Gedagtes

Onbekend is onbemind

‘n Vreemdeling is net ‘n vriend wat jy nog nie ken nie.

Ek is seker daar is nog ‘n paar maniere om dit te sê. As baba het ek rugby saam met my bottel ingekry. Daar was niks lekkerder as om op Nuweland te sien hoe wen WP nie, veral as die ander span Noord-Transvaal was. Ja, dis voor Stormers en Blou Bulle en Sharks en al daai fensie name, uitgedink is.

So 17 jaar terug werk ek saam met konstruksie manne. Ook hier is rugby koning. Maar daar is ‘n paar manne wat ook gek is oor krieket. Destyds weet ek amper nie wat die verskil tussen ‘n “over” en ‘n “wicket” is nie. Een van die meer geduldige krieketgeesdriftiges vertel my onomwonde dat daar ‘n gaping in my opvoeding is as ek nie my krieket ken nie. Ek skop styf soos ‘n tweejarige wat ‘n vloermoer gooi in ‘n winkel, oor lekkergoed wat my ma nie vir my wil koop nie, maar met Job se geduld maak hy my wys. Uiteindelik ken ek krieket amper beter as rugby. En ek besef ‘n sportdieet van net rugby is amper so vervelig soos pap en wors.

Toe word Suid-Afrika gekies as die gasheerland vir die 2010 Wêreldbeker Sokker. Ek, soos duisende ander, dink my eie dinke en dis alles behalwe positief. Ek is ‘n ongeneeslike optimis, maar selfs hierdie geswore optimis het haar bedenkinge oor of ons stadiums betyds gereed gaan wees, of ons die misdaad gaan beheer… of ons nie ons name met ‘n moerse plank gaan slaan in die oë van die wêreld nie.

Maar ek hou my mond en ek hou stil-stil my duime vas en soos die tyd nader kom, hoop en bid ek alles gaan vlot verloop. Een ding doen ek egter nie. Ek raak nie opgewonde oor die sokker nie. Ek het nie die vaagste benul hoe sokker werk nie en ek doen ook nie moeite om uit te vind nie. Want al roem ek my daarop dat ek nie ‘n rassis is nie, was sokker vir my nog altyd die swartman se spel. Wys mens net hoe sekere indoktrinasie kan deursyfer sonder dat mens eers regtig wil.

En toe word dit 11 Junie 2010. Saam met al die ander mense begin ek so effentjies ‘n gevoelente kry. Toe ek my weer kom kry, skree, spring en gaan ek soos ‘n besetene te kere, cheer vir Bafana en besef ek het dit. Sokkerkoors!

Intussen het ek al weer aarde toe gekom, Bafana het sleg verloor teen Uruguay en vanaand is hulle uitgeskakel, al het hulle so met hulle hart op hulle mou gespeel dat MY hart wou bars van trots. Sokker sal nooit weer vir my dieselfde wees nie, of liewer, ek sal nooit weer net onbetrokke aan sokker kan dink nie.

Nee, ek is nie idioties genoeg om te dink die 2010 Sokker het al Suid-Afrika se probleme kom oplos nie. Ek is nie idioties genoeg om te dink misdaad / korrupsie / mense wat staak / paaie en dinge wat nie behoorlik onderhou word nie / werkloosheid en al daai lelike dinge gaan soos mis voor die son verdwyn nie.

Wat ek wel is…

Ek is TROTS op my land en sy mense – tot barstens toe TROTS!

Ek is bly vreemdelinge het van heinde en verre hierheen gekom en gesien ons mense word darem NIE om elke hoek en draai net vermoor nie.

Ek is bly daar word wyd en syd vertel dat hierdie een van die mooiste lande is wat hulle nog besoek het.

Ek is bly mense dink ons land het van die vriendelikste mense ter wêreld.

Maar meeste van alles is ek bly dat ek my land se mense so onvoorwaardelik verenig kon sien, ongeag ras, geloof of kultuur. NET daarvoor alleen was alles die moeite werd. Ek glo nie enige Suid-Afrikaner met ‘n hart, gaan onaangeraak deur hierdie tyd nie.

Op 12 Julie is die sokker verby. Maar die onthou sal nog baie lank bly voortleef. Net soos 1995 s’n.

As ek vanaand ‘n lampie kon vryf en ‘n Genie gee my net een wens, sou ek wens:

Maak hierdie nog ‘n draaipunt in ons land se geskiedenis, ‘n positiewe draai.

15 thoughts on “Onbekend is onbemind

      1. Dis vreemd, as jy met jou wordpress gebruikernaam ingeteken is, behoort dit nie ‘n probleem te wees nie. Ek sal bietjie kyk of ek die probleem kan opspoor.

  1. Pap en wors is seker maar vervelig, maar dis blêddie lekker ok!

    Om ‘n burger van ‘n land te wees, enige land, is baie soos om in ‘n verhouding te wees. Jy moet jou land aanvaar met al sy foute en probleme, sonder voorbehoud.
    Ek reken daar is baie rede tot hoop, en hoe meer mense soos jy voel, hoe sterker raak daai hoop

    1. Net so plasie. Weet jy, ek seg die ander dag, vind ‘n paar toeriste (ek het nou al paar keer gedoen) en gesels met hulle, en dan uit hulle oë sal mens net weereens besef in watter wonderlike land jy bly. Weet jy, die ander dag slaap 2 Bulgarians vir 2 aande by my, en ek was lus om te huil van trots toe hulle oor Suid-Afrika praat, hulle het nou van 1 Junie af amper 6,000km afgelê, en vertrek eers weer Maandag.
      Ek glo daar is hoop. Baie van dit.

  2. Die lekkerste was son, dat ek vreemdelinge aan huis kon hê vir bietjie meer as ‘n week, en as vriende uitmekaar kon gaan… en dit alles nav SWC.
    Ek het gister iewers anders ook genoem, met S14 finaal in Soweto het ‘n swart ou aan ‘n vriend van my gesê : Sien, die man op straat kan almal in vrede lewe, as die politici ons net uitlos.

  3. As jy kyk hoe almal, ongeag van kleur, saamgestaan het agter Bafana Bafana, dan wil jy gou ‘n verskriklike komplekse berekening begin maak om te bepaal hoe dit nou oorgedra kan word na alle ander aspekte van ons lewe. We live in hope.

  4. Dis ‘n pragtige pos Anne-Marie. Ek wil net ook ‘n ietsie in die armbeurs gooi. Die ding van “ons” en “hulle”… die ding gaan nooit weggaan nie, want ons het klaar ‘n ander “ons” en “hulle” geword. “Ons” is nie meer wit, en “hulle” swart nie. “Ons” is nou die wat wil en “hulle” is die wat nie wil nie, die wat glo in die toekoms en die wat nie glo nie, die wat in 2010 leef en die wat nog in 1970-something vasgevang is. Suid-Afrika is aan die beweeg en wanneer of hoe ons die wenpaal gaan haal, weet ek nie, maar ek verkies bewustelik om deel van die nuwe ONSE (swart en wit) te wees en nie deel van die HULLES (swart en wit) nie. Ek voel eintlik bitter jammer vir mense wat nog nie hierdie waarheid besef of beleef het nie, want ek beleef dit elke dag by my werkplek… ek droom nie drome of suig duim nie.

  5. Ek het van die begin af gehoop dat alles ‘n groot sukses sal wees. Ek het gehoop dat Bafana goed gaan doen en almal se stoutste verwagtinge oortref. Ek het baie gekerm oor mense wat ons in die voet wil skiet en die SWB verongeluk.

    In dieselfde asem het ek ook gesweer dat die enigste game wat ek gaan kyk is as Bafana in die Finaal speel. Snork. Natuurlik het ek my plig gedoen om die opening wedstryd te kyk. Al het ek weke vooraf daaroor gekla en amper die eerste vuvu moord begaan. Erger, ek het ‘n sokker wedstryd gaan kyk. Ek het ook vanmiddag se wedstryd gekyk.

    Never say never.

    Ek is beindruk met hoe die ouens kan op en af hardloop. Verstom hoe iemand kan krul van die pyn net om die volgende oomblik weer op en af te hardloop. Hulle is ook ongelooflik akkuraat met die kopskote.

    Ten spyte van alles, is ek nog steeds nie ‘n sokkerliefhebber nie. Vir volk en vaderland, nie vir vermaak nie.

    Kan ek daarvoor vergewe word?

  6. Ai, Sonnetjie, wat ‘n pragtige skrywe! Ja, baie het ook seker maar soos jy gevoel, maar jy moet van klip wees om nie aangeraak te word deur die GEES van Ayoba nie. Ek het vanmiddag snot en trane gehuil met die volkslied, en toe weer met die twee doele!! Ek het opgehardloop na my loft, en op my balkon gestaan en my rooi vuvuzela ge-BLAAS!
    Ek is so bly dat ek nou leef, en hierdie hele ding kan beleef. dis wonderlik!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s