Raak gelees

Vuur – die goeie dienaar en die slegte baas

Lank lank gelede het Girl gevra ek moet oor vuur skryf. As my lewe daarvan afgehang het, was ek nou al dood en veras (verbrand), maar okay, eerder laat as nooit😈

As Jy Met Vuur Speel Sal Jy Brand – dit was die debuut CD van Suid-Afrika se kontroversiële popgroep – Fokofpolisiekar.

Dis natuurlik ‘n baie waar stelling, net jammer mens vergeet so maklik daarvan as jy eers gefassineerd raak deur die vlamme. En hier verwys ek natuurlik na regte en spreekwoordelike vuur.

Almal van ons het sekerlik al op ‘n stadium met vuur gespeel – waaghalsige goed gedoen, skelm verhoudings aangeknoop, gelieg oor iets – maar kierangs se vet braai uit – in presies daai selfde vuur wat so lekker gelyk het om mee te speel.

Maar wat is vuur REGTIG? Dis nie ‘n vaste stof nie, ook nie ‘n vloeistof nie, en ook nie ‘n gas nie. Dit het geen massa nie en mens kan dit ook nie op ‘n skaal weeg nie. Vuur is nie werklik stoflik nie. En tog is dit IETS.

Die mense van die Oudheid het gedink alles tasbaars bestaan uit net vier dinge: vuur, lug, aarde en water. In werklikheid is egter omtrent honderd “boustene” (elemente) in die heelal, maar vuur is NIE een van hulle nie.

Vuur is die blitsige verbinding van die suurstof in die lug met die koolstof in brandbare stowwe. Dit is bloot ’n chemiese reaksie wat so vinnig plaasvind dat ons die woelinge om dit kan sien.

Of so is dit in meeste van die gevalle. Koolstof en selfs suurstof is nie altyd nodig vir ’n vuur nie. Die gas asetileen, ’n verbinding van waterstof en koolstof wat vir sweis gebruik word, stel byvoorbeeld by sekere temperature lig en hitte vry selfs al is suurstof nie teenwoordig nie. En ’n paar soorte metale kan ook in die minder aktiewe gas stikstof brand.

Die vlamme wat jy sien wanneer jy na die brandende steenkool in die kaggel kyk, is gloeiende deeltjies koolstof wat van die steenkool opstyg. ’n Vlam kan ook ’n sameflansing van rooiwarm stofdeeltjies in die lug wees. Hulle glim wanneer hulle in verbinding kom met die warm gasse wat in die verbrandingsproses gevorm word.

Dis terloops interessant dat die soute van verskillende metale verskillende kleure aan ’n vlam gee: natrium is geel, koper sorg vir blou, stronsium verwek rooi en barium veroorsaak ’n groen kleur, om ’n paar te noem. Hierdie verskillende kleureienskappe van elemente is baie nuttig in die vervaardiging van vuurwerke.

Die aandeel van vuur in die ontwikkeling van die menslike beskawing was enorm, om die minste te sê. Onder die mens se eerste aanwendings van vuur was die gaarmaak van kos en die wegbrand van bosse vir die jag. Dit is ook in godsdienstige rituele gebruik, en die eerste industriële aanwending was vir pottebakkery.

Volgens die Griekse godeleer het die halfgod Prometheus op ’n dag vuur op die godeberg Olimpus gesteel en dit in ’n hol riet na die aarde gebring. lemand het al geskryf dat Prometheus geen beter geskenk vir die mens kon gekies het nie. Ons kan ons immers glad nie die menslike bestaan sonder vuur voorstel nie.

Dis vandag steeds onontbeerlik in al ons nywerhede en die vervoerwese, en daarom een van die heel beste dienaars van die mens.

Maar as vuur ’n goeie dienaar is, is dit ook ’n baie slegte baas. Dit het die mens al baie lank gelede agtergekom. Die woord “brand!” het een van die ontstellendste uitroepe in enige taal geword.

Onder die heel eerste brandwere in die geskiedenis was dié in ou Rome. Die Romeine het eers slawe as brandbestryders gebruik, maar hulle het nie juis gedeug nie, en later het die vigiles (wagters) gekom wat Rome vyf eeue lank teen brande beskerm het.

Seweduisend van hierdie wagters was nodig om die stad met sy miljoen inwoners te beskerm. Hulle moes snags deur die strate loop, elkeen met ’n emmer wat van esparto-gras gemaak was.

Hulle het die bynaam Sparteoli (die emmermanne) gekry. Wanneer ’n brand uitgebreek het, moes hulle met die emmers water op die vuur gooi.

Daar was ook reeds vierduisend jaar gelede brandweerkorpse in ou Egipte.

In Suid-Afrika met sy wye ruimtes is brandbestryders soms selfs bedrywiger buite in die natuur as in die stede of dorpe.

Dele van ons land is blykbaar hoeka uitermate “ontvlambaar”, as ’n mens dit so kan stel. Die Portugese ontdekker van die seeweg na Indië, Vasco da Gama, het dit eeue gelede al agtergekom tydens sy verbyvaart langs die Suid-Afrikaanse kus. Die rook van die veldbrande wat hy hier gesien het, het so ’n indruk op Da Gama gemaak dat hy die land Terra de Fume (Land van Rook) genoem het.

Later het Jan van Riebeeck op ’n keer twee Saldanha-Khoisan met tabak beloon omdat hulle ’n veldbrand geblus het.

En die eerste Kaapse goewerneur, Simon van der Stel, het in 1687 ’n dekreet uitgevaardig dat enige stigter van ’n veldbrand lelik pak moes kry as dit sy eerste oortreding was. As hy ’n tweede keer só sou oortree, moes die roekelose piromaan met die dood gestraf word. (Dink net as hierdie wet vandag nog gegeld het!)

In Februarie 1869 was ’n bosbrand ’n nasionale ramp in Suid-Afrika. Altesaam 480 km vanaf Swellendam in die weste tot Humansdorp in die ooste het in ligte laaie gestaan. Honderde plaashuise is verwoes, 31 mense is dood en duisende stuks vee en tallose wilde diere is dood.

Ook in die woongebiede was brande veral vroeër ’n groot gevaar in ons land. Dit was omdat die meeste huise destyds grasdakke gehad het. In 1710 het ’n brand die dorp Stellenbosch omtrent heeltemal in puin gelê nadat ’n grasdak vlam gevat het.

Die brandstigter was glo iemand wat onnadenkend gerook het terwyl ’n sterk suidooster op die dorp gewaai het.

Binne ’n paar uur is die Stellenbosse kerk, die raadsgebou en alle woonhuise behalwe vier tot as verbrand. Om die brandgevaar te verminder het die goewerneur van die Ou Kaap die mense verbied om in die strate te rook.

Brand en rook in die Kalahari-woestyn in Suidelike Afrika is ’n algemene gesig vir ruimtevaarders. Die rookpluime word nie deur laevlakwinde weggedra nie. Pleks daarvan styg die rook op en sprei dit egalig bokant die vuur uit – wat dit vanuit die ruimte na “rookpannekoeke” laat lyk. Party van die brande is warm genoeg om klein cumulus-wolke bo-op die rook te ondersteun (die wollerige wit wolkies in die middel van die “pannekoeke”).

Moenie met vuur speel nie, nie die oranje vlam ene nie, en ook nie die lekker gevaarlike ene nie. Jy GAAN jou vingers verbrand, true as njannies.

Bron: http://www.mieliestronk.com

4 thoughts on “Vuur – die goeie dienaar en die slegte baas

  1. Dit was nou ‘n baie interessante skryfstuk. Dit het my laat terugdink aan ‘n fliek wat ek baie jare terug gekyk het. Quest for Fire. Ek kan nou nog nie besluit of dit ernstig bedoel was en of dit ‘n komedie was nie. Nou wonder ek of iemand anders dit dal gekyk het. Miskien kan hulle dit vir my opklaar.

  2. Dankie Son vir die lekker vurige brokkies! Bly ek was nie ‘n Sparteoli wat die hele nag met ‘n emmer moes rondloop nie.

    Jy weet hoe het Zeus vir Promotheus gestraf? Hy was lewendig aan ‘n rots vasgemaak waar ‘n reuse arend elke dag sy lewer weggevreet het, en dan sal sy lewer teruggroei deur die nag… net om more weer deur die arend gevreet te word.

  3. Ja’k. Ek moet ook daai stukkie huiswerk indien, en ek breek nog my kop daaroor. 🙄

    Dis nogal interessant om oor die geskiedenis van vuur (of die voorkoming daarvan!) in ou Suid-Afrika te lees. Nog nooit gedink dat vuur ‘n probleem was daai dae nie, maar dit klink nou asof dit ‘n groot issue was vir ons voorvaders. 😆

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s