wonder ek hou soms meer van katte en standbeelde nie.

Wag, laat ek my koffie gaan betaal en gaan kyk of Lea nog okay is. Dan vat ek die pad, daar waar dit ver en sonder mense is!

17 thoughts on “Saterdagoggend waarneminge

  1. Hoop Lea sit nou mooi in die draaie! Dalk is daardie maer outjie die volgende Bill Gates, wat vir die rugbyspelers werk gee? Maar soos oom Desmond nou sê ons wittes moet betaal, wonder ek regtig of een van ons kinders nog later in hierdie mooie land gaan wil agterbly. Wanneer word die prys te veel?

    As jy wil huil oor ons land se mense, lees die Beeld se webwerf, en kyk na die kommentare onder elke artikel…

    So kom ons maak van die land ‘n beter plek…

    1. Ek het vandag Lea se oorspronklike familie opgespoor🙂 Was hulle nou bly om te hoor sy is in goeie hande. Ja wat, ek is seker simpel oor ‘n kar, maar myne het ook ‘n hart😉

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s