Die Lewe

Stellenbosch Biblioteek

Nog voor ek begin skoolgaan het, was ek al ingeskryf as lid van ‘n biblioteek. Destyds was dit Paarl-biblioteek. Deur die jare was ek lid van biblioteke in klein Oos-Transvaalse dorpies, een keer selfs van Kleinmond-biblioteek en een keer ook vakansie-lid van Stilbaai se biblioteek.

Ek onthou hoe opgewonde ek elke keer was om boeke wat ek nog nie gelees het nie, huis toe te neem. Met die jare het ek boeke present gekry en self aangekoop ook. ‘n Boekwinkel is nog al die jare vir my soos ‘n magneet. Ek kan met die beste wil ter wêreld nie sommer net daar verby loop nie.

Lank lank gelede, toe ek vir ‘n ruk in Secunda gebly het en swanger was met my eerste kind, moes ons vir ‘n rukkie in ‘n klein “park home” bly. Met die koms van die baba, kry ons toe ons eerste huis en die twyfelagtige voorreg val op my eks om ons goed aan te ry na ons nuwe huis, terwyl ek nog in die hospitaal is. Destyds ry ons so ‘n Datsun 1200 karretjie.

Die aand kom hy mooi moerig by die hospital aan en lig my in dat hy NET ALLEEN vir my boeke 4 keer met die kar moes op en af ry, met boeke in die kattebak, op die agtersitplek EN op die voorste passasier sitplek! Nou ja, ek sou eerder my klere en my kos weggee as my boeke.

Dit is dus te verstane dat ek nog nooit NIE aan ‘n biblioteek behoort het nie, waar ek ook al gebly het. Dit was die eerste ding wat ek in ‘n nuwe dorp gaan soek het. Nie die winkels of die munisipaliteit of die haarsalon nie. Nee. Die biblioteek.

Met die trek Stellenbosch toe, kon ek dan ook nie wag om by Stellenbosch se biblioteek aan te sluit nie. Maar die keer het ek nie dadelik soontoe gejaag nie. Ek het nog aan Strand-biblioteek behoort en het gereeld daar gekom en dan sommer weer boeke uitgeneem.

Kort voor die vakansie besluit ek egter dat ek, sodra ek terugkom, by Stellenbosch se biblioteek gaan aansluit. So gesê, so gedaan. Dinsdag, die laaste dag van my verlof, gaan gee ek my boeke in by Strand-biblioteek en gaan toe Stellenbosch toe en vul die vorm in vir lidmaatskap daar. Ek word vertel ek kan oor twee dae die kaartjies kom afhaal. Die biblioteek is nogal besig en ek kyk nie juis rond nie.

Verlede Donderdag kan ek nie wag om my kaartjies gou na werk te gaan haal en boeke uit te neem nie. Wat ‘n teleurstelling!

Daar is een, net EEN, ry rakke met Afrikaanse boeke! En die rakke is nie eers baie hoër as my kop nie. Ek was al in klein, klein dorpies wat baie beter toegeruste biblioteke het. Die Engelse voorraad is nie juis veel aanlokliker nie. En die biblioteek is KLEIN!

Stellenbosch is ‘n dorp wat Woordfeeste hou, wat die Afrikaanse taal besing en bevorder en dan lyk die openbare biblioteek SO?!

Ag nee, regtig. Dalk moet ek ‘n helse brief aan die koerante skryf, hier so kort voor verkiesingstyd. Dalk luister iemand iewers. Maar in my opinie is dit net plein pateties. Kan dit wees omdat die Universiteitsbiblioteek dalk beter toegerus is? Maar wat dan van ons gewone inwoners van die dorp? Word ons nie gereken as mense wat ordentlike boeke wil lees nie, hetsy Afrikaans of Engels?

Die voorraad is óf alles oud, óf die beste boeke is heeltyd uitgeneem. Wat ook al die rede, ek dink regtig dis ‘n skande dat Stellenbosch met ‘n biblioteek sit wat nie eers gunstig vergelyk kan word met ‘n afgeleë Karoodorpie s’n nie!

15 thoughts on “Stellenbosch Biblioteek

  1. Dit is ‘n blerre skande dat daar ‘n universiteit is met ‘n Afrikaanse departement en sake staan so. Die universiteit behoort boeke te skenk, dit kan gedoen word. Paarl en Stellenbosch is basies die hartland van Afrikaans.

    Dit is die jong boer Hendrik Bibouw wat in 1707 in Stellenbosch uitgeroep het: “Ek bin een Afrikaner” – met verwysing na die taal.

  2. Die Wes-Kaap het altyd ‘n baie goeie Provinsiale Biblioteekdiens gehad en tensy dinge erg skeefgeloop het, behoort Stellenbosch nie ‘n verskoning te hê om nie ‘n goeie voorraad boeke te hê as hulle aan die Provinsiale Bibdiens behoort nie. Daar is egter dorpe en stede wat nie aan ‘n Provinsiale Biblioteekdiens behoort nie – gewoonlik die groteres wat veronderstel is om hulle eie befondsing te kan verskaf. En nou ja, meestal as daar fondse toegeken word in sulke plekke, is dit maar die bib wat aan die agterspeen suie. Vandaar (gewoonlik) die swak voorraad.

    Ons is vrek gelukkig om ‘n uitstekende Bibdiens hier te hê en selfs op ons klein dorpie het ons ‘n goeie voorraad boeke. Daar is egter ook min Afrikaanse boeke, maar ek aanvaar dat die Afrikaanse bevolking hier maar skraps is en dat dit die rede is.

  3. Ek het toe uitgevind – vir R165 vir 3 maande kan ek by die Universiteits Bib aansluit. Wel, ek dink dis dan nou maar die ‘way to go’.

    @BIB – Net so by the way, jou boek is uitbespreek tot in lengte van dae😆

  4. Hello, ekskuus ek kom lees nou eers. Dit gaan dol, so ek lees so een of twee ouens per dag.
    Ek wonder of die US bib “gewone” boeke sal aanhou? En of dit net naslaanwerke is?
    Miskien is dit in elk geval dalk ‘n onderwerp om te bespreek in koerante – nie net Stellenbosch se bib nie, maar landwyd, as afr boeke min raak.

  5. Dit is tragies, maar ek is geneig om ook te dink dat die Universiteitsbib die limelight in SB steel. Dit bly egter sad, want nie ALMAL in SB is studente nie.

  6. Ek weet nie van Stb nie, maar ek weet dat ons eie bib (nie te ver van Stb nie) baie swaar kry a.g.v. min geld, personeel wat nie agtergrond het nie en die klaarblyklike tekortkominge by hul hoofkantoor. En natuurlik die skoolkinders wat prente uit die boeke steel vir hul take … Ja, regtig.
    Ek het ook al gehoor van ‘n plattelandse bib wat kla hul kry hopeloos te min Afr en te veel Eng boeke van die provinsiale biblioteekdiens. So ek dink nie die biblioteke self het altyd so baie beheer daaroor nie.
    Maar ek dink nog steeds dis tragies.

  7. Is dit nie ‘n sateliet bib nie?

    Dit is nogal skokkend. Gaan terug Strand toe, mens hoef nie so te sukkel met Bib’s nie.

    Ek hoop Pretoria se Bib wil besef dat hulle tot 8 uur saans moet oopbly. Al is dit net een nag per weerk.

  8. Jip! Skryf vir die mislikkepaliteit!! En sommer vir die local koerant ook!
    Eendag gaan jy nog op die outehuis se stoepie sit en iemand gaan daar uitasem instorm met die nuus: “Het jy gehoor die biblioteek moes sluit??? Iemand het die boek gesteel!!!!”.:mrgreen:

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s