Die Lewe

Laatnag by ‘n vulstasie

Dis Dinsdagaand na 10. “Petrol prys gaan vanaand op!” Lui alarmklokke in my kop. Terwyl ek somme maak oor hoeveel ek nou eintlik gaan spaar, spring ek tog maar gou in die motor, die naaste vulstasie is net 3km weg.

Oppad kom die som se antwoord eers, net iets oor die R30, nie aardskuddend baie nie, maar darem ‘n BigMac se geld😆

Daar is ‘n ry wagtende motors by die pompe en ek wonder oor die mense wat altyd op die nippertjie wakker skrik, waarvan ek natuurlik een is. Dit laat my dink aan my liewe Ouma. As sy op ‘n Saterdag oggend saam met ons dorp toe gegaan het, het sy haar altyd verwonder aan al die mense. Dan vra sy vir my ma; “Wat soek al die mense in die dorp?” “Seker maar dieselfde as ons, Ma” was my ma se antwoord elke keer.

Terwyl ek my beurt so sit en afwag, sien ek hulle. Dis ‘n Uno karretjie. Dis toe sy uitklim wat my oog hulle vang. Ouderdom skat is moeilik, maar sy is bitter jonk. En bitterlik maer en die rokkie is ongenadiglik kort en kaal. Kaalvoete.

Sy stap na die waterhouers toe en bring een na die Uno toe en begin die ruite was. Voor en agter en langs die kante. Elke keer as sy oorbuk, kry ek namens haar skaam. En hy SIT. Sit en rook, sien ek van so skuinsweg af. Buk selfs een keer vorentoe en druk met sy vinger van binne teen die ruit, waar sy ‘n vuilkol gemis het.

Ek kom agter my hande is vuiste gemaak en ek probeer doelbewus ontspan. En ek wonder:

Meisiekind, waar is jou ma? Waar is jou ouers? Waar is jou selfrespek?

Want sy is iemand se dogter. Op ‘n tyd was sy iemand se dogtertjie. Hoe loop die lewe met mens dat jy op ‘n aand by ‘n vulstasie staan, half kaal, besig om ‘n motor se ruite te was terwyl ‘n misbaksel van ‘n man / kerel binne bly sit en orders gee?

Weet haar ma waar sy is en hoe sy lyk en gee net nie om nie? Of huil haar ma iewers haarself aan die slaap omdat sy nie weet waar haar kind is nie, dalk omdat sy met dwelms deurmekaar geraak het en weggeloop het?

Ek het gewonder wat sy sou maak as ek naderloop en haar vra oor haar huis en haar ma. Maar ek het ook geweet ek sal nie, want ook ek wou nie betrokke raak nie. En as sy more of oormore iewers dood opgetel word, sou dit nie eers die koerant haal nie, want sy is niemand bekend nie.

Dis twee dae later en sy spook by my. Ek se dankie dat ek weet waar my dogter is. Ek weet ook ek het my plig versuim teenoor iemand anders se dogter. Mens kan nie die wereld red nie, ek weet. Dit laat my nie beter voel nie.

14 thoughts on “Laatnag by ‘n vulstasie

  1. Dis ‘n fout om te dink dat oënskynlik hulpbehoewendes en verdwaaldes ‘n mens se besorgdheid sal waardeer. Nie alle jongmense het dieselfde mentaliteit as wat ons kinders van dieselfde ouderdom het nie. Blootstelling verhard hulle dikwels. Die tale wat soms in sulke situasies uit so ‘n mond kan kom sal vir Yolandi Vi$$er laat bloos.

  2. As mens eers kinders van jou eie het, voel dit of die hele wereld se kinders jou verantwoordelikheid is. 😉

    Ek verstaan heeltemal, Son. Ek voel nou nog sleg omdat ek nie die jong man – my oudste se ouderdom – ‘n lift gegee het toe ek een aand by hom verby gery het nie. Ek sou like dat iemand MY kind ‘n lift gee as hy op die hoofpad loop, plotte se kant toe, in die pikdonkerte. Shame, dit het gelyk of hy ‘n kelner erens kon wees met sy swart broek en wit hemp. Sy skouers het so gehang… 😦

    Ek was bang, en nou voel ek nog steeds sleg.

    1. Ek ken daai gevoel, Vlam. Dis soort van ‘gooi jou brood op die water.’ Ek laai nog gereeld jongmense wat hike op, het ook vroeer jare toe my kind nog in die Vloot was. Ook met die hoop iemand sal MY kind oplaai as hy hike. En my hoop het nie beskaam nie. My kind het menige lifts veilig gekry. Dis soos om goeie karma na buite te stuur en terug te kry. Dis een van daai dinge wat ek in goeie geloof doen, goeie geloof in my eie veiligheid. 🙂

  3. Ek is saam met JT op die een. Solank jy weet waar is jou kinders is alles ok. Sy is oud genoeg om besluite te maak, en gevolge te kan dra. Dit klink hard, maar ander se kinders wat eie kak besluite maak, is nie jou probleem nie.

    1. DMI en JT, met my rasionele brein weet ek dit, maar met my emosionele brein sou ek graag daardie meisiekind wou red. En DIT gaan altyd so wees waar dit ‘n kind aangaan.

      1. Ek is so saam met jou op die een. Ek sê ook ” Dankie Vader, ek weet waar my dogters is.” Toe tref die waarheid my. Ek weet waar my dogters veronderstel is om te wees. Toe verander my gebed. “Vader, bewaar hulle en haar, van wie Son skrywe.”

  4. Die kanse is seker nie uit gesluit dat dit haar pa is nie. Of dalk haar pimp.

    Ek was al self dae later deur my gewete aangespreek. Dit hou ook nie op nie. Mens moet maar net daaruit leer.

  5. Ai, ‘n mens kan net dankbaar wees dat jou eie kinders ok is. Dit kon so maklik anders gewees het, as ‘n mens sien wat om jou aangaan. Ek dink darem nie jy moet jouself kasty nie. Die meisietjie het waarskynlik gekies waar sy wou wees en sou nie sommer daar omgedraai het nie.

  6. Dis as ek sulke stories lees wat ek maar net opnuut bid dat die Here my kinders sal beskerm. Dis eintlik al wat mens kan doen, behalwe om hulle ‘n goeie opvoeding te gee… Dankie tog, ek weet waar my dogter vanaand is. Die seuns is al groot, maar ook danksy die genade o.k.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s