Raak gelees

‘n Padda is ‘n ding wat spring

‘n Padda is ‘n ding wat spring! Ja, maar dis nie al nie.

Amfibieë is die mees primitiewe tipe werweldiere wat op land lewe. Dog, ten spyte van die feit dat hulle ‘n lewe op land aangeneem het, bly hulle afhanklik van klam, nat blyplekke, veral vir hul voortplanting. Hulle is ook die enigste werweldiere wat deur ‘n metamorfose gaan. Die pasgebore amfibieë haal deur kieue asem, wat later met volwassenheid ontwikkel tot longe, sodat hulle ook kan oorleef op droë grond.

Amfibieë, wat uit meer as 4700 soorte bestaan, word in Suid-Afrika verteenwoordig deur die klas Anura, ‘n groep stertlose amfibieë, beter bekend as paddas.

Suid-Afrika se paddas behoort aan 10 families en meer as 50% van die ongeveer 115 spesies kom nêrens anders in die wêreld voor nie. Een van die interessante karaktertrekke van paddas is hulle roep. Elke spesie het sy eie kenmerkende paringsroep, wat die mannetjie gebruik om die wyfie na die broeiplekke te lok. Omdat paddas eerder gehoor as gesien word, is hul roep ook nuttig om elke spesie uit te ken.

As gevolg van die semi-water lewenssiklus van meeste soorte paddas, asook hul semi-deurdringbare vel, is paddas baie vatbaar vir besoedelende stof en ander omgewingstres. Paddas word dikwels beskryf as die aanwysers van ‘n gesonde ekosisteem en speel ‘n onmisbare rol in die voorsiening van belangrike inligting oor die toestand van die omgewing. Omdat paddas so hoogs sensitief is vir enige verandering in hul omgewing, is hul verdwyning ‘n duidelike tekening van ‘n wanbalans in die groter ekosisteem. Die verandering in die osoonlaag, aardverwarming, lug- en waterbesoedeling, asook die verspreiding van siektes, is alles bydraende faktore.

Die padda-bevolking dwarsoor die wêreld is al vir geruime tyd besig om af te neem en dit vertel vir ons net een ding; die aarde is in die moeilikheid!

Binne slegs twee dekades het spesies wat voorheen volop was, soos die Australiese Corroboree Padda, ‘n krities bedreigde spesie geword, terwyl ander spesies heeltemal uitgesterf het. Byna ‘n vyfde van Suid-Afrika se padda spesies word bedreig, sommige tot die punt van totale uitsterwing.

The Atlas and Red Data Book of the Frogs of South Africa, Lesotho and Swaziland (2004) het bevind dat 20 van die 114 opgetekende spesies (ongeveer 17.4%) bedreig word. Vier van hierdie spesies is geklassifiseer as krities bedreig, agt as bedreig en agt as kwesbaar.

‘n Verdere vyf spesies is ook naby die gevaarlys en die status van nog agt ander is onbekend omdat daar so min data oor hulle beskikbaar is.

Twee van die vier krities bedreigde spesies kom in die Kaapse Skiereiland voor. Hulle is die Tafelberg Spookpadda, wat in slegs vier stroompies op Tafelberg te vinde is, en die Mikro padda, wie se enigste oorblywende bevolking op die Kaapse Vlakte is, in die inheemse plantegroei binnekant Kenilworth Renbaan.

Die ander twee krities bedreigde paddaspesies is Hewitt se Spookpadda, wat net voorkom in die Elandsberg in die Oos-Kaap, en die Misband Mospadda, wat beperk is tot die oostelike platorand van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Beide spesies se blyplek word bedreig deur kommersiële bosbou en indringer uitheemse plantegroei.

Nog twee spesies wie se voortbestaan in die weegskaal is, is die Westelike Luiperdpadda, wie se broeiplek by Zandvlei is, in die pad van ‘n beoogde tolpad, en die bedreigde Kaapse Platanna, wat alreeds beperk is tot die Kaapse Natuurreservaat, Bettiesbaai/Kleinmond en die Agulhas Nasionale Park.

Van die algemene dinge wat paddas se voorbestaan bedreig, is:

Bosaanplanting, soos die plant van bome, wat strome laat droogloop en inheemse plantegroei vernietig.

Landbou, veral waar daar te min natuurlike habitat oorbly rondom vleilande, asook gifstowwe wat in die water beland.

Stedelike ontwikkeling, veral in kusgebiede.

Bou van paaie, veral naby vleilande.

Padsterftes. Ja, hoe snaaks dit ook al mag klink! Paddas probeer soms die pad oorsteek, op soek na geskikte broeiplekke. In die Groter Johannesburg area is die groot brulpadda se broeiplek reg langs een van die hoofpaaie van die stad en elke jaar word duisende paddas doodgery terwyl hulle die pad probeer kruis.

Die statistiek dui onomwonde aan dat ons dringend moet begin kyk na paddas in bewaringsbeplanning van ons areas. Terwyl paddas baie duidelik voorkom in volksoorleweringe en wetenskaplike studies, vaar hulle maar power op die gebied van bewaring. En tog is hulle van kritiese belang as deel van die voedselketting, as roofdier en as prooi, asook as sensitiewe aanduiers van ons omgewing se gesondheid.

Johannesburg se dieretuin het reeds gehoor gegee aan die noodkrete van die paddas en het ‘n Amfibiese Bewaringssentrum vir bedreigde paddas tot stand gebring. Hulle het ook begin met ‘n Suid-Afrikaanse amfibiese opvoedingsprogram

Hopelik sal die ander stede hulle voorbeeld volg.

So, volgende keer as jy ‘n padda oor die pad sien spring, probeer ten minste om hom nie raak te ry nie. En as enetjie in jou huis of tuin beland, spaar tog ook asseblief sy lewe. Paddas is nie sommer net paddas nie!

Bronne:

http://www.news24.com/SciTech/News/SA-frogs-under-threat-20040603

http://www.jhbzoo.org.za/news/articles/news_29feb08.html

16 thoughts on “‘n Padda is ‘n ding wat spring

  1. Ek het ‘n pet-frog gehad to ek klein was – ‘n weer-parra… sy naam was Albert. En een aand het ek dit in my kop gekry dat Albert koud kry en hy moes persluiks by my doedoe… needless to say – hy’t nie die son sien opkom die volgende dag nie – ek sien nog steeds allie jare in my geestesoog die blotch wat hy op my beddegoed en my pajamas gelos het in sy asemnood…😕 ek kon nog nooit weer ‘n padda in die oë kyk nie, so ja…. ek het dalk direkte aandeel daaraan dat sy soort ‘n bedreigde spesie geword het😳

  2. Die ingenieurstudent loop toe een dag klas toe en vind ‘n padda wat besig is om die pad oor te steek. Hy tel padda op en dra dié veilig oor na die ander kant.
    ‘Ag, dankie’, sê die padda, ‘jy het my ‘n groot guns gedoen. In ruil vir jou heldedaad, sal ek in ‘n beeldskone dame verander as jy my soen’.
    Die student gee die padda ‘n kyk, glimlag en prop haar in sy tas.

    Na klas haal hy die padda uit sy tas en sy begin dadelik te pleit dat hy haar moet soen. ‘Ek sal in ‘n pragtige jong meisie verander en by jou bly vir ewig en altyd.’
    Sonder ‘n woord, maar met ‘n breë glimlag, steek hy weer vir padda in sy sak en stap huistoe. Daar gekom, maak hy sy boeke oop, skakel rekenaar aan en haal vir padda weer uit. Hierdie keer is padda histeries:
    ‘Wat is fout met jou? Ek het belowe dat ek in ‘n beautiful meisie sal verander en by jou bly. Hoe kan jy my nie soen nie?’
    Die outjie glimlag maar net weer en antwoord, ‘ek is ‘n vierdejaar ingenieurstudent; ek het nie tyd vir meisies nie, maar ‘n pratende padda is nogal cool!’

  3. Thanks Anne-Marie vir nog ‘n goeie post.

    Eendag is eendag gaan ek een van daai Spookpaddas op die berg raakloop.

  4. Nog ‘n groot bedreiging vir paddas is die chitrid fungus, wat hul vel aanval, asook ander parasiete wat inwendig voorkom. Chitrid is ‘n groot probleem en ekstensiewe navorsing word reeds al vir ‘n hele paar jaar daarop gedoen. Ek het ‘n Prof. gehad wat navorsing op paddas doen en ons studente was soms saamgesleep om die outjies te gaan vang in die nag…het baie sports afgegee. Dis ‘n baie interessante studieveld en dis amazing hoe sensitief die outjies eintlik is.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s