Gedagtes

Voetstappe

My kantoor is in ‘n lang gang. Die afgelope tyd kom ek agter dat ek mense begin uitken aan hul voetstappe as hulle die gang afloop. Of dan hoe hulle beweeg, want sommiges loop sag, maar hulle het ‘n teenwoordigheid wat jy kan aanvoel, lank voor jy hulle sien.

My baas loop sulke kort, vinnige treë. Mens se manier van loop gee seker ook ‘n deel van jou persoonlikheid weg. Hy is nogal van nature ‘n haastige persoon.

Dan is daar die ouer omie laer af in die gang. Hy loop altyd met so ‘n rustige sleepstappie. Hy makeer niks nie, ek dink hy is net in daardie stadium van sy lewe waar hy die lewe kalm vat en nêrens heen haas nie.

Die jong outjie wat altyd met sy fiets kom werk, se voetstappe is baie sag, maar hy dra altyd sy fiets die trappe op en gewoonlik is dit die fietswiele wat ek hoor verbygaan, so swisj-swisj verby my deur. Loop hy alleen, hoor mens hom nie, maar jy voel hom verbygaan – dis daai teenwoordigheid.

S dra meesal tekkies en haar loop is ongelyk, maar swaaierig. Sy trap beslis harder op die een kant. M loop gewoonlik soos iemand wat oppad is om te gaan baklei soek met iemand, haastig en gedrewe, maar tog het sy ‘n rustige aura om haar, al klink dit dalk nou teenstrydig.

A is swanger, sy loop versigtig en as sy die gang afkom, dan hoor ek in haar stap hoe sy agteroor leun, soos swanger vroue maar doen.

Die een wie se baba dood is, het altyd ‘n huppel in sy stap gehad. Regtig – al klink dit cliché-erig. Mens kon hom hoor aangehop kom. Ek wonder hoe sy voetstappe van nou af gaan klink?

My eie voetstappe? Ek is heeldag heen en weer en op en af met die trappe. Gister, toe ek die trap afkom, met huistoe-gaan-tyd, sê een van my kollegas wat by Ontvangs staan: “F sê nou net jy is oppad, hy hoor jou voetstappe.”

So, ander mense luister ook na voetstappe.

En jy? Weet jy hoe jou eie voetstappe klink?

7 thoughts on “Voetstappe

  1. Net vanoggend sit ek hier en maak ‘n inskrywing skoene en voetstappe …

    My voet stappe is altyd HAASTIG, ek is HAASTIG in myself, ALTYD!!

  2. Ek wonder ook nou.

    Ons het so mal pop in die kantoor, die tea-lady noem haar “tik-tik-tik” omdat sy altyd op die hoogste hakke teen die hoogste spoed rondtrippel, mens hoor net “tik-tik-tik”. My oom noem my tannie “doefie” oor die geluid wat haar voetstappe op die trappe in hul kinderhuis gemaak het, ek verbeel my ek het nie ‘n geluid wat my identifiseer nie, maar ek is seker ek is verkeerd.

  3. Ek het al gehoor an tegnologie waarmee hulle mense aan hulle stap kan erken.

    Self het ek nog nooit juis moeite gedoen om mense aan hulle stappies te eien nie. Behalwe die irriterende siel wat haar skoene met soveel geweld op die vloer laat klap.

  4. Ek het ook altyd so geluister na die mense se voetstappe toe ek nog in ‘n kantoor gesit het, maar nou nie juis nie. Ek dink myne verander soos my gemoed verander…weet ook nie.

  5. Daai huppel gaan weg wees, vir ‘n lang, lang tyd. En dis soveel moeiliker vir mans om te treur as vir vroue … Ons bid maar hy kry dit weer terug, eendag.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s