Die Lewe · Gedagtes

Om NIE maer te wees nie

Lank, lank, laaank, baie lank gelede het ek vir Eelt belowe om te skryf oor “om nie maer te wees nie”. Eelt is nogal ‘n kontroversiële outjie, met al die kaal vrouens op sy blog, so moenie daar gaan kyk as jy nie ‘n sterk hart het nie😉

Elk geval, ek kom altyd my beloftes na, al vat sommiges soms baie langer as ander. Die ding is, ek het hierdie inskrywing seker al 20 keer begin en dan los ek weer, want dis weer een van daai – waar mens die masker ongemaklik ver moet afhaal.

Vandat ek maar regtig ordentlik kan onthou, was gewig ‘n issue in my lewe. Mens kan dit inkleur met al die kleure van die reënboog, maar die bottom line is, mense oordeel jou (gewoonlik) aan hoe jy lyk. En as daardie lyk nie maer is nie – nevermind hoe mooi jou hare lyk, hoe versorg jou hande en voete is, hoe mooi jy aangetrek is – dan word jy amper sonder uitsondering geweeg en te lig (te swaar!) bevind – “pardon the pun”.

Ek kom uit ‘n familie van swaargewigte. My pa was op sy dag ‘n reus van amper 300 pond en my ma het self op haar dag ‘n keer of wat ‘n nommer 42 langbroek gedra. Vandag is hulle albei klein en maer mensies. Ons verloor blykbaar ons “babavet” in die tweede helfte van ons lewe. Groot troos daai ene👿

Dus, vetselle, te veel van hulle, is waarskynlik in ons gene, maar my ouers het hulle nie veel daaraan gesteur nie. Aan tafel mag ons nie opgestaan het voor jou bord nie leeg geëet is nie. My ma se geliefkoosde sêding was: “Julle kan nie so met kos mors nie. Dink net aan al die kindertjies in Afrika wat nie kos het om te eet nie.”

Die sinvolste ding wat my suster eendag vir haar hierop geantwoord het, was: “Maar nou gee dan hierdie kos vir al daai arme honger kindertjies.” Nodeloos om te vertel dat haar antwoord nie goed afgegaan het nie. Dit was in die tyd wat kinders nie teëgepraat het nie!

Ons was darem geseën dat ons nie vet EN lelik was nie. Maar baie dae sou ek baie maklik geruil het, om eerder lelik maar mooi gebou en maer te kon wees. Net ‘n ander oorgewig persoon sal verstaan watter stryd mens jou lewe lank stry as jy van kindsbeen af oorgewig is. Mens werk driedubbeld so hard aan die ander dele van jouself.

Vroeg-vroeg in my lewe het ek ‘n eed gesweer dat ek sal sorg dat my eie kinders NOOIT oorgewig is nie, dat ek hulle NOOIT sal dwing om ‘n bord leeg te eet nie en dat ek hulle van kleins af sal dophou en sal keer, voor gewig ‘n probleem word. Ek het daardie eed nagekom, maar is gelukkig ook daarin gehelp deurdat hulle hul pa se gene geërf het. Een goeie ding wat hy darem vir hulle gegee het! Hulle kan albei eet totdat hulle omval en nie ‘n gram gewig optel nie, terwyl ek net vir ‘n kwart van die kos sal kyk en voel hoe plak dit aan my heupe vas.

Selfs vandag nog word ek bitter kwaad as ek ‘n ma sien loop met oorgewig kinders. Vir my grens dit aan kindermishandeling. Geen kind word vet gebore nie en dis ‘n ouer se plig om ‘n kind gesonde eetgewoontes te leer. Kos is nie daar om te troos nie en jy doen jou kind geen guns om hom/haar daarmee vol te prop nie.

Jy kan die slimste in jou klas wees, jy kan hoe mooi wees, jy kan oulik en “witty” wees, jy kan die beste persoonlikheid hê, maar jy meet jouself altyd, maar ALTYD aan een ding – jy is nie maer genoeg nie. Ja, vandag weet ek dis totaal fucked up, maar dit het jare en jare gevat om te weet ek is meer werd as ‘n syfer op ‘n badkamerskaal.

Ek was altyd lief vir eet – dis soos om te erken ek is ‘n alkoholis. Ongelukkig is metabolisme iets wat uitgedeel is terwyl ek in die ry vir sjokolade gestaan het. En mooi bene ook. Weereens het my suster dit perfek opgesom: “Ag fok jong, ons sal eendag dun bene hê as ons 2 kilogram weeg!” Fat chance!

Soos alle ander oorgewig mense, het ek maer jare, vet jare, maerder en vetter jare, beleef. Met toepaslike klerekaste. Dis ‘n ewige wipplank wat net die wat hom al gery het, sal verstaan.

Daar is ook ‘n paar mites oor oorgewig mense wat ek graag in die mis wil sien verdwyn.

Ons is nie lui, soos wat baie mense dink nie. Baie oorgewig mense wat ek al ontmoet het en leer ken het, is van die hardste en toegewydste werkers denkbaar.

Ons eet nie almal bakke en bakke kos op soos varke nie, soms eet ons nie eers die helfte van wat party maer mense eet nie, maar ons moet harder oefen om daardie kos in energie om te sit.

Ons hou ook van mooi aantrek en om onsself goed te versorg. Nie alle oorgewig mense is slonse nie. Maar die mense wat klere vervaardig, het baie jare lank van groter figure vergeet.

Daar is ook al teen my gediskrimineer oor my gewig. Jare gelede (in die 1980’s) het ek ‘n pos as advertensie verteenwoordiger gekry by Die Burger. Ek was in die wolke, want ek wou nog altyd by ‘n koerant werk, maak nie saak as wat nie. Die eerste dag het my senior my ingeroep en vertel dat ek die pos gekry het, maar dat daar ‘n voorwaarde is – ek moes binne my 6 maande proeftydperk ten minste 10 kilogram gewig verloor. Ek was so verneder, maar het ingestem. Elke dag wat ek daar gewerk het, was vir my ‘n marteling, met daardie swaard oor my kop. Na 4 maande het ek ‘n ander werksaanbod gekry, waarvan ek baie minder gehou het, maar ek het my goed gevat en geloop. Vandag sal geen werkgewer wegkom met so iets nie.

Oor die sielkundige uitwerking wat oorgewig op ‘n mens het, kan ek dalk maklik ‘n boek skryf. Dit het ook ‘n uitwerking op die keuses wat mens in jou lewe maak, soms self om die verkeerde mans te kies. En nou kan iemand baie maklik hier vra: “Maar as dit jou so gepla het, hoekom het jy nie net op ‘n dieet gegaan en maer gebly nie?”

Net iemand wat al die pad gestap het, sal weet dis nie so maklik nie. Dis soos om ‘n alkoholis te wees. Alle ander mense kan drink en sosiaal verkeer, maar jy weet vir altyd jy kan nie jou mond aan drank sit nie, want dan is jy in jou maai.

Gaan na enige plek toe waar mense kuier en daar is kos en drank. Voor jy enige iets in jou mond steek, moet jy daaroor dink. Selfs oor dit wat jy drink, want drank maak ook vet. En soms raak mens net gatvol en wil jy ook net eet omdat dit vir jou lekker is. En more betaal jy daarvoor, tensy jy huis toe draf van die partytjie af, of die volgende dag heeldag in die gym deurbring.

As jy ‘n alkoholis is, kry mense jou nog jammer. As jy ‘n dwelmslaaf is, wat gerehabiliteer het, of in rehabilitasie is, praat mense jou moed in. Maar as jy van kos hou en dik is, dink mense bloot jy is fucked-up, lui en sonder wilskrag. Dis hoe dit is. That’s the way the cookies crumble.

Dit het my jare gevat om vrede met my lyf te maak. Maer jare en vet jare. Vandag baklei ek nie meer met kos nie. Maar kos het sy bekoring vir my verloor – dis die hartseerste van alles eintlik. Ek is nog versot op sjokolade, maar wat kos betref, gee ek nie meer regtig om wat ek eet nie. Ek sal baie maklik, as ek alleen is, vir dae aaneen net Cream Crackers eet, dalk met ‘n stukkie kaas op.

Soms blaai ek deur my resepte boeke en kyk na al die lekker goed. Ek kyk Roer op TV en sien hoe mense dit geniet om kos te maak en te eet en ek voel soos ‘n gerehabiliteerde alkoholis wat na ‘n drank advertensie kyk – ek weet ek kan kyk, maar ek weet ek moet mooi dink voor ek vat.

Die afgelope 6 maande het ek sonder veel moeite meer as 10 kilogram verloor, so een troos is ek gaan nie eendag oud EN vet wees nie😆

Daar is definitief mans, soos Eelt, wat van “ronder” vrouens hou, maar aan die einde van die dag moet ‘n vrou van haarself hou, van dit wat sy sien as sy in die spieël kyk. Om ‘n gewigsprobleem te hê en jou beste daaraan te doen en verder vrede met jouself te maak – dis ‘n lang pad om te stap, een waar mens soms nooit by die einde uitkom nie.

As jy volgende keer in die straat loop en ‘n oorgewig vrou sien (en ek sê spesifiek nie man nie, want ongelukkig geld daar ook jare reeds ‘n ander stel reëls vir vet mans as vir vet vrouens), moenie sommer net dink “sies, kyk hoe lyk sy” nie. Jy weet nie wat in haar kop en hart aangaan nie.

21 thoughts on “Om NIE maer te wees nie

  1. Ek het so lekker gelees, dankie! Ek wou ook altyd kieriebeentjies gehad het soos die loopplank waifs en het in die laat 90’s ophou eet en op die gewig van ‘n swaar pampoen gedraai. Geen energie, permanent siek en dis ‘n nare gesig. Vandag is daar ander dinge wat baie belangriker is as die uiterlike, die lewe is te kort. Die hart is al wat tel, nie die “cover” nie.

    My oudste broer het my altyd gedreig met die honger kindertjies langs die Ganges-rivier as ek nie my groente wou eet nie, totdat ek vir hom gesê het hulle hou van rys, en nie blomkool nie.🙂

  2. Ek is ‘n dun grootmens omdat ek ‘n dik tiener was – en nooit weer wil wees nie. En ek het , na jare van ‘nie weet hoekom ek so moet suffer nie’ besef my dissipline t o v te veel eet is maar net soos enige ander ou wat te veel rook / drink / oefen / smag/ ens..

  3. Ek is self ook maar dik en ongeskik – gelukkig te lank om vir ‘n vullisblik aangesien te word. :mrgreen:

    Ek was nooit in my lewe maer gewees nie. Daar was ‘n tyd wat ek nogal ‘n redelike rowwe oefenprogram gehad het en toe seker op my maerste was, maar selfs toe was ek ver van maer af gewees. Ja, ek is ook lief vir kos, maar selfs toe was ek steeds dik. (Die oefening was my lewenstyl op daardie tyd gewees, ek het dit vir die lekker gedoen).

    My grootste sonde is seker dat ek weet ek is dik, maar te sleg is om iets daaraan te doen. So ja, ek voldoen seker aan die stereotipe.

  4. Skryf jy nou hierdie so uit my hart uit, ek sukkel ook om vrede te maak met my lyf. Maar wat regtig scary is, is my twee tieners wat mooi en maer is, maar wat steeds vir mekaar sal vra of hulle vet lyk in seker klere voor hulle uitgaan.

  5. Son, ek sukkel my lewe lank met daardie eksta 5kg. Ek is nie regteig vet of oorgewig nie, maar dra ‘n paar ekstra kg. Maar LIKE HELL gaan ek die res van my lewe honger loop. Ons eet baie gesond, en matig. My gewig is konstant, maar so 5kg meer as wat dit seker moet.

  6. Ek is ‘n vet mens. Ek kan dit immers nie wegsteek nie.
    Ek is meestal self verantwoordelik vir my toestand. Ek kan dit nie ontken nie.

    Om daardie rede kan ek niemand regtig kwalik neem wat neersien op my toestand nie, elke mens is seker maar geregtig om te gril, te dink en sê waarvoor en wat hy/sy wil. Wat ander sê en dink is immers buite my beheer.

    Wat wel binne my beheer is, is om te verhoed dat daai kwetswoorde houvas kry op dit wie ek is en te werk aan die struikelblokke wat ek moet oorkom teen ‘n pas wat vir my geskik is. Miskien kry ek dit reg, miskien nie. In 10 of 20 of 50 jaar kan ek die lyf weggooi, maar my siel moet saam met my gaan.

    1. PJ – ek het jou al gesien en jy is net lekker cuddly!🙂 Maar die belangrikste van jou kommentaar is daai laaste ses woord – my siel moet saam met my gaan. Die mooiste mense was al vir my die lelikste oor daar geen siel in hulle is nie. Maar jy en Krista – You HAVE SOUL!!!

  7. Dankie vir ‘n kykie. Ek dink die meeste van ons vrouens sukkel met dit. Die grootste euwel is natuurlik die feit dat ons daagliks toegegooi word in die media met wat aanvaarbaar is en wat nie, en as ‘n mens aanoudend genoeg hoor jy moet so en so lyk, glo jy dit later.

    1. Dalk sal die Botticelli tyd eendag weer terugkom😉 Hy’s mos die ou wat ronde vrouens geskilder het, dan nie?😆 Dan is dit weer mode om meer lyf te hê!

  8. Son, ek is bly jy het jou belofte
    nagekom,en oor al die mites oor vet
    mense wat jy die nek inslaan. Jou
    voorbeeld van wat met jou gebeur
    het in die werkplek maak my
    woedend hoor, maar dis ongelukkig
    ook baie tipies, dalk net meer subtiel
    deesdae.

    Ek wou al die pad met jou
    saamgestem het, maar ek kan nie.
    Baie van wat jy skryf is wat jy vir
    jouself ingesien het dat die
    samelewing se sienings oor vet
    verkeerd en skadelik is. Maar party
    goed aanvaar jy nog steeds, en ek
    wonder hoekom so? Soos dat as jy
    “toelaat” dat jou kinders vet word, dit
    soos kindermishandeling is. Ek dink
    as jy aanvaar dat vet grootliks
    geneties is, moet jy aanvaar dat party
    kinders gaan vet wees. Die
    mishandeling kom van die
    samelewing se kant af, nie van die
    ouers wat lief is vir daardie kinders
    nie! So wat is dit wat moet
    verander? Die samelewing, dis wat.

    En die vergelyking met alkoholisme
    kan nie reg wees nie! Om te eet is
    deel van die lewe, ‘n
    noodsaaklikheid. Alkoholiese drank is
    nie. Soos jy self sê, party mense kan “eet totdat hulle omval en nie ‘n gram gewig optel nie” (ek is so een). Hoekom word ons eetgewoontes
    nie met alkoholisme vergelyk nie?

    Ek is bly oor die mate waartoe jy jou
    gewig aanvaar het. Eintlik is dit nie
    nodig om dit te sien as ‘n kruis wat jy
    moet dra en aanvaar nie, want jy is
    asemrowend mooi, en behoort dit net
    te geniet.

    1. Eelt – ek het geweet jy gaan nie 100% met my saamstem nie😉 Maar ek moes eerlik uit my eie ervaring en gevoelens skryf. Vet is soms geneties ja, maar as mens dit weet, dan kan jy voorsorg tref en ten minste keer dat jou kinders nie ernstig obese raak nie, want dit sal HULLE die hartseer van spot en verweping spaar. Die mensdom IS en bly wreed. Daar is ander geneteise, oorerflike siektes ook, maar ons los nie kinders wat dit erf net so nie, ons behandel dit. Dieselfde dan met vetsug.

      En baie dankie vir jou mooi kompliment in die laaste sin van jou kommentaar😳

  9. Pingback: Vet cutie « Eelt
  10. Baie eerlike inskrywing. Ek lig my hoed vir jou! Ek sal graag net ‘n onderskeid wil tref tussen vet (obese) en oorgewig. Dus, as jy so skryf, praat jy van vet (soos in geen enkels, kniee nie en jy weeg 250kg) of bloot oorgewig (dws jy weeg meer as wat jy veronderstel is om te weeg vir jou beenstruktuur en lengte)? Ek se hierdie met spesifieke verwysing na jou laaste paragraaf. Miskien kloof ek hare, maar waar oorgewig nie goed vir jou gesondheid is nie, is vet baie gevaarlik vir jou gesondheid. Oorgewig kan ook meestal nie as siekte/verslawing beskou word nie, maar vet baie keer wel. Sal graag jou kommentaar wil hoor.

    1. BiB – trust jou om my so ‘n vraag te vra😆 Okay, ek moet nou baie mooi oor my antwoord dink. Ek dink dat daar ‘n stadium kom in vet wees wat mens regtig moet besef nou raak dit gevaarlik vir jouself en dan moet jy iets daadwerkliks daaraan doen. Maar ek dink dat sommige mense op daardie punt dalk al so moedeloos is met hulle self dat hulle dit bloot net ignoreer en so voortleef en natuurlik is dit verkeerd. Ek dank die Vader dat ek nooit tot daardie mate oorgewig was nie en ek kan my ook nie indink hoe sulke mense moet voel nie. Ek weet net hoe ellendig ekself voel oor 10 of 15 kg oorgewig, wat nog van 50 of 60 kg.

  11. Ek dink maar net ek was gelukkig. Ons het as hegte familie aan my ma se kant grootgeword, en is almal van ooms en tannies tot niggies en nefies nog steeds close. En kyk, as jy nou ‘n sirkus van lank en kort, en vet en maer, en gegoed en arm wil sien, is dit ons klomp saam. Maar ons het so saam grootgeword en ek dink dit het die boustene gevorm van dit gaan nie oor die uiterlike nie, maar die mens. Solank as wat jy bad en tandeborsel sal ek die moeite doen om jou te leer ken – ongeag van hoe jy uiterlik lyk.
    Dit is nie in ‘n kind se boustene om te diskrimineer nie, hulle tel dit by hulle ouers op. En word dan volwassenes wat diskrimineer, en hulle kinders leer dieselfde gewoonte aan. Ek het mos nou al gehoor watter snedige aanmerkings sekere mammas by die skool ondermekaar oor ander maak – dit is net natuurlik dat hul kinders dit gaan hoor EN glo dis normaal.

    Ek het ook ‘n baie groot probleem met ouers en oorgewig kinders, en ek kan jou verseker dat dit 98% van kere slegte eetgewoontes gekoppel aan onaktiwiteit is. En daai blaam kan op niemad anders as Ma en Pa se skouers geplaas word nie. Jy leer jou kinders verkeerde gewoontes aan.

    1. DMI – dis amper vir my ‘n wet – moenie jou kinders leer diskrimineer nie. Saam met my kinders se babamelk, het hulle ingekry: “Jy spot NOOIT ‘n ander kind/mens nie.” Die skade wat spotters doen, is soms onherroeplik.

  12. het nou lekker gelees aan jou blog – maar ek kan waarskynlik vir veel kla nie, ek wil net twee of drie kilogram verloor… (dankie vir die gene!). Solank mens gesond is moet mens nie noodwendig streef om te lyk soos die vier of vyf supermodelle wat gesien kan word om die hele aarde se bevolking te verteenwoordig nie – wat ‘n verwronge beeld!

    in elk geval, ek wonder of jy die boek ken: When hungry eat, van Joanne Fedler: http://www.joannefedler.com/when-hungry-eat/
    My skoonma het my die boek gegee (mmm, wou sy iets sê daarmee?😉;), en dit was ‘n great lees. Hier is ‘n stukkie wat voor op haar website staan:

    By the time my fortieth birthday loomed, I’d married, had two kids, left the country of my birth for another and picked up plenty of baggage along the path. I was long overdue for a spiritual spring-clean. But I couldn’t very well take a year off to meditate in an ashram. Who was going to make the lunch boxes? So instead, I opted for doing something about the fatty deposits on my rear end before they fossilised. And that’s where this story begins. Or so I thought.

    A photo of herself in a bikini on her son’s fifth birthday led Joanne Fedler to take stock of her life. How had she reached a point where she could barely look at her own body without cringing? Armed only with the certainty that she did not want to be ‘fat and forty’, Joanne decided it was time to get rid of the excess weight she’d been carrying for far too long.

    While on a strict new eating plan in which she radically changed her relationship with food, Joanne began to see it wasn’t only kilos she needed to lose, but the weight of the fear, guilt and anxiety she was lugging around in her heart.

    In making friends with hunger and dropping a few dress sizes, Joanne found greater peace not only with her body, but with herself, her life and her adopted country. What began as a msision to get back into a bikini became a journey towards acceptance.

    When Hungry, Eat is a celebration of unexpected spiritual insight, small portions and the gifts of hunger.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s