Dis nou die begin van die tyd wat ek elke dag dankbaar is vir elke stukkie son. Al is dit koud. Ek sal natuurlik verkies dat dit moet warm wees, maar koud en ‘n flou sonnetjie is beter as koud, nat en wolke. Dis nie ‘n geheim dat ek nie van die winter hou nie, sagkens gestel. As ek stinkryk was sou ek agter die son aangetrek het. Somer in Suid-Afrika en somer in. . . Italie, of Griekeland (al is hulle nou blykbaar bankrot).
En ja, ek weet die boere soek reen, maar dit soek nie vir my nie
Maar nou ja, soos die oumense altyd se – wens in die een hand en watookal in die ander en kyk waarvan het jy die meeste.
Dit voel soos Saterdag vandag. My interne horlosie gaan weer lekker opgefoes wees wanneer ek weer eendag teruggaan werk toe. En dis nog nie volgende week nie. Volgende week is “me-time” week. Ek gaan een dag Tafelberg op, ek gaan een dag Simonstad toe ry met die trein, so al langs die see langs.
Ek gaan een dag wintersklere koop – dis waarna ek die minste uitsien. Anders as seker die meeste vrouens, hou ek nie van klere koop nie. Maak nie ‘n fout nie, ek HOU van mooi klere en mooi aantrek, maar ek haat aantrekhokkies. Hoekom kan mens nie meer soos in die ou dae klere ‘op sig’ huis toe vat en dan net terugbring wat jy nie wil he nie? Seker omdat die mensdom te skelm geword het.
My ma vertel ek was kleintyd al so mislik as sy vir my moes klere koop. Dan trek ek my glo plat op die aantrekhokkie se vloer en hou my soos ‘n lappop, slap en swaar. Probeer bietjie ‘n kind aantrek wat haarself so dood hou!
Ek het vroeer vandag gaan kruideniersware koop. Nog ‘n uitstappie wat ek gewoonlik uitstel tot daar net ‘n verlepte slaaiblaar, ‘n pap tamatie, ‘n uitgeloopte aartappel, een teesakkie en ‘n halwe teelepel suiker in die huis oor is. En dalk, as ek gelukkig is, een pakkie vleis. Elk geval, ek maak altyd pligsgetrou ‘n lysie, en hou dan glad nie daarby nie. Want die nuwe koffie verlei my, en die nuwe borrelbad, en Nataniel se sosaties, en die nuwe Mr Muscle.
Ek dink in my vorige lewe was ek seker baie vuil en stink, want ek is ‘n sucker vir al wat ‘n skoonmaakmiddel is, en lekkerruik badgoed ook. Onder my kombuiswasbak is pienk en pers Handy Andy bottels. Een van my vorige huisbase was stomverbaas toe sy eendag die bottel pers Handy Andy sien. Sy het nie eers geweet mens kry die bottels in ander kleure nie. Hoe mooier die vervaardigers die houers maak, hoe makliker vang hulle my.
Maar hel, kos het duur geword! Ek kan eintlik nie glo dat daar nog so iets soos oorgewig in die land is nie, want ek sweer meeste mens kan deesdae net ‘n kwart van die kos koop wat hulle ‘n paar jaar gelede gekoop het. En beteken dit dan nie in effek dat mens minder eet en dus maerder moet wees as ‘n paar jaar gelede nie? Iewers maak twee en twee nie vier nie. En met die petrolprys sal ons nog een van die dae moet begin fietsry ook. Dink net hoe mooi gaan ons boude dan wees
Nou ja, dat ek my kos gaan wegpak, die sakke gaan nie hulself uitpak nie. Daarna gaan ek op my stoep sit, vir die Simonsberg kyk, dankbaar wees vir die bietjie laatmiddag son en ‘n Jack drink, stadig en sip-sip. More gaan ek Kaapstad toe, Greenmarket Square toe





Kommentaar