Die Lewe · Gedagtes

Kwasstrepe van die lewe

Maankind O Maankind! Jy het ‘n vloedgolf van onthou losgelaat. Lê ek gisteraand in die bad en dink aan hierdie opdrag van jou en ek onthou goed wat ek gedog het ek lankal vergeet het.

My sigbare kwasstrepe

Oor operasieletsels gaan ek nie lank uitwei nie – ek hou NIKS van mense wat jou vertel van hulle operasies en dan nog hulle rok / hemp oplig of broek aftrek om die gepaardgaande letsels te wys nie! Het ‘n blindederm-uitgehaal-operasie bewysstuk en twee keisers. Ek sal hiermee volstaan😉

Natuurlik is daar letsels wat deur die jare verdof of verdwyn het, dus kan mens nie naastenby alles onthou nie. Ek is ook gelukkig dat enige wond aan my gou genees en selde regtig ‘n permanente merk laat.

My knieë het kruis en dwars strepies op van fietsry / rolskaats / ysskaats en val. Ek moes menige kere stukkies grond en klippies uit my knieë grawe of stukkende knieë lawe en ek het die merke om dit te wys. Gelukkig is meeste net sulke dowwe wit strepies en moet mens naby kyk om dit mooi te kan sien.

Op beide my voorarms is duidelike littekens. Dit is waar ek (op twee verskillende kere, of dalk meer) deur ogiesdraad stukkend gehak is toe ek gaan druiwe steel het, as kind op die plaas. Ek is seker iewers op die agterkant van my boude lê ook ‘n paar sulke merke, maar ek kan hulle (gelukkig) nie sien nie.

Die enigste ander werklike duidelike letsel is regs agter op my rug, net onder my skouerblad. Ek was een aand in ‘n kuierplek in Pretoria, so 18 jaar gelede. Daar het ‘n geveg uitgebreek (niks met ons te doen gehad nie) en in ons haas om uit die geharwar te kom, was ek op die verkeerde oomblik op die verkeerde plek en is skrams raakgesteek deur ‘n mes. Ons is inderhaas daar weg en ek het die volgende dag teruggevlieg Kaap toe, met net ‘n pleister op die wond geplak. Dit het egter ontsteek en ‘n knop veroorsaak wat toe moes uitgesny word. Dus, ‘n letsel wat ek kon gespaar gebly het.

O ja, dan kan mens ook sien, as jy mooi kyk, dat ek ‘n redelike stukkie van my linkerduim se kop oopgesny het met een van daai outydse broodsny masjiene, een waarvan jy die handvatsel draai terwyl jy met jou ander hand die brood by die draaiende lem deurstoot. Wel, my duim was so effens in die pad!

Op my vingers is fyn letsels van raaksny met ‘n mes of brand op ‘n stoofplaat, maar ek ken nie regtig onthou hoe, waar en wanneer elkeen gebeur het nie.

Onsigbare kwasstrepe

Ek het nog nooit in my lewe ‘n been gebreek nie, maar 25 jaar gelede het ek ‘n beentjie in my linkervoet, tussen my kleintoontjie en die toon langs hom, gekraak toe ek gespring en skeefgetrap het. Ek moes gips dra vir ses weke, maar het dit afgehaal na ‘n week, want ek het gaan vakansie hou in Durban (ek onthou die tydperk so goed want dis die laaste keer wat ek in Durban was). Daardie bleddie beentjie in my voet gee my vandag nog hel, veral as ek toe skoene of nouerige skoene dra. Dan moet ek my voet vat en hom wikkel om die beentjie weer reg te skuif!

En ook meer as twee hande vol jare gelede het ek by ‘n vriendin in Benoni gekuier, selfoon oproep beantwoord en buite om die swembad gaan loop en praat. Op ‘n boomstomp geklim wat daar lê terwyl ek gesels en op en af geloop en toe tiep die boomstomp en gooi my af. Gekeer met my linkerarm en my elmboog ge”dislocate”. Arme persoon aan die anderkant van die selfoon se ore toegeskreeu. Vriendin jaag toe met my na die naaste hospitaal – eerste keer in my lewe wat ‘n swart dokter my behandel en ek was omtrent horries bang (het mos in elk geval ‘n hospitaal fobie). Maar hy was baie goed en het baie mooi gewerk met my arm, al het dit 3 pethidine inspuitings en 4 verpleegsters, saam met die dokter, gekos om die elmboog weer op sy plek te sit. Na al die jare weet ek as die koue kom. My elmboog laat weet my.

Behalwe hierdie kwasstrepe, het ek twee kenmerke (eintlik tekorte) aan my lyf wat bitter min ander mense het. Om die waarheid te sê het ek nog nie van ander mense gehoor wat dit ook (nie) het nie. Aan die binnekant van mens se enkels, (en aan die buitekant) maak jou enkel mos ‘n knoppie. Wel, ek het nie knoppies aan die binnekant van my bene (enkels) nie – net duikies. En ek het ook nie belletjies aan my ore se onderkant nie – dit loop net reguit teen my kop vas. Weird ja, ek is al so vertel.

Dit dan wat letsels / merke betref. Letsels op die hart sal nie ‘n inskrywing kan wees nie, meer soos ‘n boek, so ons los daai maar😈

Ek tag vir

Maryke en vir Murphy om die fakkel voort te dra😉

12 thoughts on “Kwasstrepe van die lewe

      1. Uhm…toemaar, ek het so pas my eie stukkie huiswerk ingegee, en ek het vir myself geskrik! 😯

  1. Dankie! Noudat jy dit vertel, herinner dit my ook aan ‘n keer wat ek met my skouer in ‘n muur vasgehardloop het, en ‘n beentjie gekraak het. Maar ek kan nie daaroor praat nie, want dit was soort van verkeerde tyd verkeerde plek…

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s