Die Lewe

Gekkeparadys

Plaasjuppie skryf hier ‘n storie wat aan elke Suid-Afrikaner se murgbeen behoort te raak. Ek het al ‘n paar keer oor my politieke sentimente geskryf / probeer skryf, maar ek is maar altyd versigtigerig (vieslike woord), want dis ‘n sensitiewe onderwerp, veral deesdae met die Julius Dilemmas en die General Steve’s.

Ek wonder of Tannie Emsie van die etiket-brigade dit gesê het, maar dis nie goeie etiket om met jou vriende / vyande oor godsdiens, seks of politiek te praat nie. Wel W-T-F! Wat bly nou eintlik oor, veral in Suid-Afrika?

Sport? Dan praat ek eerder oor seks. Make love, NOT War – met ‘n Blou Bul en ‘n Stormer in een huis😆

Maar wag, ek dwaal af.

Iemand het vandag vir my gesê… as iets nie jou hart laat sing nie, los dit, want anders mors jy jou tyd. Laat my land nog my hart sing? Ja, ja en nogmaals ja. Ek wil nêrens anders bly nie, ek wil nêrens anders doodgaan nie. Met my assies wat eendag in Mosselbaai rond swem.

Het ek al misdaad aan eie bas gevoel? Ja, ek het. Nie geweld nie, maar wel my goed wat gesteel is. ‘n Paar jaar terug is daar ook, by ‘n robot een aand laat, ‘n rewolwer teen my man se kop gedruk (hy ry mos met sy ruit oop as hy rook). Al wat hulle gevat het, was sy beursie, selfoon en GPS. Want hulle was te jonk om die motor te steel, maar darem slim genoeg om die sleutels uit te trek en weg te smyt, sodat hy nie gou hulp kon gaan soek nie. Dit was hectic, maar hier is ons nog.

Wat sal ek maak as een van my mense vermoor word? Ek sal kwaad wees, ek sal treur, ek sal dalk wraakplanne beraam, maar ek weet dat ek uiteindelik sal glo dit was ‘n Hoër hand se wil (en asb – ek wil nie nou ‘n klomp ongelowiges se debat hieroor hoor nie – los my dat ek glo – dink julle wat julle wil – en ek dink veral hier aan jou, Andrew!)

Wat is my punt? My punt is…

Ek wil niemand haat nie, maak nie saak wat hulle kleur is nie. Ek wil ook nie hê enige iemand moet my haat nie (behalwe my skoonma dalk, maar dis okay) . Ek wil nie vir Steve aanhang omdat hy glo hy is die volgende Generaal De La Rey wat die Boere gaan lei nie. Ek wil nie vir Malema doodwens nie (ek sukkel met hierdie ene). Ek wil nie dink alle swartmense is onnosel nie – ek ken ‘n paar wat baie slimmer is as party witmense wat ek ken – moenie my vir name vra nie (van die wit mense, bedoel ek – party is familie).

Ek wil nie by braaivleisvure staan en hoor hoe swartgallig praat almal van ons land nie, dit terwyl hulle boepens gedrink en geëet staan, so dit kan wragtig nie te sleg gaan met hulle nie. Ja, ek weet hulle werk vir hulle geld, ek sê maar net. Dit gaan nog nie sleg met jou as jou pens oor jou broek hang en jy elke naweek braai nie. En drink nie.

Ek wil nie my geloof verloor in my land en sy mense nie.

Ek wil nog glo in die goedheid van ons mense, wit, bruin, geel en swart (en enige ander kleur wat ek dalk uitgelaat het). Want daar IS nog meer goeie mense in hierdie land as wat daar slegte mense is. Daar is miskien misleide mense, maar dit beteken nie hulle is sleg nie. Dalk, as jy jare en jare jou menswaardigheid verloor het oor een groep mense gedink het jy is niks werd oor jou velkleur nie, sou jy ook vandag kon mislei word deur valse profete (lees Malema hier).

Wat is die oplossing? Eerlik, ek weet nie. Wat ek wel weet, is dat ek dan maar sal voort leef in my La-La-land, waar ek nog glo meeste mense is goed en eendag gaan dinge in ons land weer regkom. Even if it kills me😈

Dalk is ek ‘n gek, maar dis ook maar okay. Daar is vir mense soos ek ook ‘n paradys😉

14 thoughts on “Gekkeparadys

  1. Sjoe, Son! Ek is SO dankbaar ek het hierdie post gelees. Dankie! Ek voel ook nes jy! Ek weet nie wat die toekoms inhou nie, maar ek weet WIE die toekoms in Sy hand hou. Ek sal eerder in Hom glo, as in ‘n grootbek, wat miskien die massas om die bos kan lei.

  2. Baie goed geskryf. Ek het vir ‘n tyd lank in die Suidweste van Israel gebly op ‘n Kibbutz (Kibbutz Kfar Aza) , naby Sderot. Daar is ons opgepas deur Israeliese soldate asook tenks in die landerye. Een van die gebeurtenisse wat my vir altyd sal by bly is die aand toe ek in ‘n bomskuiling geslaap het terwyl die Israeliese lugmag teikens in die Gaza Strook gebombardeer het (2 km van my Kibbutz af)…. Daar is plekke in die wêreld waar dit erger gaan as in Suid-Afrika. SA sal altyd my tuiste bly ten spyte van alles….

  3. – los my dat ek glo – dink julle wat julle wil –

    Hahaha,’n lekker voorbehoedende beweging!😆

    Ek glo saam met jou dat meeste mense goed is. Op wortelvlak, wanner ons een tot een staan, is normale mense se nering om te help, om die goeie ding te doen. Dis die f6553n politikuste wat die jakkalse en hiënas is, soos Plasie vertel het.

  4. Ek was nou ‘n maand land-uit gewees. En daar is verskriklik baie goeie goed om oor opgewonde te wees oor ons land en sy mense. Daar is enkele dinge wat ek regtig ook nie gemis het nie, soos die vlakke van vrees waarmee ons begin lewe het, en minibus taxi’s in Lynnwoodweg…

    Maar dankie vir ‘n uitstekende blog!

  5. Ek dink plaasjuppie het gelyk. Daar is nie ‘n reg of verkeerd nie. Ek dink elkeen se besluit is persoonlik. Sommige mense kan met sekere dinge saamleef, ander kan nie. Nog steeds dink ek Michael Fridjhon som dit goed op, maar sal verder kommentaar daarop lewer op my blog.

  6. Dan bly ek maar saam met jou in lalaland – no problem. Hierdie land is in my bloed, no matter what – en niks of niemand gaan my hieruit verdryf nie. En bygesê, ons land se probleme is nie veel groter as enige ander een nie.

  7. Die ding van Godsdiens, Seks en Politiek is dat daar nie ‘n reg en verkeerd is nie, en boonop kan ‘n opinie van dag tot dag wissel, net soos Maankind en Murphs hierbo verduidelik. Aanvaarding vandag, optimisme more en wanhoop die dag daarna.
    As ek die uitgangspunt gebruik van niemand is ooit totaal verkeerd of totaal reg nie, en ek respekteer die standpunt alhoewel ek nie daarvan of van die ou wat dit lewer hou nie, en daar is genoeg ander mense wat dieselfde doen, dan glo ek ons sal OK wees.

  8. Partykeer voel ek ek kan skree ten hemele oor ons land se situasie, ander kere dink ek, as ek net dit wat ek doen, na die beste van my vermoë doen en niemand pla nie, sal alles okay wees.
    My grootste kritiek met die afgelope munisipale verkiesing was dat nie een van die partye die werklike probleem – werkskepping – aangespreek het nie. As mense kan werk, hulself klee, huisves en voed, sal misdaad baie afneem. Maar die regeerders stel meer daarin belang om hulle eie beursies te vul.

  9. Al wat ons gaan red is opleiding en opvoeding. Niks anders nie. Meeste mense met niks gee nie om as jy ook niks het nie. Dit is Malema se constituency.
    Ons moet ‘n manier kry om massas mense in diens te neem, massas mense te keer om kinders te he en massas mense op te lei.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s