Die Lewe

Ons sal dit oorleef

Ek het lanklaas in die oggend half vyf opgestaan om te gaan gym. Ja, ja ek weet dis ook al ‘n vervelige storie, but hear me out. Gister na werk strip ek my moer vir al die lywe en bedrywe en vir die een vroumens wat met flippers aan in die swembad swem, oor altwee bane. Bid jou aan – FLIPPERS! Is dit nie vir die see of vir duik of so iets nie? Anyway, never mind. Ek besluit toe die luigatgeit van my moet stop, ek moet half vyf myself uit die bed sleep en kom gym as dit stil en ordentlik is en mense nie daai tyd van die oggend met flippers swem nie.

Vanoggend druk ek die wekker dood en staan met moeite op en sit ligte aan. Tot die arme kat trek haar ogies klein vir die skerp lig so vroeg. Na ek my gesig met koue water gewas en my tande geborsel het, voel ek al half mens. Met een oog oop trek ek aan, pak my pakkerasie in die kar en so in die verbygaan gryp ek die flashdrive wat langs die TV lê. Die fancy gym het mos allerhande gaatjies en gleufies op die oefenmasjiene waar mens goeters kan inplug om na hulle / die TV / jou eie musiek te luister. Nou, ek het nou al CNN vrot gekyk en die TV musiek kanaal geluister – nie te sleg nie. Maar dis nou nie juis exciting genoeg om my te laat vergeet ek is besig met oefening nie. Ek weet op my flashdrive is allerhande musiek, wat ek op ‘n dag sommer net opgelaai het. En ja, ek hou van ‘n verskeidenheid so ver verwyder soos die Ooste van die Weste, so brace yourselves. Luister net nie Opera nie, of Jazz nie, in elk geval nie vrywillig nie.

My eerste stop is die “elliptical trainer”, daai masjien wat jy so loop en trap en jou arms ook so heen-en-weer maak. Kou nogal mens se boude. Ek druk daai stokkie in en sit die oorfone in en begin trap. Binne sekondes trap ek op “Gangnam Style”. Dit maak my genoegsaam wakker om ‘n lekker spoed op te werk. Ek is nog op ‘n Gangnam high toe Steve wegtrek en weergalm in my ore met “Ons sal dit oorleef”. En so waar as wragtig, daar kry ek trane in my oë daar in die gym. Gelukkig was daar niemand naby genoeg aan my om dit op te merk nie. Maar ek kyk om my rond en ek dink by myself – nee Steve, jy was nie heeltemal reg nie. Ons sal dit oorleef ja, maar nie net ons wat wit is nie. Ook ons wat so entjie weg van my af trap, met haar donker vel en haar dreadlocks, en ons wat daar aan die oorkant gewigte stoot met sy koffie kleur vel, en ons wat nou net daar by die deur in loop met hulle Maties-klere aan en hulle nagdonker vel, en ons wat met pragtige swart hare en Indiese vel oppad is boontoe om te gaan swem. Al hierdie onse is die ons wat dit sal oorleef, want ons is nog almal hier, omdat ons wil, of nie anders kan nie, of vir watter rede ook al. Ons is HIER. In hierdie land. Ons leer hier, ons leef hier, ons werk hier, ons gym hier.

Dis hoe dit is, dis hoe dit sal wees. Ons sal dit oorleef. Or we will die trying. Want ons kan nie anders nie, ons wil nie anders nie.

Wel, daarna het Kurt se Heidi my darem gou weer opgelig na ‘n ligter noot en toe het ek afgesluit met ‘n besadigde The Story van Brandi Carlisle. Ek het dit ook oorleef – die oggend se vroeg opstaan en gaan oefen. En daar was regtig niemand met flippers aan in die swembad nie. Net ekke alleen, met kaalvoete. En darem ‘n swembroek.

More maak ek weer so. Ons sal dit oorleef.

Categories: Die Lewe, Gedagtes, Musiek | 17 Kommentaar

Uit die onthou-laai

Ek weet nie van ander mense nie, maar soms onthou ek mense sommer so uit die bloute, so in die middel van die dag of in die middel van die nag. Mense wat oor my pad gekom het vir ‘n oomblik, ‘n seisoen of ‘n leeftyd – soos daardie aanhaling sê. Daar is geen “trigger” wat maak dat hierdie mense in my kop op kom nie, geen gebeurtenis wat my aan hulle herinner nie, hulle IS sommer net skielik daar. So asof hulle my net so liggies op die skouer wil tik en seker maak ek vergeet hulle nie. Feit is, hulle is in elk geval onvergeetlik, elkeen vir sy of haar eie rede, soms ‘n klein redetjie, ander kere ‘n helse groot rede. Hulle is my bagasie, ek dra hulle saam met my. Die onthou van hulle is wel diep gebêre in die laaie van my herinneringe, maar so elke dan en wan dan tuimel hulle uit. Dalk omdat die onthou-laai bietjie oorloop, dalk omdat ek iets anders gesoek het in daardie laai en toe, sonder dat ek dit beplan het, vat ek hulle onthou raak.

Hulle is daar, altyd daar. Daarom het ek bietjie in al my onthou-laaie gaan krap – sommer net vir die nostalgie daarvan.

Daar was die Moslem vrou, nou amper veertig jaar gelede, wat een aand vir my en my ma genooi het vir aandete – iets ongehoords in daardie dae. Sy het gesien ons is honger, sy het vir ons kos gegee – so eenvoudig soos dit en tog veel meer ingewikkeld as wat mens ooit sal kan dink. Hoe sal ek haar dan ooit heeltemal vergeet?

Daar was Fanie de Kock, ‘n man met die mooiste blou oë. ‘n Man wat vreeslik lief was vir sy vrou en sy twee kindertjies. ‘n Man wat maar eenvoudig was, maar ‘n goeie man. Een wat die nood van ‘n medemens raakgesien het en sy hand uitgesteek het om te keer toe ander net weggekyk het. So elke nou en dan, as ek vir Fanie onthou, gaan luister ek “Blue Eyes Crying in the Rain.”

Daar was die Kleurlingman wat gestop het toe ek en my ma sonder petrol gaan staan het, ook nou al baie dekades gelede. Wat ‘n leë Coke blikkie en ‘n stukkie tuinslang uit sy bakkie gaan haal het, en blikkie vir blikkie petrol uit sy bakkie gesuig het en in ons motor gegooi het. Wat nie ‘n sent wou hê nie en ook nog agter ons aangery het om seker te maak ons kom veilig waar ons moet wees.

Daar was die blonde man in Victor Verster gevangenis. Elke jaar het die tronk ‘n konsert gehou en buite mense het kom luister. Ons het altyd gegaan. Vir ‘n paar jaar was hy daar, op die verhoog, met ‘n kitaar en ‘n stem soos ‘n engel. Ek ken nie sy naam nie, wonder tot vandag nog hoekom hy in die tronk was, maar onthou steeds sy gesig en hoe mooi hy gesing het. Dalk is hy lankal dood, maar ek sal altyd oor hom wonder.

Dan was daar Glenville, wat saam met my gewerk het. Wat my geleer het van krieket. Wat in 1992 vir my vier nuwe bande vir my motor koop, sonder dat ek dit vooraf weet, omdat hy weet ek trek swaar. Omdat hy ‘n dogter het wat net so oud soos ek is en nie sal toelaat dat sy met gladde bande ry nie. Wat vir my sê ek kan hom eendag terugbetaal wanneer ek kan. Hoe sê mens dankie vir so iemand? Uiteindelik het ek hom terugbetaal, maar vergeet… dit sal ek nooit nie. Ek het wel later jare probeer om sy goedheid aan my te “pay it forward”, op elke manier wat ek die kans gekry het.

Daar was oom Fred en oom Harry – die eerste gay mense wat ek ooit leer ken het, al het ek nie toe geweet hulle is gay nie, of selfs wat is gay nie. Hulle was my pa en ma se vriende en ek eer vandag my ouers omdat hulle vir twee wonderlike mense ‘n vriendelike omgewing geskep het in tye wat baie anders as nou was.

Daar was die bewaarder in Pretoria wat gesien het hoe moeilik dit vir my was toe ek daar moes gaan besoek aflê, wat gesien het ek weet niks van tronkbesoeke nie en wat dit op alle maniere vir my makliker probeer maak het. Ek het sy naam nooit vergeet nie en onlangs uitgevind hoe klein is die wêreld. ‘n Vriend van ‘n vriend se broer lê op sterwe met breinkanker. Toe ek die naam hoor, lui al die klokkies. Toe ek vra hoor ek, ja, hy was ‘n bewaarder in Pretoria. My hart is seer vir hom. Ek kan net bid vir hom.

Dis vir seker nie al mense in my onthou-laaie nie, maar dis mense wat gereeld kom groet, kom aanklop aan my herinneringe. Ek weet nie hoekom nie, dalk sodat ek nie moet vergeet van genade nie.

Die onthou van mens se lewe klop maar altyd iewers dofweg. Soms klop dit bietjie harder soos die pyn van ‘n ou besering net voor die reën kom. Soms is die onthou so diep onder in die laai gedruk dat jy dit miskyk, misvat elke keer as jy die laai ooptrek, skoon nie eers meer weet dis daar nie. Tot dit op ‘n dag van krap in die laai, van die omdolwe van ander herinneringe, kaplaks in jou kop uitval. Soms sommer net, soms deur ‘n reuk, ‘n trek van ‘n mond, ‘n klank van ‘n stem.

Dan staan mens bietjie stil by daardie onthou. Jy kyk bietjie, jy luister bietjie, jy onthou bietjie voor jy die onthou weer mooi netjies terugsit in ‘n hoekie in die laai, met die  bedoeling dat dit nie weer so ver moet wegraak tussen die ander deurmekaar nie. Dan draai jy om en jy loop weg, partykeer met ‘n seer wat saam loop, partykeer met ‘n glimlag oor ‘n mooi onthou, altyd met die wonder… onthou hulle my ook nog soms?

Categories: Die Lewe, Lank gelede | 28 Kommentaar

Om te GLO. Of NIE.

Ek is al so moeg vir die onverdraagsaamheid van mense teenoor mekaar dat ek op my arms wil gaan lê en huil en nooit weer ophou nie. Ek het lank gewik en weeg oor hierdie skryfsel, maar ek gaan nog een keer my siening hiervan (probeer) weergee. Nog een keer my nek op die skavot plaas. En ek doen dit juis ter wille van ‘n vriendin vir wie ek groot agting en respek gekry het in die ‘n kort tydjie wat ek haar ken. Oor die naweek is sy op Twitter amper uitgehaal oor iets wat sy gesê het en dis heeltemal uit konteks aangehaal. Oor geloof.

Wat vir my hartseer is, is dat sy een van die minste “judgemental” mense is wat ek al ooit ontmoet het. Dus is hierdie vir haar en vir almal wat glo of nie glo nie, maar wat weet wat dit is om “to live and let live”.

Ek GLO. Presies hoe en wat ek glo en hoeveel keer ek kerk toe gaan of nie, het NIKS met enigiemand uit te waai nie. Dat ek glo het ook niks met enigiemand uit te waai nie. Hoe ek egter elke dag myself handhaaf teenoor ander mense wat saam met my op hierdie aarde neergesit is, DIT het wel iets met ander uit te waai en daarvoor sal ek staan. Maar ek gaan NIE staan om geslaan te word omdat ek in iets of iemand glo waarin jy en jy en jy NIE glo nie. En moenie my probeer uitmaak vir ‘n idioot omdat ek glo nie, want my IK is darem hier in die drie syfers rond en my Emosionele Intelligensie is na skade en skande ook vandag heel goed ontwikkeld.

Wat my rasend van frustrasie maak, is dat die mense wat NIE glo nie, so gou is om God verantwoordelik te maak vir alles wat sleg is en verkeerd gaan hier op aarde. Hoekom laat God toe dat mense vermoor, verkrag, gemartel word? Hoekom laat God toe dat kinders verniel word? Hoekom dit en hoekom dat. Hoekom, as Hy bestaan, lewe ons nie in ‘n paradys op aarde nie? Ek weet nie, ek het nie die totale antwoord daarop nie, en ek dink nie enigiemand op aarde weet nie. Wat ek wel weet, is dat ons nie op aarde gesit is vir ‘N God as ‘n poppespel nie. Ons het ons eie, vrye wil gekry. En ek sien dit so:

Ouers het kinders. Goeie, ordentlike ouers. En dan neuk een, of soms meer, van daardie kinders skeef. Hy of sy, word ‘n krimineel, ‘n verkragter, ‘n moordenaar. Ons kyk vir die ouers en ons wil hulle kwalik neem. Hoe de hel kon julle so ‘n kind in die wêreld ingebring het?! En die ouers huil en huil, want hulle het die kind net die regte dinge geleer en hulle weet self nie waar het die kind die pad byster geraak nie. Hoekom het hulle kind hierdie verskriklike goed aangevang? Wat het hulle dan verkeerd gedoen? Die wêreld veroordeel die kind, en sommer die ouers saam met die kind. Intussen is die ouers werklik onskuldig. Hulle kan nie staan vir al hul kind se dade nie. Meeste gewone ouers probeer net hulle bes vir hul kinders. Niemand maak tog willens en wetens ‘n krimineel, ‘n moordenaar, ‘n verkragter, groot nie?

So, die ongelowiges wat so gou is om te sê “Kyk wat laat julle God toe om te gebeur. Kyk hoe word mense vermoor in die naam van julle God”, julle doen presies aan God wat mense aan daardie ouers doen. God, as daar een is, het nooit gesê die wêreld is ‘n poppekas en ons is sy poppe nie. Mense gebruik geloof om oorloë te regverdig, om fanatisme te regverdig. My God, die een waarin ek glo, die “Spiritual Being”, waar en hoe Hy ook al is, het my nog NOOIT vertel om sulke kak te gaan aanjaag nie, in plein Afrikaans. Net soos jy nie altyd ‘n ouer kan veroordeel vir sy kind se dade nie, net so kan jy geen Opperwese / Spiritual Being veroordeel vir die mal mense op aarde nie. Ons het die aarde gekry. Wat ons daarvan maak en hoe ons dit en mekaar opdonder, is soms iets om oor te huil. Om te dink as daar ‘n God is, moet hy alles tjop-tjop fix, is om presies te dink soos die kind wat elke keer aanjaag en verwag sy ouers moet dit fix, en dus nooit self verantwoordelikheidsin aanleer nie.

Glo ek aan evolusie? Ja, ek doen. Glo ek in die Bybel? Tot ‘n mate dink ek die Bybel is ‘n riglyn, maar dat mense dit ook heeltemal te letterlik opneem. “A day is like a thousand years, and a thousand years are like a day” staan in die Bybel. Dis dalk die naaste wat ons aan die waarheid sal kom oor die aarde se ontstaan en die tydperk waaroor alles ontstaan het.

Vir dié wat geen toleransie met gelowiges of ongelowiges het nie, vir dié wat so gou is om op die “bandwagon” te spring oor alles wat God dan sodanig toelaat, vir dié wat alles en almal haat wat anders as hulle lyk, dink of glo: hier is vir julle een Bybelversie. Vergun my net hierdie een :-)

Galasiërs 5:14 Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”

Kom ons veronderstel God is ‘n mite en die Bybel is ‘n feëverhaal, dan dink ek ons kan almal baat vind by daardie een versie uit die feëverhaal. Ek lees in hierdie een versie dat ek ander mense moet liefhê soos myself. Vir my beteken dit doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê. Respekteer ander soos wat jy gerespekteer wil word. Die fairytale boek het nie voorwaardes gestel in daardie een sin nie. Dit sê nie ek moet NET my naaste wat soos ek dink, glo, lyk, leef, liefhê nie. Daar is nog ‘n storietjie in my fairytale boek – die een van die barmhartige Samaritaan. Daar leer my fairytale boek my dat dit JUIS soms dié mense is wat nes ek lyk, dink en glo wat my in ‘n tyd van nood sal laat lê dat die wolwe my opvreet. Dat dit JUIS dié is wat nie soos ek lyk, dink en glo nie wat sal stop en ‘n hand van hulp sal uitsteek.

Jy en jy en jy hoef nie te glo wat in my fairytale boek staan nie, maar dit sal jou geen kwaad doen om jou naaste lief te hê soos ek hierbo beskryf het nie. En daardie naaste is almal wat asemhaal en op twee bene rondbeweeg, ongeag! Dit sal jou geen kwaad doen om nie te oordeel nie, sodat jy nie geoordeel word nie. Nie deur my God wat jou mite is nie, maar deur ander mense wat jou oordeel, sonder dat hulle weet wie jy is, binnekant in jou hart en siel is.

Mense is gou om goed aan God vas te plak. Om te sê ek glo nie in God nie, want kyk wat laat hy mense doen. Die “deep down basic stuff” wat my God vir my beteken, is hierdie hier bo. En met respek en in mooi Afrikaans… FOK die res!

Categories: Die Lewe, Gedagtes | 40 Kommentaar

Allegaartjie

Allegaartjie… lê so lekker op die tong. Ek wonder hoeveel mense weet dis die Afrikaanse woord vir ‘n “mixed grill”. Wel, hierdie inskrywing is so ‘n allegaartjie.

Kan ek eers mislik wees en dan positief?

Hoe kry mens dit in mense se koppe om op te hou om alles te glo wat vir hulle opgedis word? Die nuutste (of dalk het ek net nie die 1 777 vorige waarskuwings raakgesien nie) is dat die swartmense nou besluit het daar is te min wit mense in die tronke. Dus moet ons (wit) vrouens ons handsakke toehou, waar ons ook al beweeg, want die swartes gooi goed in ons handsakke terwyl ons nie kyk nie en dan word ons vir winkeldiefstal aangekla en slaap naweke in die tronk en kry ‘n kriminele rekord. For crying in a bucket, already full of tears! Good luck vir ENIGE mens wat in ‘n winkel iets in my handsak gaan probeer ingooi. Want tussen my e-leser, my twee selfone, my beursie wat reeds te klein is vir alles wat ek daarin prop, my sonbril, my leesbril, my pak tissues, my tandestokkies, my kar sleutels EN my spaarsleutels, ingeval ek my karsleutels binne-in toesluit (wat ek darem nog nooit gedoen het nie, touch wood), my huis sleutels – wel, dis wat ek kan onthou, so ‘from the top of my head’ – dan gaan iemand wat nog iets daar ingedruk kry sonder (f&^*n baie) sukkel en sonder dat ek dit agterkom, MOER lucky wees of iets.

Gelukkig hoef mans nie te worry nie, hulle dra nie handsakke nie. Maar hulle sal seker hul broeksakke moet watch. Hoe gaan daai ou liedjie nou weer…. ‘hou jou handsak, broeksak, gatsak, sysak, hou die hele lot toe’. Nou ja, dis amper naweek, moenie dat julle sakke oophang en julle oor die naweek in die tronk moet slaap nie. Dit gaan reën, so dit gaan ‘n koue slaap wees. And you will never be the same again ;-)

Ag nou ja, met al die waarskuwings gaan ek dan nou een van die dae met my handsak onder my arm vasgeknyp, my sleutel soos ‘n geweer voor my uitgehou, al stormende op my kar af en ek duik soos ‘n wafferse Brian Habana binne in my wagtende kar in, terwyl ek oopsluit, my handsak oorskiet na die vloer, my deur toeklap en sluit, aanskakel en wegjaag, alles in een beweging. Formule 1 sal jaloers toekyk vir daai moves! Want moenie luier rondom jou motor nie, anders vang iemand jou dalk. Friggin hel! Ag, on second thoughts, ek dink nie ek gaan meer my huis verlaat nie – bestel sommer alles online. So as julle my sien en my klere pas nou nie meer so lekker nie, dis online gekoop, maar ek kon dit nie voor die tyd aanpas nie. Die tegnologie is nog nie so gevorder dat mens virtueel kan aanpas nie. Tsk tsk.

Op ‘n meer positiewe noot… toe ek vanoggend gaan swem – ek was al ‘n rukkie alleen daar – kom ‘n jong seun met sy gidshond daar aan. Ja, hy is blind. Daar is bordjies by die swembad wat sê geen rook, kos, drank, diere of fietse nie. Wel, ek verstaan van rook, kos en drank (en diere ook), maar die fietse een slaan my dronk. Die swembad is onder dak. Mens moet omtrent ‘n hindernis loop om eventually daar uit te kom. So die ou wat dit regkry om sy fiets daar in te kry – good for him. Elk geval – die outjie het natuurlik toestemming vir sy hond gekry en die hele tyd wat hy geswem het, het sy gidshond doodstil op een plek gelê. Vir my was dit net so amazing dat hy kom swem. En natuurlik was ek nuuskierig om te sien hoe bly hy in sy afgebakende baan, so ek hou hom toe so effentjies dop en sien hoe hy die hele tyd teenaan die rand swem – die onderwyser wat soggens die swemklub afrig het dan natuurlik seker ook daardie baan vir hom gegee. En die outjie SWEM, hoor! Hoe wonderlik moet dit wees, en ook hoe vreesaanjaend moet dit wees, met al daardie geluide om jou, om in die water te kan wees en te swem, terwyl jy nie kan sien nie. Ek het dit probeer doen vanoggend, my oë net so rukkie probeer toe hou. Ek het heel skeef geneuk. Ek haal my hoed af vir daardie kind. Wat nie toelaat dat sy blindheid hom keer om te doen wat hy wil nie.

DIT is die tipe dinge waarmee ek my gedagtes wil besig hou. Nie met allerhande op hol jagery nie. Mag die blinde seun nog vorentoe AL sy drome verwesenlik. Hy weet dit nie, maar dis my wens vir hom. Vandag was hy my inspirasie.

Categories: Die Lewe, Gedagtes | 19 Kommentaar

Sonder titel van woede

Die post het nie ‘n titel nie. Ek is te kwaad. Ek moenie meer nuus kyk nie. Nee, ek moet tog weet wat gaan in die wêreld aan. Maar soms moet ek eerder nie weet nie!

“Die Welsyn kan maar ons kinders vat. Ons maak net ander.” Ek wil ten hemele uitroep “Here, hoekom?! Hoekom gee jy vir hierdie drek kinders?! Hoekom Here hoekom?!” Kinders wat hulle by weeshuise gaan aflaai. Drie boeties wat niemand weet wie hul ouers is nie, hulle is voor ‘n kinderhuis se deur afgelaai.

Fiela het gesê die Here vergewe jou baie dinge, maar Hy vergewe jou nie die skade wat jy ‘n kind aan doen nie. En tog moet ons vergewe en nie haat nie en nie dat ons vergiftig word deur ons kwaad nie. Maar hoe ver strek vergifnis? Hoe vergewe jy ‘n ma of ‘n pa wat jou en jou boeties of sussies soos ‘n werpsel katjies iewers gaan aflaai het? Nee, diere doen dit nie. Mense doen dit. Aan ander mense en aan diere!

Die nuus vertel van ‘n projek om geld in te samel vir hierdie kinders. Kinders wat weggeneem is omdat hul mishandel word, verwaarloos word. Die nuus wys die mooiste blou-oog dogtertjie. En seuntjies met kieriebeentjies en vuil voetjies. My hart splinter in duisend stukke. As my hart maar shatterproof was.

Hoe maak mens jou kind so seer? Hoe slaan jy jou kind aaneen, tot iets iewers breek? Hoe brand jy jou kind met ‘n sigaret? Hoe gooi jy jou kind teen ‘n muur? En hoekom hoekom hoekom word sulke mense toegelaat om nog kinders te hê. Ons het nie meer doodstraf nie, maar die Here hoor my, dis al wat sulke mense verdien. Die dood. Want hulle is nie mense nie. ‘n Mens het ‘n hart. Jy kan nie DIT aan ‘n kind doen as jy ‘n hart het nie.

Soms het ek nie die guts vir hierdie lewe nie. Of eintlik nie die guts vir mense nie.

Categories: Die Lewe, Gedagtes | 22 Kommentaar

Blog at WordPress.com. Theme: Adventure Journal by Contexture International.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 545 other followers