Gedagtes

My Hartland, my Berg, my Afrikanerskap

Ons Blog Prok😉 vra Wat maak JOU ‘n Afrikaner (al dan nie)?

Voor ek haar inskrywing gelees het, wou ek alreeds hieroor skryf, het die los gedagtes so in my kop rondomtalie gespeel, na ek Dinsdagaand vir Hartland gekyk het. So nou gaan ek dit probeer neerpen.

Almal wat my ken, in wese of in bloggees, weet ek het ‘n obsessie met my Berg – (lees Tafelberg). Min verstaan dit, want om mal te wees oor ‘n stuk klip, is dalk om mal te wees – punt. Ek sal dit probeer verduidelik.

Maar kom ons begin eers by Hartland. Hartland is ‘n nuwe drama op KykNet, geskryf deur Deon Opperman. Die storie sny op die been, eintlik veel dieper as die been. Dit fokus op alles wat Suid-Afrikaners elke dag saam met hulle ontpytpap moet konfronteer. Misdaad, plaasmoorde, immigrasie, wit Afrikaners wat voel hulle het hul plek in die Suid-Afrikaanse samelewing verloor. Is daar ‘n toekoms vir die (wit) Afrikaner aan die Suidpunt van Afrika? Dit gaan ook oor die sondes van die vaders en die rol van vergifnis.

In die drama: – Elna en Bertus bly in Kanada, maar kuier by haar ouers in SA. Dan moet hulle teruggaan en Elna wil nie. Bertus skop viervoet vas en dit kom uit dat hy nie eers hulle seun wil toelaat om Afrikaans in sy ouerhuis te praat nie, want as hy Afrikaans hoor, sien hy Zoeloes, sien hy bloed vloei, sien hy regstellende aksie. Maar Elna voel soos haar broer, as jy gebore is met Afrika se stof in jou longe, dan gaan jy dood met Afrika se stof in jou longe. Dan is Afrika al huis wat jy ooit ken en wil ken en dan gee jy nie om wat die anderskleurige Afrikaners van jou dink nie, want dis JOU huis ook. Jy kies om hier te bly, come hell or highwater, tot die dood jou skei van jou geboortegrond. Ons sal antwoord op jou roepstem, ons sal offer wat jy vra, ons sal lewe, ons sal sterwe, ons vir jou Suid-Afrika.

Kan ‘n mens werklik ‘n stuk grond, een spesifieke stukkie aarde, SO lief hê dat jy net geensins jou pad oopsien om jou wortels op te trek en elders te gaan verplant nie? Al weet jy dis gevaarlik om te bly, al weet jy dat jy dalk werklik die “ultimate” offer sal moet bring? Ja, die antwoord is ‘n duisend maal ja. Vir my, altans. En nee, ek oordeel niemand wat anders kies as ek nie, al sou ek wens om die Afrikaner Diaspora te kon omkeer.

En dit bring my by my Berg (en berge).

Simonsberg

Ek het aan die voet van die Simonsberg grootgeword en nou bly ek aan die anderkant van die Simonsberg. Tafelberg was altyd iewers op my horison. Toe gaan bly ek in die (ou) Transvaal, vir 12 jaar. Ek noem dit vandag nog my “temporary insanity” jare. En verstaan my asseblief reg – daar is WONDERLIKE mense in Transvaal, ek het steeds dierbare vriende daar bo, maar dit was nie MY wêreld nie. Dit was nie MY stukkie van Afrika nie. Ek was SIEK van verlange na die Berg en die see.

MY stukkie van Afrika lê tussen die Simonsberg en Tafelberg. Daar is mense wie se wortels jy nie kan verplant op 20 nie, en ook nie op 40 nie. Nooit nie, want hulle verlep, verdroog en hul siel gaan dood. Ek is een van daai mense.

So, hoe kan ek eers daaraan dink om myself te verplant na ‘n ander land, as ek nie eers kan verplant oor Du Toitskloof nie? Dis mos totaal ondenkbaar. Vir my. Ek weet ander mense dink en voel anders, maar hierdie gaan oor MY Afrikanerskap.

Dus, as die ANC more die Wes-Kaap moet oorvat, en die paaie raak vol slaggate en die elektrisiteit is onbetroubaar en die water is soms net weg uit die krane, sal ek steeds hier bly? Ja, ja en ja! Is ek dom-stiksiennig-onnosel? Dalk, heel moontlik. Gee ek om as enige een wat hier lees so dink? Nee! Hierdie is my geboorteland (ook), en ek is hier om te bly. Ek gun elke landsgenoot, wat ookal hul kleur, net soveel plek in die son soos vir myself. Let wel, nie minder as myself nie, maar beslis ook nie meer nie. Net soos wat die Bybel sê – jy moet jou naaste liefhê soos jouself – nie minder as jouself nie, maar ook nie meer nie – daai deel is baie belangrik! En ek sal aan elkeen die respek betoon wat hulle aan my betoon.

As enige van my (anderskleurige) landsgenote my nie hier wil hê nie, sal hulle my MOET vermoor, maar ek gaan terugbaklei. Ek gaan nie eerste baklei nie, maar ek gaan beslis terugbaklei.

My pa kom van die Oos-Kaap. Hy het Xhosa (en Engels) gepraat lank voor hy Afrikaans kon praat. Hy het op Mqanduli, naby Umtata, in die Transkei grootgeword. Op sy familiegrond. My pa se mense moes hulle familiegrond afstaan toe die ou regering besluit het om Transkei ‘n onafhanklike tuisland te maak. Dit was my familiegrond ook, so indirek het ek reeds my erfgrond afgestaan. Ek het my offer gebring. Ek gaan nie weer nie. Ek bly hier. Hier in die flanke van my twee Berge – my Tafelberg en my Simonsberg. Tot my as in die Suidooste wind wegwaai.

Ek is ‘n Afrikaner, Afrikaan, kind van Afrika, kind van Suid-Afrika, Afrikaanse. Kleur dit in soos jy wil. Noem dit wat jy wil. Ek is en bly ‘n Suid-Afrikaanse Burger.

9 thoughts on “My Hartland, my Berg, my Afrikanerskap

  1. Regso so sussie/seunie, ek stem saam; Afrikaner gebore en Afrikaner sal ek sterwe.
    Laat elkeen sy stukkie son geniet, maak nie saak kleur of ras.

    groetnis

  2. Ek verstaan die liefde so goed! Ek het ook ‘n jaarlikse afspraak met jou skelmpie, die 2e naweek van Maart. En dan slaan sy my baie hard! Maar ek bly lief vir haar. Ek wil so graag daar woon, maar dit het nog nie gebeur nie. As ek die dag aftree, sal ek weer ‘n keuse hê. Pas haar maar solank mooi op vir ons, waardeer en troetel haar, want sy verdien dit…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s