Die Lewe

Ma, hoe leer jy jou seun?

Die nuwe jaar is 5 dae oud en ek het my voorgeneem om nie my dae te vul met goed wat die wit waks uit my irriteer nie, maar hierdie ding kom nou al uit die ou jaar uit.

‘n Vriendin van my deel ‘n huis met twee jong mans, 24 en 26 jaar oud. Altwee die jong manne kom uit die platteland uit. Nou wonder ek wat die ma’s van die platteland hulle seuns leer.

Die mannetjie van 24 het duidelik nog nooit die woord ‘skoonmaak’ gehoor nie. Blykbaar is hy kort voor Kersfees huis toe en sy geskenk wat hy saamvat? Twee mandjies vol wasgoed! En dan is daar ’n volle outomatiese wasmasjien in daai huis. Maak hy kos, spat hy die stoof vol vet en as sy hom daarop wys, is sy verweer; “Ag, ek het dit nie raakgesien nie. Jammer!”

So elke nou en dan dra hy glo 3 tot 6 vuil glase uit sy kamer. So ek vermoed daar kan dalk ander vuil skottelgoed ook daar weggesteek wees. Behoede my!

Van ’n toilet skoonmaak nadat hy daar was, het hy duidelik ook nog nooit gehoor nie. Ek het ongelukkig die twyfelagtige voorreg gehad om hul toilet te wou gebruik, maar ek het net so in my spore omgedraai. My arme vriendin wil dit ook nie skoonmaak nie, sy gril haar dood. Nou hoe gemaak nou?

Die ander kalant van 26 mors glo darem nie so nie, maar hy kom weer elke tweede aand daar aan met ’n sak vol drank. Intussen koop hy nie kruideniersware nie, maar gebruik my vriendin se margarien, melk, koffie en dies meer asof dit syne is. En huil dan as dit sy beurt is om swart sakke koop.

En so kan ek aangaan. Natuurlik soek sy nou ander blyplek, maar ek kan nie help om te wonder nie. Ma’s van daai twee – hoe de HEL het julle jul seuns grootgemaak?!

Die 24-jarige sê sommer duidelik dat sy vrou eendag alles sal moet doen in hulle huis, want dis nie ’n man se werk nie. Jou klein kak! Jy kan jou sterre dank jy is nie my seun nie.

Ek het ook ’n seun, hy deel ook ’n huis met ander mense. Mens kan amper van daai huis se vloere af eet, so skoon is dit. Van kleins af het my kinders geweet waar hulle mors maak hulle skoon, het my seun geweet ’n vrou is nie op aarde gesit om agter sy gat skoon te maak nie. Het hulle geweet ek sal hulle gatte skop as hulle so slordig en morsig moes lewe.

Vir my is dit ’n kwessie van selfrespek. Veral waar mens ’n plek met ander mense deel.

Of is dit net ek wat so dink?

7 thoughts on “Ma, hoe leer jy jou seun?

  1. Ek stem nogal saam BB op hierdie ene.

    Ek self is ‘n bietjie van ‘n “neat freak” en glo als het ‘n plek. Rooikop is so geleer van kleins af en hy is ook geleer om skoon te maak waar hy mors – hìèrdie ‘ousie’ is kwaai👿

    1. Het ook twee seuns – ‘n mens weet mos nie meer wat hulle aanvang as hulle onder jou oë uit is nie … Dalk het daai ma hulle mooi probeer leer – maar net nie geslaag nie!

  2. Kyk, ek het nog nooit en wil nie sommer ooit van ‘n vloer af eet nie. So ek is nie té finicky oor ‘n vloer nie – maar jy was jou skottelgoedjies as jy iets in die kombuis gebruik het en jy vee ten minste die werkoppervlak mooi af.
    Ek dink ongelooflik baie kinders (en dis nie net seuns nie) word (deesdae steeds) met ‘ousies’ in die huis groot. Ten minste 8 uit 10 van my kollegas het ‘n bediende waarvan die helfte voldag 5 dae per week ‘inkom’ – party bly in – en werk dus tot ná aandete. Ek kan en mag nie veralgemeen nie, maar kinders wat uit daardie ‘gerief’ kom het ‘n kombinasie reaksie van hardeg@theid & verbasing m.b.t ‘huiswerk’.
    Ek ‘leer’ nie my tiener met baie praat nie (ok, ek praat sy ore van sy kop af😳 maar nie oor sulke goed nie) ; ek laat hom maar net sy deel doen en al die reëls geld vir almal in die verband – m.a.w ‘pappa’ lê nie met ‘n bier voor die tv en burp terwyl ek met oorfone aan op die internet kuier en boetie playstation in sy kamer, die ousie hande-viervoet die stoep blinkpoets en die ‘tuinboy’ die affodille omspit nie.
    Selfrespek/Respek – die een kan nie sonder die ander nie – en ja, dit kom uiteindelik net daarop neer.

  3. Ek sal net sê Dankie Ma. Dit gaan nie net oor respek vir ander nie, maar ook selfrespek. Jinne, ek slaat morsdood neer van skaamte as iemand so van my moet praat.
    Bygesê in vandag se tyd gaan daai outjie hard moet soek vir daai tipe vroutjie.

  4. Man, ek wil se dis ‘n Afrikaanse ding, maar al my nefies van die platteland het goeie huismaniere, hulle ma’s het hulle so geleer (bygese, die koshuis lewe ook!). Daai mans wat dink vroulief moet alles doen gee my die piep! Dit gaan oor selfrespek, veral as jy ‘n huis deel!

    Too terrible!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s