Die Lewe

Vir jou daaglikse brood – slot

So kom A, B en C uiteindelik ‘n dag later as beplan in Gopse aan.  Hul tyd was reeds beperk, want hulle mag nerens in Gopse gaan sonder soldate begeleiding nie. En dit moet natuurlik vooraf gereël word. Nie omdat daar oorlog in Gopse is nie, maar omdat dit glo amper ‘n nasional sport is om buitelanders te ontvoer en dan ‘n losprys vir hul vrylating te eis. Slegs twee weke tevore was daar juis so ‘n geval.

Tot die regering van Gopse se krediet moet ek toegee dat daar elke keer baie mooi na ons mense gekyk word. Hulle arriveer dus halfdag met hul gewapende begeleiding in die kusdorpie waar hul moet tuisgaan en van waar hulle moet uitgaan see toe om die monsters bymekaar te maak. Met hul aankoms is die see spieëlglad en die weer lieflik, maar hulle is doodmoeg en omdat hulle omtrent 30 kilometer die see moet invaar, besluit hulle om te rus en die taak vroeg die volgende dag aan te pak.

Die volgende oggend lyk die see egter soos iets uit ‘n riller. Donker wolke en hoë golwe, maar hulle het nie nou meer ‘n keuse nie en tesame met 4 gewapende soldate is hulle die see in. Toe hulle by die aangewese plek kom en anker gooi, was dit ook nie lank voordat almal op die boot begin aardig voel nie, en soos later aan my oorvertel, het die visse nogal genoeg kos gekry.

Toe dit egter begin reën, is nog net 4 van die 7 plekke waar monsters gevat moes word, gedoen, maar die soldate vertel toe aan B (sy is al een wat hul taal, Frans, praat) dat hulle nou gaan terugdraai land toe, want hulle mag nie sonder reënbaadjies op see wees as dit reën nie! B wil-wil toe net ‘n vloermoer gooi, maar C sê toe so tussen sy tande deur in Engels vir haar hy dink nie dis die beste van idees om te doen waar iemand wat met ‘n AK47 in sy hande sit nie.

Op daardie oomblik trek ‘n groot vistroller verder aan in die diepsee egter die 4 soldate se aandag en hulle verduidelik aan B, in Frans, dat daar ander soldate op die trollers is, om die vistrollers te beskerm teen seerowery, wat nou ook glo algemeen is aan die kus van Afrika. Toe A en C sien dat B redelik bekommerd voorkom, en vra waaroor die gesprek gaan, vertaal sy vir hulle as volg:

“Die soldate op die vistrollers het opdrag om eers te skiet en dan vrae te vra aan enige vreemde boot met gewapende mense op. Ongelukkig weet die soldate op ons mense se boot nie op watter radio frekwensie die vistrollers is nie, so daar is geen manier waarop hulle hulself kan identifiseer en die soldate op die vistroller gerus kan stel dat hulle ook soldate is nie. Die soldate op die kleiner boot dra ook nie uniform nie, so hulle kan nie eers daaraan uitgeken word nie. Dus, daar bestaan ‘n moontlikheid dat die soldate op die vistroller op hulle kan begin skiet, maar A, B en C moenie bekommerd wees nie, want al skiet die vistroller se soldate op hulle, sal dit heelwaarskynlik nie raak wees nie, want dis nog bietjies te ver!”

Teen hierdie tyd weet ons mense nie meer of hulle moet lag of huil nie en of alles regtig werklik is nie.  Hulle trek toe maar als op en besluit om die laaste 3 punte die volgende dag te kom doen, aangesien hulle eers die aand terugvlieg Suid-Afrika toe.

Die volgende dag breek toe ook windstil en idillies aan en hulle was net besig met die laaste punt, toe die soldate in hulle boot ‘n ongemerkte boot opmerk en sonder om enige iemand te waarsku, jaag die skipper daar weg na die ander boot en sommer so in die jaery skiet die soldate ‘n paar skote in die lug op! A, B en C vertel hulle het net vooroor geval met hulle hande oor hul kop en gewonder waar daar die koeëls gaan afkom! En die twee mans in die ongemerkte boot is toe doodonskuldige vissemanne wat stomgeskrik sit terwyl die soldate op hulle afgejaag kom.

Na die soldate tevrede was dat die vissermanne hulself voldoende geidentifiseer het, het hulle doodkalm omgedraai en vir B verduidelik hulle kan nou maar klaarmaak.

Die terugtog was sonder voorval, ook die vlugte terug, en in April moet hulle weer gaan. Daar is ‘n moontlikheid dat ek die keer kan saamgaan, maar ek sal eers my testament moet gaan in orde kry!

So ja, as daar een sêding is wat so waar as wragtig is, dan is dit: Afrika is NIE vir sissies nie!

4 thoughts on “Vir jou daaglikse brood – slot

  1. All is well that ends well.
    Ek dink jy moet saamgaan!! Definitief, ons soek cops and robbers stories. Ek wonder of SAL sal toelat dat jy ‘n bulletproof vest saamvat?

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s