Gedagtes

The road less travelled

Skelmbos se verkeer is van daai goed gemaak waarmee hulle flieks soos Nightmare on Elm Street verfilm. Riller op sy beste. Werk-toe-gaan-tyd en huis-toe-gaan-tyd is nie vir ongeduldige mense soos ek nie. En toe ek nou op die plaas gaan bly, is my pad werk toe een van DIE besigstes. Ek is vooraf gewaarsku ek gaan in die verkeer vassit, maar die voordele wen die ou nadeeltjie by verre.

Gelukkig is ek ook bevoorreg om my werksure so bietjie rond te skuif tussen 7 en 9, dus kan ek ‘n tyd kies waar die verkeer al effens bedaar het. Of ek moet BAIE vroeg werk toe gaan, of taamlik laat. Maar ek is nie altyd lus vir enige een van die twee nie. Toe kom ek agter daar is ‘n ander pad, “the road less travelled”. Ek is nogal een wat daarvoor bekend is om paaie te kies wat ander mense nie sommer sal ry nie, vir verskeie redes.

Nou, hierdie ander pad loop deur Cloetesville, die tradisioneel kleurling-area. Ek sê tradisioneel, want ek wil nie polities-onkorrek wees nie 😈

So, soggens net so mooi waar die verkeer begin opdam, dan kap ek ‘n slap links en so entjie verder weer ‘n slap regs en dan cruise ek lekker deur die dorpie Cloetesville. Dis nou na ‘n paar oggende se vloek en tandekners op die “road more travelled”.

En toe kom ek mos ‘n ding agter. Almal maak vir almal pad terwyl ons so oppad is deur die woonbuurt. Niemand toet vir niemand nie. Geen minibus swaai voor enige iemand in nie. By systrate gee elke ou in die hoofstroom se verkeer so een-een vir mense wat uit die systrate kom, plek voor hulle. Mense sê dankie en glimlag en waai vir mekaar. Die strate wemel van die mense, maar alles loop lekker.

Natuurlik ry ek met my deure gesluit en my vensters toe, maar ek voel eintlik half skuldig daaroor, want nie eers een keer is ek skeef aangekyk nie. (Maybe dink hulle ek issie wit nie LOL!)

En nou trek ek vergelykings. En asseblief ek veralgemeen nie, maar ek het darem oë in my kop. Ek wonder, op plekke waar mense dalk bietjie swaarder trek in die lewe, is hulle meer verdraagsaam met mekaar omdat hulle meer aangewese is op mekaar? Daar waar dit goed gaan en die karre nuut en blink is, daar het ons nie meer geduld om vir mekaar te wag of te groet of spasie te gee nie?

Ek wonder maar net. Maar intussen ry ek rustig werk toe en terug, vir ten minste 80% van die pad 🙂

7 thoughts on “The road less travelled

  1. Ek moet tog vir my seun ook van jou pad vertel. Hy kom van Brackenfell se kant af na Technopark. maar hy val soggens 7 vm in en ry middae 4 nm, dan mis hy ook baie verkeer.

  2. Ek ry ook so ‘n agterpaadjie waar die mense vir mekaar kanse gee uit die systrate, en dit sluit die blink karre in. Ek dink net die roete is minder stresvol, en dit sorg vir vriendeliker mense op die pad, en miskien maak die lekker gevoel dat mense meer verdraagsaam is… wat ookal die rede, dis lekker!

  3. Ek dink jy is dalk reg, maar hier in die platteland, waar ek bly, is almal ook so verdraagsaam en groet mekaar sover hulle ry. Dalk omdat ons mekaar ken, dalk ook omdat dit belangrik is om goie betrekkinge te ahndhaaf, of dalk omdat ons mider gejaagd is?n

  4. “bietjie swaarder trek in die lewe, is hulle meer verdraagsaam met mekaar” – ek dink jy slaan die spyker op sy kop. Ook so, betreffende die blinkes.

  5. Jy moet in Joburg kom rondry. Die mense is vriendelik! 😉

    Bly jy het ‘n lekker pad gekry. Dis een van my groot tydverdrywe ook: agterpaadjies uitsoek en toets.

Lewer kommentaar op boerinballingskap Kanselleer antwoord