Sommer net

Waar my wasgoed son vang

Op 14 Februarie “tag” Maankind my om my wasgoedlyn/draad te wys, maar toe gebeur so baie dinge dat ek amper vergeet. Wel, eerder laat as nooit.

Ek het baie laat in my lewe eers ‘n wasmasjien gekoop. Toe my kinders klein was, het ek doeke in ‘n Steri-Nappy emmer gegooi en daarna met die hand gewas. Dit was voor weggooidoeke. Wel, daar was weggooidoeke, maar dit was regtig net vir spesiale tye, soos vakansies en ver ry.

Om wasgoed te was, was (is) altyd vir my half terapeuties. Jy hoef nie vreeslik te dink nie en kan eintlik jou kop op allerhande ver paaie laat loop. Deesdae het ek ‘n fensie toploader en ek hoef maar net kleure te skei en in te gooi, waspoeier en versagmiddel in die gaatjies en ‘n paar knoppies te druk en die res is nie my probleem nie.

Maar vir my is wasgoed ophang nogal ‘n ritueel. Hou in gedagte dat ek nie stryk nie en sover moontlik ook nie klere koop wat nodig is om gestryk te word nie. Ek loop dus met my mandjie gewaste klere wasgoeddraad toe en daar begin my OCD ;-)

Die agterste draad is vir beddegoed en kussingslope. Die middelste draad is vir onderklere en sokkies en die voorste draad is vir hemde, rompe en langbroeke. As daar nie beddegoed is nie, dan is die agterste draad vir die onderklere en sokkies.

20130215_180200

Goed wat pare is, word altyd reg langs mekaar opgehang. Soos dieselfde kussingslope of ‘n paar sokkies. Elke sokkie word by die hak gevat en behoorlik uitgeskud en dan aan die bokant van die enkel deel opgehang.

Elke hemp word onder die arms vasgesteek, sodat daar nie pennetjie merke aan die onderkant is nie. Elke broek of romp word aan die bokant (die middel gedeelte) vasgesteek met drie pennetjies. Een op elke naat en een in die middel.

Elke kledingstuk word ordentlik uitgeskud en baie presies opgehang, sodat dit so min as moontlik plooie of kreukels in het agterna. Elke stukkie wasgoed word ook so van die draad af netjies opgevou en in die emmer gesit. Van daar gaan dit dan rak, kas of hopie toe.

En terwyl ek nou so heen en weer tussen my drie drade loop, is dit my uitsig:

20130215_180143

Of dit:

20130215_180225

 

En soms speel Kattie so bietjie tussen die wasgoed deur

20130215_180308

 

En in die winter gebruik ek wel my tuimeldroër – ek maak elke aand my handdoek warm daarin voor ek gaan bad, want ek doen nie goed met koud kry nie. Verder sal ek net as dit reën die tuimeldroër gebruik, en elke bietjie winterson gebruik om my wasgoed droog te kry. Baie keer sal ek dit wel van die draad af vir so ‘n paar minute in die tuimeldroër gooi, net vir daardie ekstra bietjie droog en warmte.

Fluit fluit, my wasgoed storie is uit. O ja, NET ek hang my wasgoed op. Nog al my lewe lank.

Categories: Sommer net | 27 Kommentaar

Feëtjievlerke vlieg veilig

Ag, hulle het nou ook nie heelpad net gevlieg nie, en ook nie op hul eie nie, maar dit klink net so lekker as opskrif ;-)

Saterdag, voor my ekspedisies met suster en kinders, moes ek eers vir my eie kind ‘n draai ry. As mens in die Camdeboo vlaktes van die Karoo bly, dan is daar nie sommer om die eerste blok ‘n “party shop” of so iets nie. Dan is die naaste dorp met ‘n Mall 170 kilometer ver, en dis ook nie eers ‘n baie groot Mall nie. En die naaste stad is 300 km ver. Dan raak sake ingewikkeld as iets buite ‘n Pep Stores of Tuinkafee of Padstal of Kooperasie of Standard Bank of Polisiestasie benodig word. Dan is dit wanneer daar ‘n SOS of rooksein of BBM na ‘n ma in die Kaap gestuur word. Gelukkig IS daar ‘n ma naby “party shops” en Vodashops.

Want anderdag middag laat is daar ‘n noodsein – “Ma, my foon maak so ‘n wit skerm! En wil nie werk as die charger nie heeltyd ingeplug bly nie. En die agterkant wil nie toemaak nie, lyk asof battery opgeswel is.”

Ek weet self nie wat dit kan wees nie, maar gelukkig het sy ‘n spaar foon. Al my ekstra fone kry mos op een of ander stadium ‘n geleentheid Karoo toe. “Gebruik die spaar foon, ek sal more kyk wat ek kan doen.” Ma’s kyk altyd wat hulle kan doen en as hulle nie kan nie of nie weet nie, dan doen hulle in elk geval. Hulle MOET, want God couldn’t be everywhere, so he created mothers :lol:

Ek slaap sleg daardie nag, droom van opgeswelde Blackberry batterye. Toe dit lig word gooi ek ‘n lyn na Google toe. Ek skrik my uit my pajamas toe ek woorde soos “explode in your face” en sulke nare dreigemente sien oor opgeswelde batterye. Terwyl die haan nog nie eers oor die werf in die Karoo kraai nie – o ja, daar is mos nie meer ‘n haan nie, hy het verstik aan ‘n stukkie brood, shame! – bel ek haar nommer en bid net die simkaart is al in die ander foon en ek laat nie nou die Blackberry ontplof nie. Antwoord sy nog deur die slaap, maar ek skree elke stukkie vaak weg; “Sê vir my jy het jou simkaart al in die spaar foon gesit!”

“Neeeeeee ma, nog nie, die foon werk nog as hy op charge is.”

“Haal uit, haal nou dadelik daai simkaart uit, die foon kan ontplof van daai opgeswelde battery! Sms my as jy die simkaart in die spaar foon het. NOU DADELIK!”

Sy het seker groter as ek geskrik, want skaars ‘n minuut later kom die sms. Middagete jaag ek winkel toe, Vodashop toe, vertel die oulike ou agter die toonbank en hy gee my ‘n generiese Blackberry battery, maar dit het darem ‘n jaar waarborg, en ook sommer ‘n nuwe charger, net ingeval die oue dalk ook kan ontplof. Ja, ja ek weet – overkill, maar beter bang as dood. Jaag poskantoor toe, battery en charger toe reeds in bubble koevert, vra die tannie agter die toonbank wat is die vinnigste pos, want dis chroniese medisyne. (Ek dog toe ook iemand sal dalk nog foon goeters steel, maar darem seker nie iemand se medisyne nie.) Sy beveel hulle spoedpos aan – dit vat toe REGTIG net ‘n dag en ‘n nag. Sy help my woerts-warts en daar gaan die Kaap se winkelgoed Karoo toe.

Megan sê; “Jinne ma, jy moet hoop daar is nie ‘n druggie iewers op die poskantoor se pad nie, dan steel hy dalk nog my ‘chroniese medisyne’!” Ag hel, ek kan ook nie voorsiening maak vir elke gebeurlikheid nie – dink net hoe de hel in gaan die druggie wees – hy sal maar aan die battery moet snuif of suig!

Maar hier wil ek net vir ‘n oomblik afwyk – mense kla so baie en vertel nie altyd van goeie dinge en goeie diens nie. Ek wil ons SA Poskantoor regtig vyf sterre gee – ek pos al vier jaar lank pakkies vir my meisiekind, en NIKS het nog verlore geraak of geskeur of gebreek anderkant uitgekom nie. Nou het ek hulle spoedpos ontdek – wat WERKLIK oornag pos is, kos omtrent so R60 vir ‘n redelike groot pakkie. Hulle belowe dat dit selfs na Kooitjieslaagte in die verre Wilde Weste niks langer as ‘n dag en ‘n nag en nog ‘n halwe dag sal vat nie, as mens dit vroeg die oggend al stuur. Ek glo hulle. Dalk was ek nog net gelukkig, maar dankie aan die Poskantoor! Ek sien hulle het deesdae ook nogal weer wit omies en tannies agter die toonbanke –net so tussen my en jou gesê.

Anyways, die ‘chroniese medisyne’ het toe my kind gered van ‘n plofbare situasie. Donderdag laasweek kom daar weer ‘n noodsein – “Ma, ek moet vo-o-o-olgende Saterdag vir J ‘n ooievaars partytjie gee en hier is nêrens feëtjievlerke nie. Ek wil haar opmaak soos ‘n ‘pregnant fairy’. Kan jy nie asseblief by daai ‘party shop’ in Bellville gaan kyk vir feëtjievlerke nie en dit vir my pos, ek sal betaal.” “Mmm, ek sal gaan kyk, ja.”

Nou wonder ek klaar, hoe pos mens feëtjievlerke. Saterdagoggend vroeg is ek by die partytjiewinkel. Ek koop feëtjievlerke. Maar eers moet ek foto’s neem en dit bbm, om seker te maak ek koop die regte ding.

Feetjievlerke

“Ma, neem bietjie vir my af wat is daar nog in die winkel wat mens kan gebruik vir so ‘n partytjie.” Ek loop deur die winkel en neem foto’s en praat met myself en bbm foto’s. Wat ‘n wonderlike ding is tegnologie nie – al lyk ek soos ‘n mal vrou wat met haar hand loop en praat. Ek eindig op met vlerke, servette, ballonne, lint en ‘n banier. Want NIKS van dit is in enige winkels in die verre Karoo nie ;-) Daarvan word ek verseker.

Banner en lint

 

 

 

Servette

 

 

 

 

 

 

 

 

Balonne

 

 

 

 

 

 

 

Toe kom Maandag en ek moet uitfigure hoe kry ek die vlerke gepos. Daar is nie ‘n boks wat groot genoeg en plat genoeg is nie. Ek kry ‘n brainwave – vat die grootste bubble koevert in die winkel. Daai vlerke skuur-skuur so in daai koevert in, ek druk ‘n bietjie links en ek druk ‘n bietjie regs en ek wikkel voor en ek wikkel agter en ek squeeeeze (indruk klink nie dieselfde nie) daai vlerke in daai koevert in dat daar nie plek vir ‘n polonieskil is tussen die koevert se kante en die vlerke se kante nie. Baie versigtig kan ek darem die res bo op die vlerkies inskuif en daar gaan ek poskantoor toe. Dié keer kan ek wragtig nie lieg en sê dis medisyne nie, dis heeltemaal te groot en plat. So ek vertel die omie agter die toonbank dis feëtjievlerke. Ek gee hom al die krediet, hy het my nie eers effens skeef gekyk nie, hy het net so mooi en versigtig daai koevert in die poskantoor se rooi sak ingeskuif – weer eens pas dit net-net. Toe skryf hy ewe mooi bo-op “DO NOT BEND”. Ek vermoed hy het ook dogters en weet van feëtjievlerke.

Nou ja, eind goed als goed – die feëtjievlerkies was Maandagaand in PE en Dinsdag in die Karoo – veilig gevlieg en goed geland. Nou wonder ek wat is volgende ;-)   :lol:

Categories: Die Lewe, Sommer net | 15 Kommentaar

Saterdag se dinge

Saterdag gaan ek saam met my een sus en haar twee seuntjies – eers gaan doen ons die Cool Runnings ding. Ons koop 20 ‘rides’ en koukus onder ons grootmens-self dat dit heelwaarskynlik heeltemal te veel is. Die meisie by die toonbank sê ewe ons hoef nie alles op een dag op te ry nie. So trek ons daar weg, maar teen elfuur wonder ons of ons nie dalk nog 20 moet koop nie :lol: Die seuntjies is 5 en 7 jaar oud nie, dus moet hulle elke keer saam met een van ons ry. Maar ons kom gou agter die een van 7 is ‘n gebore renjaer! Ek en sy ma sit agteroor in die karretjie as hy saam met een van ons ry en hy hanteer daai stuurstok soos ‘n pro. Ons vra mooi en die ou by die beheerpunt gee toestemming dat hy een keer op sy eie mag ry, op voorwaarde een van ons bly kort agter hom, net om bevele te skree indien hy oorboord gaan. Wat toe glad nie nodig was nie. Ek wil ‘n video neem, en volunteer om agter hom te ry as oppasser en filmmaker. Wat ‘n “thrill”! Maar ek moes laat waai om by te hou!

Hier gaan ons:

Hierna durf ek saam met haar ‘n kinderpartytjie aan, van ‘n 3-jarige. Ek staan verstom oor die skaal waarop daar deesdae kinderpartytjies gehou word. Nie sommer net in die agterplaas met ‘n tafel vol soetgoed, soutgoed en drinkgoed nie. Nie sommer net jou kind aflaai en later vanmiddag weer kom oplaai nie. Nie aan-aan speel of sulke ordinêre kinderspeletjies nie. Nee, o genade!

Die partytjie is op ‘n wynplaas, wat lyk my spesialiseer in hierdie ding, want daar was terselfdertyd nog twee kinderpartytjies aan die gang, elkeen in sy eie afgebakende spasie. Daar is egter een groot springkasteel en ‘n “slip-‘n-slide” waar al die kinders van al die partytjies deurmekaar speel. Ek sit en verkyk my aan alles. Dis hier waar ek sien hoe kinders werklik kleurblind is. Hulle speel met mekaar en val en spring en loop hand om die skouer – ongeag wit, bruin, geel of pers. En ek wens so dat dit kon verder uitkring as net by ons kinders. Maar op die stoep sit die ouers maar nog in klompies-klompies – elke kleur so min of meer bymekaar. Al is jou kind genooi na die partytjie, dit sukkel nog maar om te voel ons is almal dieselfde.

Die kinders kry elkeen ‘n gedekte plek, met koek, ‘n emmertjie vol soet- en soutgoed (wat hulle mag huis toe vat). Die partytjie begin twee namiddag. Drie-uur word daar hamburgers en skyfies vir die kinders bedien. Met twee soorte sap. So halfuur daarna word daar ‘n paar groot borde met verskillende eetgoed uitgebring, vir die grootmense. Ja, want die pa’s en die ma’s is ook genooi. Hulle sit elkeen met ‘n drankie in die hand en eet saam. Party gesels met dié wat hulle beter ken. Te lekker. Kort na vieruur word daar begin om op te ruim deur die kelners en almal begin huis toe staan. Partytjie is oor en verby en die ma van die verjaarsdag dogtertjie kan teruggaan na ‘n skoon huis – en vermoedelik ‘n heelwat ligter bankrekening. En ek wonder so in die stilligheid by myself ‘as die derde verjaarsdag nou al so gevier word, hoe lyk dit by sestien, om dan nou nie eers te praat van mondig word nie’ ;-)

Ek het opgeëindig as die aangewysde fotograaf en ek het dit baie geniet. Kinders is seker van die oulikste en interessantste modelle, ongekunsteld en min gepla oor hulle regte, beste profiel. Hier is ‘n paar foto’s:

Roomys lyk SO op mens se mond!

Roomys lyk SO op mens se mond!

Twee van als ;-)

Twee van als ;-)

Kinders moenie in die water mors nie

Kinders moenie in die water mors nie

Of dalk filosoof eendag?

Dalk filosoof eendag?

Die denker

Die diep denker

Moet ek dié koek eet?

Moet ek dié koek eet?

Die verjaarsdag dogtertjie

Die verjaarsdag dogtertjie

 

Categories: Die Lewe, Sommer net | 24 Kommentaar

2012 in review

The WordPress.com stats helper monkeys prepared a 2012 annual report for this blog.

Here’s an excerpt:

4,329 films were submitted to the 2012 Cannes Film Festival. This blog had 29,000 views in 2012. If each view were a film, this blog would power 7 Film Festivals

Click here to see the complete report.

Categories: Sommer net | 4 Kommentaar

Dit, dat en een uit ‘n miljoen

Soms sit en kyk ek hierdie blog so en dan dink ek “ek moet seker weer ‘n slag iets skryf”. Dit gaan goed met my. Ek werk lekker, ek het genoeg om te eet en te drink, ek het klere en ‘n motor. Ek het geld vir boeke. Ek het elektroniese “gadgets”, meer as wat ek nodig het. Dis lente, amper somer – ‘n groot pluspunt in my lewe. Ek bly in een van die mooiste dele van die land. Die munisipale dienste hier is nie te vrot nie. Die paaie ook nie. Inteendeel. WP het die Curriebeker gewen – ook nogal belangrik, want al het ek eintlik al opgegee op rugby, het ek darem nog hier diep binne my ‘n stukkie rugbyhart.

Hierdie maand is my verjaarsdag – ek is mal oor verjaarsdae, al word mens net ouer. Dit bly vir my spesiaal. Maar hierdie verjaarsdag is die eerste een sonder ‘n ma. Dit vat maar aan mens, maar ek sal daardie hekkie ook oor kom. So sit ek en wonder – wat is die weirdste ding wat al ooit met my gebeur het.

Toe onthou ek. Die motor se alarm. So 10 jaar gelede. Ons bly in ‘n sekuriteitskompleks in die noordelike voorstede. Om my bly ‘n paar kuiergatte en daar is ‘n gereelde kom en gaan van besoekers. Soms kom ek in die oggend by my motor en dan is hy nie gesluit nie, veral oor naweke. Die motors staan in oop parkerings so voor die eenhede. Daai tyd het myne so ‘n bliep-bliep alarm / immobiliseerder (vreeslike woord!)

Eers dink ek dat ek maar net die vorige aand  te moeg / vergeetagtig was, en heg nie veel waarde daaraan nie. Dis tog so waar dat goed soms juis nie gesteel word as dit oop en bloot daar staan om gesteel te word nie. Toe loop ek en my buurvrou se kêrel eendag saam-saam na ons motors toe. Hy bliep sy alarm en ek sien hoe flits my ligte – daai geel “hazard” liggies wat vir jou sê jy sit jou alarm af of aan. Ek stop hom net daar in sy spore en sê hy moet weer sy “remote” druk. Mooi man! Daar flits my liggies weer. En syne natuurlik ook. Ek vat my sleutel en druk die knoppie en daar flits sy motor se liggies. Ons monde hang oop. Hy kuier al maande daar en nie een van ons het dit ooit agtergekom nie. Hy ry ‘n Volkswagen en ek ry ‘n Mazda.

Ek onderneem toe om die alarm mense te skakel, maar vat nietemin ook al sy besonderhede. Toe ek bel en my storie vertel, vra die alarmmense my om dadelik in te kom, hulle vervang my alarm gratis. Dis toe dat die man my vertel dat hulle elke miljoen kombinasies weer oor begin met die alarmkode. Wat is die kanse dat iemand wat dieselfde alarmkode het as jy, langs jou gaan parkeer, nevermind nog in dieselfde kompleks / straat kuier as waar jy bly? Een uit ‘n miljoen.

Freaky weird!

Het daar al ooit ‘n een uit ‘n miljoen ding met jou gebeur?

Categories: Gedagtes, Sommer net | 19 Kommentaar

Blog at WordPress.com. Theme: Adventure Journal by Contexture International.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 569 other followers