Ek sit buite, met toe oe, my gesig gedraai na die son, soos ‘n plant wat net gedy in sonskyn. Soos ‘n spons suig ek die laatmiddag sonstrale op in my lyf. ‘n Warm behaaglikheid sit in my binnekant. Vir die volgende paar dae is daar mooi weer belowe en dis vir my soos Kersfees in Julie. Ek voel reeds die nag byt wat aankom, maar ek trek saam met die son om die huis.
Onder in die vallei druis die verkeer, almal oppad van erens af op hierdie mooie wintersdag. Dan hoor ek hulle, lank voor ek hulle kan sien. Sirenes, in stereo. Ek staan op. Dan sien ek hulle. Polisie, ambulans, “Jaws of Life”.
Iewers, erens het iemand se sonskyn verander in seer en pyn. Om op so ‘n mooi dag te moet seerkry is amper heiligskennis. Ek weet nie waar nie, ek weet nie wie nie, maar ek maak my oe vir ‘n oomblik toe en stuur genade vir die onbekendes.
Dis skielik nie meer warm nie.
Dis sad, ek het soortgelyke gedagtes gehad die dag by die hospitaal toe Lisa gebore is… ek is daar vir vreugde, maar soveel gesigte daar was vir pyn en hartseer.
En daar is nie veel wat mens daaraan kan doen eers nie.
Geniet die lewe, en gee om vir ander- twee goeie eienskappe om saam met jou te dra!
Dis so bitter hartseer.
Ag, dis vir my ook erg. 😦
Dit IS nog warm. jou hart maak dit nog warm.