Raak gelees

Kom eet vanaand by my

Eerder laat as nooit. Die Merrie het al ‘n paar dae gelede opdrag gegee dat ons oor besonderse vroue moet skryf wat ons graag vir ete sal wil nooi, in die lig van 9 Augustus wat Vroudag was. Wel, kom ons verbeel ons dan sommer nou die hele Augustus is Vrouemaand (is dit nie hoeka ook die maand waarin katte rondloop nie?!) 😈

Dit sal natuurlik ’n lekker gesellige aansit ete wees, met baie lekker kos, poeding en genoeg wyn om die tonge los te maak. En met vroue uit uiteenlopende kringe, net om alles meer interessant te maak.

Die eerste vrou op my gastelys is natuurlik Helen Zille.

Helen Zille

Dit mag dalk nie baie oorspronklik klink nie, maar ek het ‘n groot bewondering vir haar. Helen is in Johannesburg gebore en het haar BA graad aan die Universiteit van die Witwatersrand verwerf. Gedurende die apartheidsjare was sy ’n politieke joernalis by Suid-Afrika se mees liberale koerant van daardie tyd, die Rand Daily Mail.

Sy was ‘n vurige anti-apartheid ondersteuner en het bekend geword vir haar ondersoekende joernalistiek. Dis dan ook sy wat die verdagte omstandighede oopgekrap en blootgelê het waaronder Steve Biko in 1977 dood is terwyl hy deur die polisie aangehou is.

In die middel 1990’s sluit sy by die Demokratiese Party aan. In Mei 2006 word sy verkies tot burgemeester van Kaapstad en in 2007 tot leier van die Demokratiese Alliansie. Nadat die DA in 2009 die Wes-Kaap gewen het in die algemene verkiesing, word Zille ook die Premier van die Wes-Kaap.

Die tweede vrou wie ek sal nooi is Pocahontas.

Pocahontas

Pocahontas is in Maart 1595 in Gloucester County, Virginia gebore. Haar regte Indiaanse naam, wat haar pa, Hoofman Powhatan, aan haar gegee het, was Matoaka. Pocahontas is egter haar troetelnaam, wat “my gunsteling dogter” beteken.

In 1607 het setlaars na die Chesapeake Bay area gekom. ‘n Paar jaar later word John Smith, die militêre leier van Jamestown, deur Pocahontas se mense gevange geneem. John word amper doodgemaak deur die Indiane en Pocahontas het haarself letterlik oor hom gewerp sodat haar mense hom nie kon doodslaan nie. Sy dring dan ook aan dat hy vrygelaat word en teruggeneem word Jamestown toe. Haar pa, Hoofman Powhatan, eerbiedig die versoek van sy gunsteling dogter.

Hierna neem Pocahontas gereeld kos vir die hardwerkende setlaars in Jamestown en haar vriendelikheid en vriendskap dra daartoe by dat die vrede bewaar bly tussen die Indiane en die setlaars.

In 1609 keer John Smith terug na Engeland en verhoudinge tussen die twee groepe begin weer versleg. In die lente van 1613 neem Kaptein Samuel Argall vir Pocahontas gevangene om haar te probeer gebruik om ‘n permanente vredesooreenkoms van die Indiane af te dwing. Gedurende haar gevangeneskap is Pocahontas heel goed behandel. Sy word bekeer tot Christenskap en herdoop na Lady Rebecca.

Na Hoofman Powhatan voldoen het aan die losprys ooreenkoms was Pocahontas vry om terug te gaan na haar mense. Sy het egter intussen verlief geraak op ‘n setlaar, John Rolfe. Met die toestemming van haar pa en Virginia se goewerneur, Sir Thomas Dale, trou die twee uiteindelik.

In 1616 reis sy en John Rolfe na Engeland, waar Pocahontas deur die Engelse bewonder en aangehang word en sy ontmoet selfs vir Koning James I. Net voor hulle kon terugkeer na Amerika, word sy egter dodelik siek met pokkies en in Maart 1617 sterf sy in Gravesend, Kent.

Die derde vrou op my gaste lys is Aspasia van Miletus.

Aspasia

Aspasia is iewers in die jare tussen 460 en 455 vC gebore, in Miletus, Griekeland. Gedurende 445 vC trek sy na Athene en tree op as ‘n hetere, ‘n soort prostituut, maar een wat in ‘n baie hoë klas val. Hier ontmoet sy die mees magtige en invloedryke mans in Athene, insluitende Pericles, die heerser van Athene gedurende ‘n deel van die Klassieke Tydperk. Sy word dan ook sy minnares.

Daar word geglo dat sy geweldige invloed oor Pericles gehad het, al was sy nie sy wettige vrou nie. Dis sy wat hom oorreed het om oorlog te verklaar teen Samos oor ‘n grensgeskil. Sy en Pericles het ook ’n seun gehad, ook genoem Pericles. Die seun het later ’n generaal geword en is tereggestel kort na Aspasia se dood.

Aspasia was ‘n goeie redenaar en het baie redevoeringe geskryf. Sy is beskou as die leier van die retoriek in die Klassieke Tydperk. Sy het ook graag filosofie bespreek met Socrates, wat haar sy onderwyseres genoem het. Een van haar lesse was aan ‘n man en vrou, vir wie sy oortuig het dat hulle nooit gelukkig sal wees as hulle bly soek na die ideale lewensmaat nie.

Dit is Aspasia se talent as redenaar wat haar die teiken van Pericles se vyande gemaak het. Sy is een keer beskuldig van goddeloosheid en oneerbiedigheid, maar Pericles het haar goed genoeg verdedig dat die klag teen haar laat vaar is.

In 429 vC sterf Pericles van die plaag en in 428vC ontmoet Aspasia ’n skaapverkoper, ene Lysicles, en sy trou kort daarna met hom. Sy leer hom etiket en om in die openbaar toesprake te maak en kort voor lank word hy ’n prominente politieke leier in Athene.

Hierna is daar nie meer veel bekend oor Aspasia nie, behalwe dat sy in ongeveer 410 vC oorlede is. Sy is egter een van die min Griekse vroue wat tot vandag nog onthou word deur historici. Sy was ook een van die min vroue wat haar eie naam gekies het – Aspasia, wat beteken Baie Welkom. Sy het ook dieselfde filosofie van bekendes soos Plato en Socrates verkondig, en verdien eintlik om net so bekend te wees soos hulle.

Die vierde vrou aan my etenstafel moet Margaret Gardiner wees.

Margaret Gardiner

Tot vandag bly sy vir my een van die mooiste vroue wat ek nog ooit gesien het en daar was ook nog nooit ‘n sweempie van ‘n skandaal oor haar of haar gesin nie.

Margaret is op 21 Augustus 1959 in Kaapstad gebore en het in die minder gegoede voorstad Woodstock grootgeword. In 1978 word sy Suid-Afrika se eerste Mej Heelal. Sy word in Acapulco, Mexico gekroon deur haar voorganger, Janelle Commissiong, die eerste swart Mej Heelal. Margaret was maar 18 jaar oud toe sy die titel wen. Na die drie semi-finales, beland sy onder die eerste 5, maar in 4de plek. Sy wen egter die kompetisie, en ook die harte van baie mense,  met haar antwoord op die finale vraag.

”Ek is bereid om met enige man te trou wat ek liefhet,” antwoord sy op die vraag of sy dit ooit sou oorweeg om met ’n man van ’n ander kleur te trou.

Margaret is al ’n hele paar jaar getroud met Andre Nel (ook ’n Suid-Afrikaner), ’n professor aan die Universiteit van Los Angeles, Kalifornië. Sy werk tans as tydskrif en televisie joernalis in Los Angeles.

Die vyfde genooide is Prinses Caroline van Monaco, nog ‘n pragtige vrou.

Prinses Caroline van Monaco

Caroline is die oudste kind van Prins Rainier en oorlede Prinses Grace en die suster van Prins Albert, wat nou met die Suid-Afrikaner, Charlene Whittstock, op trou staan.

Caroline het haar aktrise ma se skoonheid geërf en was vroeg in haar lewe reeds die gunsteling van die Europese sosiale pers. Na haar ma se vroeë dood in 1982, het Caroline ingestaan as die nie-amptelike eerste dame van Monaco.

Caroline het ‘n rebelse streep en in 1978 trou sy teen haar ouers se sin met die pierewaaier Philippe Junot. Hulle skei egter in 1980 en in 1983 trou sy met die Italiaanse sakeman Stefano Casiraghi. Die huwelik was op die oog af baie gelukkig, maar Stefano sterf in ‘n kragboot ongeluk in 1990. Hulle het drie kinders, naamlik Andrea (gebore 1984), Charlotte (gebore 1986) en Pierre (gebore 1987). In 1999 trou Caroline weer, met Prins Ernst August van Hanover, na sy hom volgens gerugte by sy vrou afgevry het. Hul dogter, Alexandra, word ‘n jaar later gebore.

Caroline se suster, Stephanie, het ook gereeld opslae in die pers gemaak met haar rebelse gedrag. Hul broer, Prins Albert, is die erfgenaam van die troon, maar in 2002 is Monaco se grondwet so verander dat, indien Albert sonder ‘n erfgenaam sou sterf, sal Caroline die troonopvolger word en daarna een van haar kinders by Casiraghi.

Die sesde en laaste genooide gas, sal Condoleezza Rice wees.

Condoleezza Rice

Condoleezza is in 1954 gebore in die suide van Amerika, waar sy as Afro-Amerikaner maar onder moeilike omstandighede grootgeword het. Condoleezza het haar egter nie deur haar omstandighede laat onderkry nie en op 19-jarige ouderdom verwerf sy haar graad in Politieke Wetenskap (Cum Laude) aan die Universiteit van Denver. Sy word ’n professor by Stanford Universiteit en verwerf etlike toekennings.

Sy is dan ook die eerste vroulike, eerste swart en jongste hoof van die universiteit. Sy dien in George W. Bush Snr se administrasie en lei verskeie sensitiewe onderhandelinge met die destydse Sowjet-Unie. Tans is Condoleezza die Nasionale Sekerheids Raadgewer en is dan ook die eerste vrou wat hierdie pos beklee.

Hiermee is my etenstafel dan nou voltallig. Ek, as die gasvrou en 7de persoon, sal net agteroor sit en hierdie 6 vroue se geselskap gadeslaan en geniet. Ek is seker dit sal heel prettig en insiggewend wees😉

6 thoughts on “Kom eet vanaand by my

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s