Die Lewe

Nie soet genoeg

Daar het al so ‘n paar maande terug ‘n fudge winkel oopgemaak langs die pad waar ons gereeld ry. Elke keer dreig ek om te stop en vir my fudge te koop. Fudge is vir my soos wat alkohol vir party ander mense is – verslawend.

Maandag, met die vakansiedag en als, kry die lus uiteindelik die oorhand en ek maak die Liefie daar stop. Hardloop sommer gou kaalvoet die winkel in, met net ‘n hand vol kleingeld by my, want dan kan ek nie te veel koop nie.

Die verskeidenheid is al genoeg om my skoon dronk in die kop te maak. Ek loop heen en weer voor die glaskaste en besluit uiteindelik op Mississippi Mud. Daar lê sulke blokke – amper soos ‘n chocolate slab. Ek vra die girl agter die toonbank om asseblief vir my ‘n stuk af te sny en beduie so min of meer met my hande hoe groot dit moet wees, nie te groot nie, maar darem effens groter as ‘n gewone blok fudge.

“Jammer, ek kan nie van die blok afsny nie. Dame moet die hele blok vat.”

“Ekskuus?”

Ek dog eers ek verstaan verkeerd, maar sy herhaal haarself.

“Maar hier lê dan oral afgesnyde blokke van die ander tipes fudge?!”

“Ja, maar iemand het nog nie van hierdie (die Mississippi Mud) laat afsny nie, so ek kan vir u net die hele blok gee.”

Nou begin ek so stadigaan my moer strip.

“So, as iemand nou al van die Mississippi Mud laat afsny het, dan sou ek ook van die oorgeblewe blok ‘n stuk kon laat afsny?”

“Ja, dis reg.”

“Nou kom ek sê jou wat… ek word nou daai iemand wat van die Mississippi Mud laat afsny, dan kan enige iemand wat na my hier kom en daarvan wil hê, ook ‘n blokkie kry, want dan is dit klaar gesny. Of dit, of ek loop hier uit en koop niks en bel more die eienaar van hierdie winkel. Okay?”

“Ai tog, ja, laat ek dan maar vir dame ‘n stukkie afsny, voor u my nou in die moeilikheid kry.”

Red nou ‘n volk!

Ek is daar uit met my stuk fudge, maar die soet was nie regtig soet genoeg om die nasmaak weg te vat nie. Volgende keer sal ek maar my fudge tande uittrek.

6 thoughts on “Nie soet genoeg

  1. 😆 Party mense se redenasievermoë verstom my….
    Gister. Ander foon in kantoor lui. Ek tel hom maar op. Dame van die marmitemonster kleur aan die anderkant.
    Ek: Good Afternoon
    MM: May I speak to Mr Pagiel Msiza please?
    Ek: I am fine thank you for asking.
    (Stilte)
    Ek: Pagiel is at the other office. The number is 011……
    MM: So you know Mr Msiza?
    (WDF?????)
    Ek: No, I just know everybody’s telephone numbers. Anybody else in the world you are looking for?

Lewer kommentaar op Charms Kanselleer antwoord