Maybe it’s a bit overkill, but I have 5 ‘together’ photos, because I could not choose between them
Maandelikse Argiewe: April 2012
Weekly Photo Challenge: Together
Vrydag gedagtes
Dis nou die begin van die tyd wat ek elke dag dankbaar is vir elke stukkie son. Al is dit koud. Ek sal natuurlik verkies dat dit moet warm wees, maar koud en ‘n flou sonnetjie is beter as koud, nat en wolke. Dis nie ‘n geheim dat ek nie van die winter hou nie, sagkens gestel. As ek stinkryk was sou ek agter die son aangetrek het. Somer in Suid-Afrika en somer in. . . Italie, of Griekeland (al is hulle nou blykbaar bankrot).
En ja, ek weet die boere soek reen, maar dit soek nie vir my nie
Maar nou ja, soos die oumense altyd se – wens in die een hand en watookal in die ander en kyk waarvan het jy die meeste.
Dit voel soos Saterdag vandag. My interne horlosie gaan weer lekker opgefoes wees wanneer ek weer eendag teruggaan werk toe. En dis nog nie volgende week nie. Volgende week is “me-time” week. Ek gaan een dag Tafelberg op, ek gaan een dag Simonstad toe ry met die trein, so al langs die see langs.
Ek gaan een dag wintersklere koop – dis waarna ek die minste uitsien. Anders as seker die meeste vrouens, hou ek nie van klere koop nie. Maak nie ‘n fout nie, ek HOU van mooi klere en mooi aantrek, maar ek haat aantrekhokkies. Hoekom kan mens nie meer soos in die ou dae klere ‘op sig’ huis toe vat en dan net terugbring wat jy nie wil he nie? Seker omdat die mensdom te skelm geword het.
My ma vertel ek was kleintyd al so mislik as sy vir my moes klere koop. Dan trek ek my glo plat op die aantrekhokkie se vloer en hou my soos ‘n lappop, slap en swaar. Probeer bietjie ‘n kind aantrek wat haarself so dood hou!
Ek het vroeer vandag gaan kruideniersware koop. Nog ‘n uitstappie wat ek gewoonlik uitstel tot daar net ‘n verlepte slaaiblaar, ‘n pap tamatie, ‘n uitgeloopte aartappel, een teesakkie en ‘n halwe teelepel suiker in die huis oor is. En dalk, as ek gelukkig is, een pakkie vleis. Elk geval, ek maak altyd pligsgetrou ‘n lysie, en hou dan glad nie daarby nie. Want die nuwe koffie verlei my, en die nuwe borrelbad, en Nataniel se sosaties, en die nuwe Mr Muscle.
Ek dink in my vorige lewe was ek seker baie vuil en stink, want ek is ‘n sucker vir al wat ‘n skoonmaakmiddel is, en lekkerruik badgoed ook. Onder my kombuiswasbak is pienk en pers Handy Andy bottels. Een van my vorige huisbase was stomverbaas toe sy eendag die bottel pers Handy Andy sien. Sy het nie eers geweet mens kry die bottels in ander kleure nie. Hoe mooier die vervaardigers die houers maak, hoe makliker vang hulle my.
Maar hel, kos het duur geword! Ek kan eintlik nie glo dat daar nog so iets soos oorgewig in die land is nie, want ek sweer meeste mens kan deesdae net ‘n kwart van die kos koop wat hulle ‘n paar jaar gelede gekoop het. En beteken dit dan nie in effek dat mens minder eet en dus maerder moet wees as ‘n paar jaar gelede nie? Iewers maak twee en twee nie vier nie. En met die petrolprys sal ons nog een van die dae moet begin fietsry ook. Dink net hoe mooi gaan ons boude dan wees
Nou ja, dat ek my kos gaan wegpak, die sakke gaan nie hulself uitpak nie. Daarna gaan ek op my stoep sit, vir die Simonsberg kyk, dankbaar wees vir die bietjie laatmiddag son en ‘n Jack drink, stadig en sip-sip. More gaan ek Kaapstad toe, Greenmarket Square toe
Vlieg hel toe Mnr Villet
Ek lees vroegmôre HIERDIE BY WOSONKI en ek is sommer dadelik wit bebliksemd. Maar ek het geleer mens slaan nie jou kind as jy kwaad is nie, so ek loop eers halfdag lank en dink ek gaan afkoel. Toe nie. So, nou kom kots ek maar my gal hier uit op my eie werf. Wees gewaarsku – die skrywe is nie bevorderlik vir Loftus-siete, Bloubul-liete of enige diesulkes wat dink God bly in Pretoria, saam met die laaste buitepos van Afrikaners en Afrikaans nie.
“Die Afrikaner het die mag wat hy met die nuwe regering verloor het nou op Loftus Versfeld gevind.” – Can you handle it! Hoekom verklaar julle nie sommer net Loftus Versfeld as ‘n Afrikaner tuisland en dan trek al julle verkramptes en sogenaamde ‘Afrikaners’ daar laer en bly vir fokkin ewig daar? In die Republiek van Loftus. Ek is seker ons ander Suid-Afrikaners kan ewe goed rugby gaan kyk by Soweto se stadion. Of elders.
Ek word so kwaad dat ek wit kolle voor my oë sien. Hoe verwronge moet iemand se uitkyk wees om te dink, en ek haal aan: “Loftus Versfeld, die Blou Bulle en Bulls se tuisveld, is die een plek waar Afrikaners nog in beheer is.” In beheer van WAT presies?
As dit nie so verdomp siek was nie, kon die ou se gedagtes dalk snaaks gewees het. Goddank hy het dit nie van Nuweland gesê nie, want dan het ek my voete NOOIT weer daar gesit nie en ek HOU daarvan om Nuweland toe te gaan. Ek hou ook daarvan om rugby te kyk, maar ek het die vet weet nie daardie tipe rugbymentaliteit nie.
“Loftus is die vernaamste simbool van rugbymentaliteit en waarskynlik dié plek in die land wat Afrikaner-identiteit se openbare beeld in postapartheid Suid-Afrika verteenwoordig.”
So al ons ander sportstadiums, al ons ander provinsies, al ons ander mense in die land wat nie Loftus-siete is nie – ons het geen Afrikaner-identiteit nie?! Mnr Charles Villet vlieg in jou bliksem in, met komplimente.
Ek kan nie eers glo ‘n koerant publiseer sulke snert nie.
Mnr Villet, jy het ‘n studie gedoen oor die rol wat rugby in Afrikaners se lewens speel en hoe baie Loftus as ’n museum en monument sien. WIE is daai baie? HOEVEEL is daai baie? In effek negeer jy elke liewe mens, wit, bruin of watter kleur ookal, wat Afrikaans praat en elders in Suid-Afrika woon. Wat hulself ook as Afrikaners beskou, wat in Afrikaans skryf, dink, sing, vry en bly. En rugby kyk, al is dit nie op Loftus nie!
Ons wil juis NIE elke rugbywedstryd gebruik as ‘n skakel tot ons ‘skandalige’ verlede nie. Dis alreeds agtien jaar later – en ons sal seker nog 18 maal 8 jaar vir die sondes van die apartheidsvaders betaal, maar laat die verlede waar hy hoort – en dis nie op Loftus nie!
“By ’n stadion kan dinge gedoen word wat nie aanvaarbaar is in ’n beskaafde samelewing nie, soos patriotiese aggressie en openbare dronkenskap.” – is jy net dom-onnosel, stiksiening, of heeltemal mal?! Patriotiese aggressie en openbare dronkenskap is NIE aanvaarbaar nie, ook nie op openbare stadions nie. En enige iemand wat dink dit is, het minder opvoeding as ‘n kakkerlak! Good Grief!
Rugby het ‘n groot aanhang onder Afrikaners, ja. Maar nie NET op Loftus nie. Daar is Nuweland, die Vrystaat stadion in Bloemfontein, die Boland stadion in Wellington, Ellispark in Johannesburg, om maar net ‘n paar te noem. Die mense wat hierheen gaan is OOK Afrikaners, praat OOK Afrikaans. Of dink jy, Mnr Villet, omdat ons Kapenaars nie destyds os, esel, diensmaagd en dienskneg opgepak het en noordwaarts getrek het, het ons ons Afrikanerskap en Afrikaanswees vir die Loftus-siete present gegee? I don’t think so.
Ek bly in Stellenbosch, Mnr Villet. Hier praat die meeste mense nog Afrikaans, Mnr Villet. En die universiteit is Afrikaans, Mnr Villet. En ons is trotse Afrikaners en Afrikaanses. En te hel met jou, Mnr Villet.
Ons braai ook naweke vleis, Mnr Villet. En dan praat ons in Afrikaans met mekaar, selfs met ons anderskleurige vriende, wat ons ook na ons braaivleis toe nooi. Ons probeer vergeet van apartheid, want maak nie saak hoe enige witmens dit inkleur nie, dit was VERKEERD. So, ons probeer ons Afrikanerskap en Afrikaanswees uitleef sonder om onsself weereens as die superieur ras te beskou. Ons stem vir die DA hier in die Kaap, Mnr Villet, want ons stem vir beter regering. Ons kla ook oor die ANC regering hier om ons braaivleisvure, maar ons verlang nie terug na apartheid nie, want ons het elkeen ‘n brein. Ons verlang net na ‘n regering wat WERK, vir alle rasse en alle tale.
Ons is Afrikaners en ons is Afrikaans – in Stellenbosch, in Port Elizabeth, in Bloemfontein, in Beaufort-Wes, in Johannesburg, in Nelspruit, in Durban, in Welkom, in Saldanha, in Springbok, in Vredendal en ja, ook in Pretoria. Maar nie NET in Pretoria nie, Mnr Villet. Nooit NET in Pretoria nie, en veral nie NET op Loftus nie..
En ja, dankie Jaco, jy sê dit so mooi – “Loftus is hopeloos te klein ‘n boksie om die Afrikaner as ‘n geheel te probeer inprop.”
Vlieg hel toe Mnr Villet!
Weekly Photo Challenge: Sun
I decided to also take part in this week’s Photo Challenge
I took this photo quite awhile ago from Signal Hill, Cape Town.
Sielsalwende stlite
Dis laatmiddag en hier waar ek sit hoor ek niks. Ja, ver weg is daar die suis van bande op ‘n pad en buite waai die wind, maar rondom my is dit stil. ‘n Sielsalwende stilte.
Daar is sekere dinge en mense in die lewe wat ek nog nooit mooi kon verstaan nie. Iemand wat in sy huis sal instap en onmiddellik die radio aansit. Of die TV. En maak nie saak wat die persoon die res van die tyd doen nie, die radio of TV sal aanhou speel, sonder dat iemand werklik daarna luister. Dis soos “white noise”. Ek dink dis daar sodat die persoon nie moet dink nie, nie alleen met sy gedagtes hoef te wees nie.
Of iemand sal die oomblik as hy in sy motor klim, sy radio of CD-speler aanskakel. En eers weer afskakel wanneer hy uitklim.
Natuurlik luister ek radio in my huis, of kyk TV, of luister musiek in my motor. Of by my huis. Maar daar is ook tye wat ek in doodse stilte in my motor ry, wat ek sommer net met my gedagtes saam ry, of net ‘n slag luister of alles in die enjin nog reg klink en loop.
En daar is tye wat ek ‘n hele dag alleen by my huis sal wees en nie een keer die radio of TV sal aanskakel nie. Ek sal lees, of huis skoonmaak of kos maak. En ek sal dink. In stilte. Want soms het my siel daardie salf van stilte nodig om net weer my liggaam in te haal.
As mens by jou deur uitgaan, word jy omring deur klank. Dis motors wat om jou raas, dis toeters en enjins. By jou werk is dit rekenaars se gesuis, stemme se gedruis, telefone se gelui, voetstappe op en af, deure oop en toe, teekoppies wat klingel. Dis net NOOIT stil nie.
Toe ek Karoo toe is, het ek op die pad tussen Beaufort-Wes en Aberdeen stilgehou, die motor afgeskakel en uitgeklim. En geluister. Na die stilte. Dit het ‘n paar oomblikke geneem en toe voel ek dit. Die swaar gevoel op my skouers het stadig gelig en toe weggeval. Skielik het ek makliker asemgehaal, asof my longe groter geword het. Ek het selfs beter gesien, alles het helderder geword en skerper uitgestaan. Want dit was stil, soos in heeltemal, genadiglik stil.
Ek verstaan nie mense wat net nooit stilte om en in hulself nodig het nie. Ek hou ook daarvan om te kuier, ek is lief vir dans en ek is mal oor musiek, maar daar kom ‘n punt wat ek weet my siel soek nou van stil wees. Waar ek nie wil praat nie, nie wil hoor nie. Net wil wees. Wil asemskep in ‘n stilte so groot soos die Namibwoestyn. Alleen. Sodat ek nie myself verloor nie.











Kommentaar