Die Lewe · Raak gelees

Verdraagsaamheid

Waar ek werk, is almal baie ingesteld op ‘groen’ lewe en word ons aangemoedig om ons koolstofvoetspoor so min as moontlik te hou. Een van die dinge wat hiermee gepaardgaan, is om in saamryklubs werk toe en terug te ry, sodat die motors op die pad minder is en uitlaatgasse ook minder is – al ry ons mos deesdae almal met sogenaamde loodvrye petrol.

Ek was nog nooit een vir saamry nie. Ek hou nie daarvan om afhanklik te wees van ander mense se kom en gaan nie. Toe die geleentheid hom egter voordoen en ek besef ek kan feitlik die helfte van my petrol uitgawes spaar, asook die slytasie op my motor, moes gesonde verstand buig voor onafhanklikheid.

So ry ek nou al 5 maande lank saam met twee ander dames, noem hulle maar X en Y. Gelukkig sit ek agter, want ek klim laaste in en word eerste afgelaai. Dus hoef ek nie altyd praatjies te maak nie en kan ek soms net my oë toemaak en maak asof ek moeg is, of so iets.

Dis nie dat ek anti-sosiaal is nie. Daar was al baie dae wat ek ook land en sand saamgesels het, mits die onderwerp hom daartoe leen. Daar was al dae wat ons mekaar trakteer het op staaltjies uit ons verledes of iets snaaks wat in ons onderskeie afdelings gebeur het en dan lag ons so dat die mense in die ander motors hulle aan ons verwonder.

Die meerderheid van die dae klim ek egter in die motor, dan is X en Y reeds besig om iemand te bespreek. Soms is dit iemand wat ek persoonlik ken, uit die aard van ons werk, en soms ken ek net die naam van die persoon en het nog nooit self met hom/haar te doen gehad nie. Die bespreking klink dan gewoonlik so iets:

X: “Het jy gesien hoe lyk E nou weer gister? Het sy nie ‘n spieël waarin sy haarself kan sien nie?”

Y: “Ja, daai ou verbleikte trui van haar, sy het dit hierdie winter omtrent elke tweede dag aangehad.”

OF

Y: “Ek het gister L se vrou in die mall gesien?”

X: “Ooo, is sy nog so dik?”

Y: “Ja, nog dikker. Ek sê jou, ROND soos ‘n pampoen! En groet mens mos nie. Dink seker die son skyn uit haar gat uit.”

En aan, en aan, en aan. Soggens en middae. Ek is seker julle kry die boodskap.

As hulle oor mense praat wat ek nie ken nie, hou ek my mond. Die kere wat hulle al oor mense gepraat het wat ek wel ken, en deels die waarheid gepraat het, het ek ook my mond gehou, want ek wil nie saampraat oor werkskollegas nie – dis iets wat ek jare terug geleer het. Vandag skinder X by jou oor H en more gaan skinder X by H oor jou en sê ook sommer jy het iets gesê wat jy eintlik dalk in antwoord op X se skindery oor H gesê het. Ek hou my mond dus styf toe!

Die kere wat hulle oor iemand gepraat het en ek die persoon onder bespreking anders ervaar het, het ek wel my mond oopgemaak en dan iets probeer soos: “Ek het darem nog nooit daardie sy van die persoon ervaar nie” of “Haai weet julle, met my was die persoon nog net vriendelik en ordentlik.” Of so iets.

Nie dat my tussenwerpsels hulle enigsins verhinder om lustig voort te borduur en die persoon uitmekaar te trek nie. Hulle sal my nog mooitjies vertel ek moet net wag, ek sal nog daardie persoon se slegste kant leer ken.

Die hele ding maak my naar. Ek wil nie meer saam met hierdie mense ry nie, maar ek het ook in ‘n mate afhanklik geword van hulle.

En ek wonder wat het van verdraagsaamheid in ons samelewing geword. Is mense net heeltyd daarop uit om slegs die slegste in ‘n medemens raak te sien?

Toevallig lees ek toe vanoggend hierdie raak en al is dit nie heeltemal op my pyne van toepassing nie, haal ek net ‘n paar sinne daaruit aan:

Om ons land te bou, is positiewe verdraagsaamheid nodig, en dit behels veel meer as “verdra” en “aanvaar”.

In Afrikaans is verdraagsaamheid se betekenis inderdaad ’n bietjie dunnerig. Dit beteken dinge soos “duld” en “uitstaan” wat verstaan kan word as lydsame, passiewe aanvaarding in die trant van: ek laat jou maar praat en begaan, maar eintlik gaan jy my nie aan nie.

Daarom is dit miskien nuttig om terug te gaan na “verdraagsaamheid” se wortelbetekenis om iets dieper as dít te snap.

Die Latynse oorsprong van verdraagsaamheid (“toleransie”) is saamgestel uit toleratus, wat beteken: “om te verduur”; tollere, wat beteken: “om op te tel” en tuli, wat beteken: “om te dra”.

Alles saam geneem, sê dit verdraagsaamheid is ’n omvattende aktiewe gevoelshouding. Terwyl jy ánders as ’n ander mens dink en doen, dra jy die ander se opvattings en optredes saam asof dit jou eie is. Daardeur verstaan jy beter hoe en hoekom ’n ander mens, of groep mense, dink en doen.

Positiewe verdraagsaamheid word versterk deur die begrip “respek”, wat eweneens ’n verrassende betekenis in die oorspronklike Latyn het: die woord respicere beteken letterlik: “om weer te kyk”.

Wat impliseer dat jy weer en weer die standpunte van ’n ander sal aanhoor, oorweeg en weeg – asof dit jou eie is.

Nou ja, dan moet ek sekerlik ook verdraagsaam wees teeenoor my mede-reisgenote, al is dit hoe moeilik. Dis net vir my so erg dat mens tot ‘n punt in jou lewe gekom het waar jy nooit, of bitter min, iets positiefs oor ander mense te sê het en net altyd na ander kyk met die idee om te sien waar die persoon, volgens jou waardes en meetstok, te kort skiet.

Wat maak dit saak as iemand se trui verbleik is? Of as iemand rond soos ‘n pampoen is? Moet mens nie eerder die moeite doen om die mens agter die trui of die mens binne-in die pampoen raak te leef nie?

Ek sal nooit my ma se woorde vergeet nie: “As jy niks goeds van iemand te sê het nie, hou jou mond.”

24 thoughts on “Verdraagsaamheid

  1. Afrikaners oor die algemeen beskinder mekaar. Engels-sprekende Suid-Afrikaners het nie tyd vir sulke nonsens nie, hulle werk. Afrikaners oor die algemeen in die Kaap is verreweg meer uitgesproke as elders, want hier doen JY dan presies dit ook, jy beskinder die mense met wie jy ‘n geleentheid werk toe kry.
    Vertel hulle eerder reguit as om dit hier vir die hele wêreld te verkondig

    1. Lida –
      Eerstens: Verstaan ek jou reg? Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners werk NIE? Jy moet my tog vertel waarvan lewe hulle dan en hoe kom hul werk gedoen. Ek maak my dalk skuldig aan my mond hier op my blog rek, maar jy maak jou skuldig aan verregaande veralgemening.

      Tweedens: Ek BETAAL vir daardie geleentheid werk toe. Dalk nie soveel soos wat ek sou betaal het as ek alleen moes ry nie, maar meer as genoeg om nie te voel ek word ‘n guns gedoen nie.

      Derdens: Ek het 12 jaar in Gauteng gebly en het ervaar dat mense maar regoor die land ewe uitgesproke is. Dis beslis nie area gebonde nie. (wonder waar bly jy?)

      Vierdens: Ek het niemand beskinder nie. Ek het hier geskryf oor hoe ek voel as mense wat ek elke dag mee moet saamwerk, voor my beskinder word. Niemand wat hier lees, KEN die vrouens van wie ek hier geskryf het nie, so ek het hulle nie direk enige skade aangedoen nie. Buitendien, as hulle sulke los bekke mag hê, moet hulle seker verwag dat iemand iewers een of ander tyd vir hulle van hul eie medisyne gaan ingee.

      Laastens: Ek voel gevlei. Ek het nie geweet die hele wêreld lees my blog nie. So, Afrikaans kan dus beslis nie ‘n dooie taal wees as die hele wêreld dit deesdae verstaan en lees nie👿

  2. Skinder is die duiwel se eie persoonlike radiostasie… en skinderbekke se idee van hel is die plek waar elkeen hom by sy eie besigheid en tekortkominge moet bepaal.
    Mens moet seker nie veralgemeen nie, maar as daar nou een ding is wat ek in die lewe geleer het, dan’s dit dat vrouens die grootste oorsaak is van ander vrouens se ‘hell on earth’.
    Ek is VREESLIK uitgesproke en direk as dit kom by skinder en neerpraat en verkleineer en oordeel – VERAL as dit met betrekking tot uiterlikes is👿 Jy SAL NIE voor my die geleentheid kry om iemand se uiterlike (gewig, hare, klere) te bespreek nie. Ek sal vir jou aanvat en vasvat, want as dit jou pla, maak ‘n plan. As dit jou pla hoe iemand lyk – loop koop vir die vrou ‘n pragtige nuwe trui, of ‘n voucher by jou haarkapper en laat dit vir haar aflewer – anoniem met ‘n beautiful kaartjie daarby – tel jou woorde versigtig en BLESS haar met dade eerder as om haar met woorde te kruisig.
    Dis ‘n catch-22 vir jou Sons, ek verstaan. Maar soos Louisa tereg sê – negatiewe mense tap my léég – en dis moeiliker en duurder om my siel weer ‘vol’ te kry as om ‘n tenk petrol in te gooi.
    Seg vir die Here jy wil graag eerder alleen ry – of Hy dit nie vir jou kan help moontlik maak nie. Ek wéét Hy kan. Ek gló Hy sal.

    1. BB – ek het al baie keer gevoel om hulle reguit te vertel wat ek van hulle geskinder ding, maar soos jy sê, dis ‘n Catch 22. Ek werk daaraan om eerder op ‘n ander manier werk toe te gaan, want jy is doodreg, my sielsvrede is meer werd as petrol spaar. Dalk vat ek nog Roer se raad en begin fietsry – dink net wat dit vir my figuur sal doen, never mind die carbon footprint!

  3. Dis soos ‘n lelike siekte. As jy iemand anders kan slegsê kan jy beter voel oor jouself. Pure, absolute snert. Gelukkig is ons ‘n klein groepie, maar ek onthou by my vorige maatskappy het ek ook maar net altyd stilgebly. Want soos jy sê ja, more word daar aan dar die persoon vertel presies wat jy gesê het.

    Verdraagsaamheid is ‘n wonderlike woord. Meer mense kan werk daarvan maak om dit te doen ook.

  4. Ek haal my hoed af vir jou as jy kan uithou dag in en dag uit. Ek vind hoe meer negatiewe mense ek myself mee omring hoe minder energie het ek. Dis moeilik om ‘n goeie buzz te behou as dit heeltyd net slegte goed om jou gons.

    1. Dis juis die ding – ek sukkel Louisa. Ek sukkel erg en dit begin vir my iets word waarteen ek elke dag opsien. En ek wil dit nie so hê nie, want dis vir my lekker by my werk. Maar nou is dit nie vir my lekker om werk toe te GAAN nie!

  5. Dit voel vir my ook al meer of mense net oor ander mense praat. Sonder om te dink, net een stroom woorde. My pa is ‘n man van min woorde, maar het my van kleintyd af gereeld gestop as ek nog iets wil kwytraak oor ‘n maatjie met: “weet jy wat in hulle huise aangaan?” As ‘n beginpunt is “se niks dan is daar niks” seker ook iets om on gedagte te hou.

  6. Ek het ‘n tannie wat beweer as mens die waarheid praat is dit nie skinder nie😆

    Is daar nie iewers ‘n aanhaling wat sê groot geeste praat oor idees en gewone mense praat oor mense nie?

  7. Jou aanhaling was UITSTEKEND! Dankie! Ek dink ons kan maar seker almal probeer om meer verdraagsaam, of dalk meer sensitief te wees vir ander mense? Soos die uitgewasde trui – dalk is dit haar beste trui. Of dalk gee sy nie soveel om vir haar klere nie, omdat ander dinge vir haar belangrik is. Ek het veral die laaste paar weke in ons bybelstudie geleer dat ons ons ore moet oopmaak vir ander mense, veral die wie anders as ons doen en dink en lyk, en hoor hoe hulle HARTE klop! Die BAIE bevredigend! Ek weet nie hoe om vir ‘n negatiewe persoon te leer om positief te wees nie. Sterkte! Jy het ‘n ROEPING in daardie voertuig, hoor!!

  8. Klink vir my na plein skinder – en skinder is mos nou nie oor mooi goed nie, want dan is dit nie skinder nie – solank jy nou nie saam skinder nie. Hierdie twee klink vir my soos twee skinderbekkies vir wie jy maar liefs geen ammunisie moet gee nie.

  9. Sjoe, dis goed gesê. Oordeel is nie vir ons nie, ek stem daar saam met jou. Ek voel altyd dat as ek niks in my verlede het wat erger as daai persoon se doen en late is nie, ek nie ‘n opinie kan lig nie. En dit gebeur bitter min, dat ek mense raakloop wat erger dinge as ek gedoen het dus hou ek maar eerder my mond.

    1. Definitief PJ. Ek is selfs ook soms skuldig, maar daai twee maak my elke dag meer vasebrade om my mond STYF toe te hou. Dis dalk heokom ek saam met hulle moes ry – om dit daaruit te leer🙂

  10. Dankie vir hierdie inskrywing. Dit praat met my. Ek kry gewoonlik my mond gesnoer (op ‘n manier), maar ek DINK nogsteeds soms die goed so dis in my hart… Wat die koolstofvoetspoor betref, ek dink hoeka lankal ons almal moet fietsry.🙂

  11. Ek het nou die dag die paartjie by die motorhawe gesien. Sy het gepermde hare, lank en maar, heeltemaal in pers geklee met ‘n blom op die bors. Boonop het sy oopmond kougom gekou. Hy het langerige harige, PT short en crocs. Die woord wat by my opgekom het was Zef. Hulle het ‘n ouerige kar gery.

    Toe hulle ry sien ek daar is ‘n ander man by hulle met ‘n bakkie en trailervrag vol meubels. Hulle reis saam, so ek neem aan dat hulle besig is om te trek.

    Dit is ‘n feit dat ons nou net uit ‘n resessie kom. Ja, hulle het dalk vir my zef gelyk, maar veral wat ek weet is dit op die oomblik die beste wat hulle het. Hulle was vrolik, so hopelik is hulle oppad na ‘n nuwe toekoms wat hulle omstandighede sal verbeter.

    Ek het my in elk geval geskaam. Niks gee my die reg om snedig te wees teenoor ‘n ander se voorkoms nie. Dit is nou nie asof ek deur ‘n ring getrek kan word nie.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s