Die Lewe · Gedagtes

‘n Lewe wat saak maak

Gister was ek by iemand wat nie met bloed aan my gebind is nie, maar met veel meer as die band van bloed. Met ‘n band wat seker nie eers die dood eendag sal kan vernietig nie. Ek kan haar nie my vriendin noem nie, want sy is veel meer as net ‘n vriendin. Maar ek het haar die laaste maande afgeskeep. Nie omdat ek vir haar kwaad was nie, maar omdat ek eintlik vir haar man kwaad was. Nog steeds is. Daardie kwaad sal nie weggaan nie, maar ek het verkeerd gemaak om haar ook te ignoreer.

En toe hoor ek hoe siek sy is. My enigste verweer is – ek het nie geweet nie. Toe ek gister na haar oppad is, het ek gewonder wat ek gaan aantref. Ek is nie goed met siek mense nie, en sy het beenkanker, met geen goeie prognose nie. Ek het amper omgedraai en gedink miskien moet ek alles net los soos wat dit is. Gelukkig het ek nie.

Sy het nie gepraat oor my wegbly nie, my net met ope arms verwelkom. En sy is steeds net wie sy altyd was. Skerp, intelligent en ‘n “treat” om mee tyd saam te spandeer. Ten spyte van die pyn, en ek kon sien die pyn was met tye vretend erg. Tussen-in kom vra haar ma of sy al haar pille gedrink het, waarop sy tipies SY antwoord: “Ja, maar as daar nog enige ander pille hier in die huis rondlê, bring hulle ook sommer. Dan drink ek sommer solank vooruit.” Ons moes lag.

Vandag gaan sy weer vir ‘n been-skandering. Die uitslag sal bepaal of daar nog bestraling gegee gaan word. Ek weet sy gaan die ding baklei, maar ek weet ook hoe ernstig dit is. Vir nou wil ek nie verder as die baklei deel dink nie.

En toe kry ek vanoggend hierdie in my inbox en ek dink hoe toepaslik is dit:

Of ons gereed is of nie, eendag kom alles tot ‘n einde.
Daar sal geen sonsopkoms meer wees nie, geen minute, geen ure, geen dae nie.
Alles wat jy bymekaar gemaak het, of dit nou vir jou kosbaar is of nie, sal aan iemand anders behoort.

Jou rykdom, jou roem, jou wêreldse mag sal verskrompel tot onbelangrikheid.
Dit sal nie saak maak wat jy besit het nie of wat aan jou verskuldig is nie.
Jou haat, griewe, frustrasies en jaloesies sal uiteindelik verdwyn.

Maar so sal ook jou hoop, ambisies, planne en moet doen-lysies verval.

Die winste en verliese wat eens so belangrik gelyk het, sal vervaag.
Dit sal nie saak maak waar jy vandaan kom nie, of aan watter kant van die spoorlyn jy gebly het nie.
Dit sal nie saak maak of jy beeldskoon of briljant was nie.

Of jy ‘n man of vrou is, en wat die kleur van jou vel is, sal onbelangrik wees.

So, wat sal saak maak? Hoe sal die waarde van jou dae gemeet word?

Dit sal nie saak maak wat jy gekoop het nie, maar wat jy gebou het; nie wat jy het nie, maar wat jy gegee het.
Jou suksesse sal nie saak maak nie, maar wat jy vir die wêreld beteken het.

Dit sal nie saak maak wat jy geleer het nie, maar wat jy ander geleer het.

Elke daad van integriteit, medelye, moed of opoffering wat ander se lewens verryk, bemagtig of aangemoedig het om jou voorbeeld te volg, sal saak maak.
Jou bevoegdheid sal nie saak maak nie, maar jou karakter.

Dit sal nie saak maak hoeveel mense jy geken het nie, maar hoeveel mense jou vir altyd gaan mis wanneer jy weg is.
Jou herinneringe sal nie saak maak nie, maar wel die herinneringe aan jou wat sal bly voortleef in dié wat jou liefgehad het.
Dit sal saak maak hoe lank mense jou onthou, wie jou onthou en waarvoor jy onthou sal word.

Om ‘n lewe te leef wat saak maak gebeur nie per ongeluk nie. Dis nie ‘n kwessie van omstandighede nie, maar van keuse. KIES om ‘n lewe te leef wat saak maak.

Lewe terwyl jy lewe, want wie weet waar lê môre.

9 thoughts on “‘n Lewe wat saak maak

  1. Sjoe,wat’n “wake up call”. Dit laat jou dink oor jou doen en late en dwing jou op jou kniee pleitende om vergifnis vir jou daaglikse sondes.

  2. My broer was ‘n baie suksesvolle man. In sy besigheid, in die kerk, by die skool, ag, oral het hy net uitgeblink. Maar eintlik was hy ‘n siniese, arrogante man, en EINTLIK het ek nie van hom gehou nie, al was ek lief vir hom. Toe hy siek word, het hy weer mens geword. En in die laaste maand van sy lewe, al het hy nie gedink hy is terminaal nie, het hy ‘n sagtheid gehad wat ek in jare nie by hom gesien het nie. Sy geld en belangrikheid het nie meer saak gemaak nie.

    Maar hoekom skrik mens eers wakker as dit amper te laat is?

  3. Hier aan die einde van my lewe besef ek dat dit nie is hoe ek geleer het, waar ek vandaan kom, wat ek ervaar of besit het nie, maar die mense vir wie ek omgee en wat vir my omgee wat regtig belangrik is.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s