Gedagtes

Many a true word…

Ware woorde is soms verdoesel as ‘n grap. Toe ek op 1 April gemaak het asof dit my laaste inskrywing is, het ek glad nie regtig gedink daaraan om op te hou blog nie. Toe is dit naweek en ek begin dink en ek wonder hoekom ek nog regtig blog. Dis al amper 4 jaar (ek het in Mei 2007 as Sonkind begin blog). Deur die jare het ek altyd gevoel ek het iets te sê, te vertel of kommentaar te lewer. In die begin was ek anoniem,  het niemand geken nie en kon basies sê wat ek wil.

En tog kon ek nooit in my blog my hele lewe oorvertel nie. Elke inskrywing wat ek ooit gemaak het oor ‘n persoonlike ervaring wat my diep geraak het, was vir my amper soos tande trek. (En vir ‘n tandarts is ek banger as vir die duiwel!) Ek beny so half en half die bloggers wat iets en alles oor hul daaglikse lewe hier kan neerskryf.

Vir my is dit moeilik. Seker maar oor hoe ek grootgemaak is. As jy lag, lag die wêreld saam, as jy huil, huil jy alleen. So lag eerder, voor jy huil. Hoe langer ek geblog het, hoe meer van my familie het ook my blog raakgelees, en toe kon ek ook nie meer lekker oor hulle skinder en staaltjies vertel nie.🙂

Die ou bloggers sal weet hoe kookwater was die blogs in 2007-2009. Toe gebeur daar dinge waaroor ons nie meer praat nie, en stadigaan het die blogs minder en stiller geraak. Dis asof WordPress sy fut verloor het. Om elders te gaan blog, het ook nie vir my gewerk nie – dit is net nie dieselfde nie. Dis soos om te emigreer – jy sal maar altyd half-anderlander wees en altyd hunker na-Suid-Afrikaner.

Vlam het lank terug geskryf sy blog nie meer so baie nie, want sy het nou ‘n lewe. Ons het nogal in die gesig gevat gevoel daaroor, want ons het mos almal lewens. Maar sy het tog ‘n punt beetgehad. Ek verstaan nou soort van wat sy bedoel het. Die laaste maande, amper jaar, het my lewe ‘n punt bereik waar ek tevrede is met min of meer alles en almal om my. Natuurlik kry ek nog nie genoeg geld nie en hou nie genoeg vakansie nie😆 maar dis lekker by my werk en dis lekker by my huis. Gewone frustrasie is daar wel, maar dit kan ook nie TE goed gaan nie, dan sterf ek dalk van al die voorspoed!

En ek kom agter ek blog veel minder. Dis nie dat ek niks het om te skryf nie, dis net dat ek allerhande ander lekker dinge het waarmee ek myself ook besig hou. Ek het ook e-Boeke ontdek EN dat ek dit op my Blackberry kan lees. (Dis my enigste verslawing nog ooit – my Blackberry!) Vir my, wat boek lees saam met my babamelk ingekry het, is dit ‘n lekkerte van epidermiese proporsies. Nou spaar ek verwoed vir ‘n Kindle.

So, toe wonder ek die naweek of dit nie nou maar tyd geword het om op te hou blog nie. Soos in REGTIG. Maar toe dink ek aan al die goeie, gawe, lekker mense wat ek deur die blogs leer ken het en dink: “Nee! Ek sal hulle te veel mis. Hulle voel al meer soos vriende as my vlees-en-bloed vriende.” Nie dat julle nie ook vlees en bloed is nie, maar of ek julle nou persoonlik ken of nie, ek voel deel van hierdie vriendekring, bloggerkring, of wat mens dit ook al noem.

So, hier is ek nog steeds en hier sal ek seker nog lank wees. Al is ek soms te lui om te skryf, al het ek soms nie veel om te sê nie – ek sal hier rond wees. En een van die mooi dae vertel ek weer ‘n lekker storie hier😉 Intussen lees ek maar wat julle skryf. Wie weet, dalk wag daar ‘n ongelooflike Muse vir my net hier iewers om die draai en begin ek weer skryf sonder ophou😈

Just watch this space!

26 thoughts on “Many a true word…

    1. Huh?!!! Fokkit – ek weet ek is nie gedrink nie, ek weet ek is nie gerook nie! Ek weet ek sien soms spoke, maar ek dink nie nou is een van daai tye nie. Tier!!! Helsem, dis goed om jou weer te sien! On another note – nee wat jong, ek het al geleer, NIEMAND is onmisbaar nie😉 As hierdie seder val, sal die wereld steeds maar net aangaan😆

  1. Jy sal moet aanhou skryf totlat jy eendag uitvind hoekom mens rêrig blog, dan vertel jy ons solat ons ook weet hoekom ons dit doen.😀

  2. Gmf… jy kan blywees ek werk myself oor ‘n mik en kom nou eers hier aan… ek sal jou op jou stoep duskant daai wingerde kom opspoor. Ek gee nie om hoeveel en wanneer jy skryf nie, solank jy dit net doen.

  3. @ Toortsie, PJ, Charms, Seegogga, Vlam, Krista, Leon, Schabbers – BAIE dankie vir julle, dat julle ALMAL nog moeite maak om hier te kom lees. Ek sal julle in elk geval heeltemal te veel mis om ooit net weg te gaan😉

  4. Ek ken jou gevoel baie goed, Son! Maar ek hoop regtig dat jy nie ophou nie. Jou blog is een van die blogs wat ek ALTYD met aandag lees, want as jy iets skryf is dit gewoonlik die MOEITE WERD om te lees en voel dit nie na tydmors nie.

    Bloggroete!

  5. Ek het tot die gevolgtrekking gekom dat voltyds blog vir normale mense ‘n kruk is. Daar kom ‘n dag wat die kruk nie meer nodig is nie en dan kan hulle nie meer daagliks blog nie. Nuweling blog elke dag want dit is nog vir hulle ‘n speletjie. Diegene wat bloggery jaar na jaar volhou makeer iets drasties.

  6. Haai nee! Het julle rerig so gevoel?!!!

    Nee, jong. Hou blogging vir die dae wat jy voel soos ek nou voel: bietjie alleen, bietjie depressed, bietjie ophoops met jouself! 🙂

  7. Ek stem saam. Soms is die behoefte groter wanneer die tragiese gevoel jou oorval. Maar ek probeer darem om die pennvrug te laat voort leef vir my kinners. Hulle gaan eendag wil weet wat het ek gedink en so aan. Ek wil ook daai lekker juicy goed skryf en sal seker wanneer ek meer gemaklik is met die pen se punt. Dankie vir jou skryf.

  8. Ek weet wat jy bedoel. As ek emosioneel voel, is die behoefte om te skryf sterk. As alles goed gaan is mens besig om te lewe. Tyd ( lees lus) vir skryf veminder drasties. Die feit dat mense weet wie jy is, beperk ‘n mens geweldig, veral as ‘n mens dan nou so emosioneel oor iets voel. Ongelukkig weetalmal wie ek is. Kon netsowel sonder ‘n skuilnaam geskryf het. Maat tans is dit nog lekker, en Toortsie se positiewe streep ‘n inspirasie. Hou asseblief aan skryf!

  9. Weet jy, ek kry ook gereeld daardie gevoel. Soos Verlede Donderdagoggend was ek glad nie lus vir skryf nie, en op die ou end skryf ek toe wel. en nou het ek myself in ‘n 40 dae uitdaging gegooi – watter mal mens doen dit aan haarself???
    Ek is tog bly jy gaan aan! Ek geniet jou skrywes.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s