Die Lewe

Sê Nou Maar, As Ek Maar

Sê Nou Maar en As Ek Maar. Twee stalperde. Woorde waarvoor ons tog so lief is. Veral as jy aangejaag het of as jy ontevrede is met jou lewe.

Sê Nou Maar ek wen die lotto, dan sal al my probleme verdwyn.

Sê Nou Maar ek was mooi, dan sou ek baie meer vriende gehad het.

Sê Nou Maar my ma en pa was nie geskei nie, dan sou ek baie beter op skool gedoen het.

Sê Nou Maar my ouers was ryk, dan sou ek ook universiteit toe kon gegaan het.

Sê Nou Maar ek het by die see gebly, dan sou ek elke dag by die strand gaan draf/loop het.

As Ek Maar net nie my laaste geld ook uitgedobbel het nie, dan was ek nie nou in hierdie gemors nie.

As Ek Maar net vir my ouers geluister het, dan het ek nooit met die eks getrou nie en was ek nie vandag ook ‘n egskeiding statistiek nie.

As Ek Maar net nooit my vrou/man verneuk het nie, dan het ek nie alles wat eintlik vir my so kosbaar is, verloor nie.

As Ek Maar net nie daardie laaste dop gedrink het voor ek gery het nie, dan was daar nie nou ‘n ander mens se dood op my gewete nie.

As Ek Maar net geleer het toe ek die kans gehad het, dan sou dit nie nou vir my nodig gewees het om ‘n werk te doen wat ek haat nie.

So kan ek aangaan. Ad Infinitum. Ons almal het hulle. Ons SêNouMaars en AsEkMaars. Nie dat dit help nie. Dis soos Spyt, daai wonderlike ding wat altyd, maar ALTYD te laat kom. Mens kan nie spyt wees oor iets wat jy reg gedoen of nie gedoen het nie, met ander woorde die oomblik as spyt ter sprake kom, dan het jy reeds klaar aangejaag.

Hoekom is dit so moeilik om eers te dink en dan te doen? Hoekom doen mens soms terwyl jy voor jou siel weet jy moenie? Hoekom is dit so maklik om in retrospek te weet wat jy eintlik moes gedoen het?

Oor die SêNouMaars – vergeet wat kon gewees het. Wees dankbaar vir dit wat jy het en werk daarmee. Om elke dag te treur oor wat was, wat jy verloor het of wat jy nooit gehad het of ooit sal hê nie, is ‘n doellose aksie. Moenie omstandighede, jou ouers, jou eks, jou kinders of wie ook al die skuld gee vir wie jy is of nie is nie, of vir wat jy het of nie het nie. Get over it!

Oor die AsEkMaars – as jy foute gemaak het wat jy kan regmaak, doen dit. Oor die res – leer om daarmee saam te lewe en vat verantwoordelikheid vir jou eie dade. En in die toekoms, voor jy optree – DINK! En dan dink jy weer en nog ‘n keer. Wie gaan geraak word deur jou optrede, wat is die moontlike gevolge daarvan en is jy bereid om die “worst case scenario” van jou optrede te dra? As jy daai antwoord klinkklaar ken, doen dan – as jy dan nog vasbeslote is dit is reg as jy doen.

Wees versigtig – A day’s pleasure can sometimes bring a lifetime’s regret.

12 thoughts on “Sê Nou Maar, As Ek Maar

  1. Al wat hierby kort, is die uitdrukking “die wiel draai”. Bitter selde dat die ouens wie aan die bokant van die wiel sit, onthou dat hulle beurt gaan kom om onder te wees. Die volle betekenis van die laaste sin in die inskrywing le in die tweede deel van die sin.

    Die wiel hou nie op met draai bloot omdat iemand klaar die rit geniet het nie. Nie eers Mandela het gereken vergifnis beteken “get over it” nie. Die onregte wat aangedoen word, word eers reggestel – al neem dit ‘n leeftyd.

    1. RTS – of mens aan die bokant of onderkant van die draaiende wiel is, is ‘n persoonlike perspektief. Dalk kyk jy na iemand en dink hy is aan die bokant van die wiel, maar in der waarheid is hy aan die onderkant. Moenie oordeel oor wie vergifnis nodig het en wie nie, oor wie dit verdien en wie nie – voor jy nie TWEE myl in daardie man se skoene geloop het nie.

      En oor Mandela – ek reken hy het tog gemeen – vergewe en gaan dan aan met julle lewens. is dit nie juis hoekom daar nog soveel probleme in ons land is nie? Die wat wel vergewe het, het net nog nooit “get over it” nie. Al neem dit ons ‘n leeftyd, gaan ons steeds nie die apartheids onregte reggestel kry nie. Mens kan nie dooies opwek of gemarteldes ontmartel nie, of swart ouers wat hulle kinders verloor het aan die hand van wit polisiemagte, se kinders vir hulle teruggee nie. Mens kan net seker maak so iets gebeur NOOIT weer nie. En dan aangaan tot die beste van almal se vermoë. Goed?

  2. Sê nou maar is ‘n lekker sê….wees net versigtig waarvoor jy wens. It might just come true.
    Sê nou maar ek het NIE daai lotto gewen nie….

  3. Sê nou maar….. niks.😕 Nee skat – jy sallie glo nie, maar ek “sê nou maar…” nooit en “as ek maar…” never. Wragtig nie. Dit bestaan nie in my woordeskat nie…
    Ek is bv. dankbaar vir my vriende juis oor ek die paartjies wat ek het my vat nétsoos wat ekke is.
    Ek is nie ‘n egskeiding-statistiek nie – ek is die bewys daarvan dat egskeidings jou nie doodmaak nie; dat dit nie jou gees hoef te breek nie; dat ek ‘n survivor is; dat ek mooi (met die Here se Genade😳 spaar my ‘n oor-die-vinger-tik dat ek Hom hier ini blogwêreld insleep) na myself én 3 kinders kon ‘kyk’ – fisies, finansieël en moreel; EN (hier moet ek alweer Hom die eer gee) steeds HEEL is – meer heel as ooit.
    MAAR – Ek seg ook maklik : Get over it… then again by the Grace of (here I go again🙄 ) God, is myne seker klein kruise om te dra in vergelyking met dié wat ander mense het. Who knows?
    Al wat ek kan sê is dit: Hê at least EEN boesembuddy, EEN Vriendin(g), EEN iemand by wie jy soms kan swak wees ook. Kan teem en kerm. En maak seker daai EEN se kop is reg aangeskroef – sodat sy kan troos met die een hand en jou met die ander een sekuur weer in die regte rigting kan help stuur – en as jy nie aldag na haar luister, weet at least daai stuurhand is there for covering your back too sometimes.
    DINK is ‘n goeie gewoonte, ja:mrgreen:

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s