Raak gelees

Geen visse in die see

‘n Wêreld sonder visse? Alhoewel dit dalk vergesog mag klink en soos een of ander nuwe bangmaak storie van die bewaringsbewuste beheptes, moet ons net onthou dat dinosourusse, dodo’s en allerhande ander kreature ook eens vrylik die aarde bewandel het, maar lank gelede reeds uitgesterf het. Top wetenskaplikes waarsku ons nou dat ons oseane ‘n soortgelyke ramp in die gesig staar as gevolg van die styging in die suur van die oseaan.

A sea change

From Shakespeare’s The Tempest, 1610:

ARIEL [sings]:
Full fathom five thy father lies;
Of his bones are coral made;
Those are pearls that were his eyes:
Nothing of him that doth fade
But doth suffer a sea-change
Into something rich and strange.
Sea-nymphs hourly ring his knell

A Sea Change is ‘n dokumentêre rolprent wat die publiek se aandag op hierdie dringende, maar tot dusver nog onbekende, krisis vestig.

A Sea Change vertel van die storie van ‘n afgetrede geskiedenisonderwyser, Sven Huseby, en sy soeke na ‘n antwoord oor wat besig is om met die wêreld se oseane te gebeur. Na hy Elizabeth Kolbert se boek, “The Darkening Sea,” gelees het, word oseaanversuring ‘n obsessie by Sven. Sy kruistog neem hom na Alaska, Kalifornië, Washington en Noorweë en so ontdek hy ‘n wêreldwye dreigende krisis waarvan meeste mense onbewus is. Deur met oseanograwe, mariene-bioloë, klimatoloë en kunstenaars te praat, vind Sven uit dat aardverwarming ‘n bose tweeling het, naamlik oseaanversuring.

Oormaat koolstofdioksied word opgelos in ons oseane en dit verander die seewater se samestelling. Hoe suurder die see word, hoe moeiliker word dit vir die klein kreatuurtjies aan die onderpunt van die see se voedselketting om hulle skulpdoppe te vorm. Die gevolg? Die visse waarvan soveel as 1 biljoen mense afhanklik is vir hul bron van proteiene, kan heeltemal uitsterf.

Oseaanversuring vernietig ook die reuksintuie en navigasievermoëns van byvoorbeeld die klein oranje vissies, wat uitgebeeld word in die rolprent ‘Finding Nemo’. Nemo is nou meer verlore as ooit en sal dalk letterlik nooit weer sy pad huis toe kan vind nie.

A Sea Change is nie net ‘n koue dokumentêre rolprent nie, dis ook ‘n hartroerende verhaal van Sven se verhouding met sy 6-jarige kleinseun, Elias. Sven is bekommerd dat Elias dalk nooit die see sal ken soos wat hy, Sven, dit geken het as kind nie.

Die film wys ook dat daar alreeds pogings aangewend word om CO2 uitstortings te verminder. Daar word aangedui dat China en Indië vinnig besig is om wêreldleiers te word in die mark vir alternatiewe energiebronne. In die laaste deel van die film kan die tekens van verandering gesien word en word moontlikhede vir skoner energie opwekking in die toekoms, aangedui.

Die dokumentêr laat mens besef dat ons lewenstyl regoor die wêreld besig is om die aarde drasties te verander, en nie ten goede nie, ten spyte van die feit dat sommige mense dit bloot probeer afmaak as onsin of probeer doodleef.

Een van die dinge wat besig is om te gebeur in die see, is die agteruitgang van die koraalriwwe. Koraalriwwe is die reënwoude van die see en as hulle verdwyn, sal daar derduisende visspesies saam met hulle uitsterf. Die gevolge is te erg om aan te dink.

A Sea Change se debuutvertoning was in Maart 2009. Die Smithsonian Museum, waar dit vertoon is, was stampvol en die slottoneel is begroet met staande applous. Sedertdien is die film vertoon by feeste in Noord-Amerika, Europa en Latyns-Amerika en het dit verskeie toekennings verower.

Die premiere in New York was op 13 September 2009. Na my beste wete is dit nog nie in Suid-Afrika vertoon nie.

Hoe erg is hierdie suurvorming in ons oseane werklik? Vanaf die begin van die industriële rewolusie het die gemiddelde pH van die oseaan se oppervlak gedaal van 8.2 na 8.1, wat die oseaan meer suur maak. Modelle projekteer ‘n verdere daling van soveel as ’n 0.7 eenheid teen die jaar 2300.

Hierdie tempo oorskry enige voriges wat plaasgevind het die afgelope honderde duisende jare. Volgens navorsing, sal die pH van die oseaan aanhou daal as antropogeniese CO2 uitstortings nie drasties verminder en beheer word nie. Oseaanversuring het reeds ‘n impak getoon op verskeie see organismes. Alhoewel die uiteindelike gevolge hiervan nog onbekend is, is daar ‘n definitiewe risiko dat die ekosisteem se verandering die voortbestaan van koraalriwwe, visse, beskermde spesies en ander waardevolle natuurlike bronne van waarde bedreig.

Net soos met vele ander dinge, is daar natuurlik ook hier ’n ‘anderkant’ van die saak. Volgens Bob Halstead is daar by Dobu Eiland, naby Papoea-Nieu-Guinee aktiewe onderwater dampbronne wat so te sê suiwer koolstofdioksied uitpomp. Die seegras hier is ongewoon welig en gesond en daar is ‘n baie gesonde koraalrif net ‘n paar meter daarvandaan.

Sommige bronne reken hierdie oseaanversuring en die katastrofe wat dit kan veroorsaak, is opgetower deur omgewingsbewuste opstokers en is slegs “a wonderful work of fiction”.

Lord Christopher Monckton, ‘n befaamde skeptikus van mensgemaakte klimaatsverandering, wat al getuig het voor die Kongres, sê dat die aardverwarming opstokers besef het dat hulle voorspellings nie waar gaan word nie, dus moes hulle ‘n nuwe afskrikmiddel kry. Monckton glo nie dat die samestelling van die oseaan sodanig sal verander dat dit enige ernstige skade aan die seelewe kan aanrig nie.

Nog een van die skeptici, sê die volgende:

”Wanneer ek voor ’n klas staan en studente leer van die see, of as ek langs ’n rotsagtige kus staan, het ek net een vraag: wat is die belangrikste om te onthou van die see. Wat is die belangrikste ding wat ek in 40 jaar geleer het?

Nothing in the sea works as expected:
its physics, chemistry, biochemistry, physiology, biology and ecology do not work as thought;
truth is often opposite to intuition.
The sea is weirder than we can possibly imagine.
To learn about the sea, forget what you were taught at school, open your mind and begin from scratch.

DIT is die belangrike boodskap wat ek wil hê julle moet onthou wanneer julle lees van aardverwarming of oseaanversuring of enige soortgelyke dinge. Ek het ook ‘n boodskap vir die wetenskaplikes:

Meeste oseanograwe, fisici en chemici behandel hierdie planeet asof dit ‘n dooie planeet is, waar elke krag, elke proses beskryf kan word, uitgedruk kan word in ‘n vergelyking en dan nageboots word deur ‘n rekenaar. Maar die lewensvorme op aarde frustreer al hierdie pogings, terwyl dit terselfdertyd aanpas by veranderende omstandighede. Van alle dinge, is die see die ergste van almal, met sy ondenkbare grootte, kompleksiteit en invloed. Ons mag dit dalk nooit regkry om die geheime van die see te ontrafel nie.

Met dit in gedagte, moet ons besef dat mense wel veronderstel is om die natuur te bewaar en nie meer as 30% daarvan bewerk of ontgin nie. Dog is die natuur vandag besig om by die mens aan te pas en ons kan dit nog slegs verander met ’n kleiner bevolking en minder menslike afval. Wel, dit gaan nie gebeur nie. Dus moet ons aanvaar dat die natuur aan die verander is. Die wêreld is nog altyd besig om te verander en aan te pas sedert die vorige ystydperk en die veranderinge wat deur fossiel brandstowwe veroorsaak word, sal maar betreklik klein wees.

Wat oseaanversuring betref, is daar nog te veel gate in die wetenskaplikes se sogenaamde bewyse en dit wat hulle nie weet nie, is veel meer as dit wat hulle wel weet.

Die hele hipotetiese bedreiging word totaal buite verhouding opgeblaas.

Watter een van hierdie twee uiterste opinies is die waarheid, of is daar dalk iewers in die middel iets wat nader is aan die waarheid? Wat ookal die geval, dit kan nie kwaad doen om te dink watter uitwerking ons dade op die omgewing het en ons aarde op te pas nie, want dit is al aarde wat ons het!

Bronne:

http://www.aseachange.net

http://www.seafriends.org.nz

http://oceanacidification.wordpress.com/

http://www.co2science.org/articles/V12/N22/EDIT.php

http://www.climatechangefraud.com/climate-reports/4277-reports-of-ocean-acidity-discredited

2 thoughts on “Geen visse in die see

  1. Jy sal verbaas wees hoe hoog CO2 vlakke raak in jou huis veral in die winter wanneer deure en vensters toe is. As jy ‘n mariene vistenk het moet die PH vlakke gedurig gemonitor word en vars lug moet van buite in die vertrek ingelaat word. Die invloed van CO2 op PH vlakke in see water is dus goed bekend veral onder mariene aquarium entoesiaste. Die bottom line is die Aarde kan nie 6 biljoen mense dra wat onophoudelik CO2 in die atmosfeer stort nie. Maar wat doen Suid Afrika? Beplan om ‘n moerse steenkool kragstasie te bou terwyl die meerderheid van die publiek selfvoldaan in hulle sitkamers voor die TV sit en oningeligte komentaar rondslinger oor kernkrag.

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s