Die Lewe

Vir jou daaglikse brood

Terwyl ek hier sit en skryf, hoes ek so elke nou en dan my longe so bietjies-bietjies uit. Dan tel ek hulle op en druk hulle terug in my keel af en sluk nog ‘n sluk hoesstroop. Ek sweer daar is ’n goeie skoot alkohol in hierdie stroop, want tussendeur voel ek so lekker lighoofdig en min gepla.

Ek was so lanklaas by my blog, dat ek myself eers weer moes bekendstel. Maar dis wat gebeur as mens gevegte aanknoop met SA Lugdiens en jou mense in ‘n Afrika land gaan werk en sommer terselfdertyd op geskiet word ook. All in a day’s work, in die sweet van jou aangesig, om jou brood te verdien.

Die ding het so begin: Drie van die omgewingsspesialiste vir wie ek werk, vlieg nou ander week Gopse* toe (*name van plekke en karakters is verander ter beskerming van hulle identiteite en om diplomatieke rooi gesigte te voorkom).

Die drie, noem hulle maar A, B en C, het elkeen ’n retoerkaartjie van Kaapstad na Johannesburg en dan van Johannesburg na Gopse. Gopse is nou een van die Afrika lande waar ons werk. Nou, daar is ’n reël dat daar 2 ure moet wees tussen aansluitingsvlugte, net vir die wis en die onwis. En gewis is die kaartjies ‘n gesonde 2 ure uitmekaar, van hul landing in Johannesburg, tot hul vertrek na Gopse.

Maar vertrou ons liewe SAL (en die keer gebruik ek die werklike naam, want ek voel ‘n veer vir enige diplomasie vir hierdie perde) om die beste planne in sekondes op te fok. SEWE mense kan nie op die vlug na Johannesburg klim nie, want die vlug is oorboek, waarvan my mense 3 is. En AL sewe daardie mense moet aansluitingsvlugte haal na ander bestemmings. En NIEMAND wat klaar hulle gatte neergesit het in die vliegtuig en NET Johannesburg toe vlieg, wil uit die liefde van hulle harte opstaan en hul sitplekke afstaan nie.

Dus, my mense bel my van Kaapstad Lughawe en vra of ek iets kan doen aan hulle lot, want die SAL se mense voel ’n vet donsveer vir hulle. Dis toe wat ek begin rondbel en dreig, tot so ’n mate dat ek uiteindelik my 3 mense op ’n British Airways vlug kry wat om half 2 die middag in Johannesburg land, en hulle vlug na Gopse vertrek om 25 voor 3 die middag. Die inweeg toonbank gee ook sommer vir hulle in die Kaap al ”boarding passes” vir die vlug na Gopse.

Om 14h00 kom my mense uitasem aangehardloop by die bagasietoonbank in Johannesburg se internasionale vertreksaal, om hul bagasie en toerusting in te weeg. Nou moet julle weet, hulle het derduisende rande se toerusting by hulle. Nee wat, die mannetjie by die bagasietoonbank weier toe volstrek dat hulle inweeg. Die bagasie is reeds afgesluit. Hulle kan hul goedjies daar los en more deur iemand laat aanstuur, stel hy voor! Een van my drie mense is ‘n Franse dame en sy kan haar speelgoed op ‘n asemrowende manier uit die kot gooi, maar nie eers dit het gehelp nie. Weereens word ek gebel, maar wonderwerke gebeur nie twee keer op een dag nie, en uiteindelik vertrek die vlug Gopse toe sonder my mense.

Nou is hulle gestrand op Johannesburg lughawe en ek is hulle enigste ankertou. En SAL weier om hulle die volgende dag op dieselfde vlug te sit Gopse toe, want dit gaan R27 000 meer kos. TOE begin die pret. Uiteindelik kry ek een of ander hoë iets van SAL in die hande en ek dreig hulle met van ‘n hofsaak tot ‘n diplomatieke insident, want dis sensitiewe werk wat gedoen moet word in ‘n Afrika land ensovoorts. Helfte suig ek soos ek praat uit my duim uit, maar ek gaan haal omtrent die grondwet aan. En bid net heeltyd die ou “call” nie my “bluff” nie.

Om ‘n lang storie kort te maak, hulle het hulle plek gekry op daai volgende dag se vliegtuig, gratis en verniet, en slaapplek in ‘n gastehuis EN ‘n “shuttle” om hul heen en weer te vervoer.

Maar nog is dit het einde niet. Want toe is dit aand en dit is oggend en die volgende dag en hulle gaan weeg hul bagasie in en die knaap vertel vir hulle ”duct tape” is ’n verbode item…   (Word Vervolg)

6 thoughts on “Vir jou daaglikse brood

  1. Sjoe, nou net deel 2 gelees en dit het my aangespoor om by die begin te begin. Klink na ‘n riller! Tog altyd vir my interessant hoe die wereld regeer word deur die klerke met IK’s van 80 of minder….

  2. Ja, duct tape is dodelik gevaarlik. Jy kan die loods en personeel se hande daarmee vasbind en die vliegtuig kaap!:mrgreen: (En ek sou jou proteges nie kwalik geneem het as hulle teen daai tyd lus was om iemand vas te bind of plein nek-om te draai nie) In elk geval 10 uit 10 vir jou. Ek hoop jou werkgewers waardeer jou!Ek sien ook uit na deel 2.

  3. She is alive!
    Ek kan nie wag vir deel 2 nie. Jinne, duct tape is meer kosbaar in praktiese waarde as goud en diamante – mens kan nêrens sonder duct tape gaan nie….

  4. Hoe goed ken ek tog sulke situasies! Hoop nie jy het bloeddruk probleme nie, want dan is jou kans op oorlewing maar skraps.:mrgreen: Ek kan nie wag vir die volgende aflewering nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s