Ma, ek skryf vir jou

Geluk met jou 72ste verjaarsdag, Ma. Gister was dit Megan, vandag is dit jy. Destyds wou ek so graag dat Megan saam met haar ouma verjaar, maar babas kom wanneer hulle wil, nie wanneer dit ons pas nie.

Ek kan nie vir jou ‘n gedig skryf nie, Ma. Ek het nie die woorde nie. Ek het nie eers behoorlik die woorde om te beskryf hoe dit voel as ek sien hoe deurmekaar jy deesdae is nie. Ek het nie besef hoe erg dit is totdat ons jou Kersnaweek saamgevat het Karoo toe nie. Jy is liggaamlik nog gesond, maar ons kon jou nie een oomblik alleen laat nie. Jy het nooit vergeet wie ons is nie, maar jy het vergeet waar is jou kamer, waar is die badkamer. Jy het ons dieselfde vrae oor en oor gevra, dieselfde stories oor en oor vertel.

Net bietjie meer as ‘n jaar gelede was jy nog jouself, het jy nog alleen gebly en jou eie motor bestuur. Totdat mense ons begin bel het omdat jy aan die verkeerde kant van die pad ry, of nie jou deure saans sluit nie.

Nou bly jy waar jy versorg word en ek is bitter dankbaar daarvoor, maar tot Kersfees het ek net elke keer vir ‘n paar ure by jou gekuier en nooit die omvang besef nie. Tot Kersfees toe. Die hartseerste was toe ek Kersaand wou hê dat jy die slaapklere, wat ek Kersoggend vir jou present gegee het, moet aantrek en jy my vra waar kom dit vandaan. Vreemd genoeg het jy nie een keer vergeet dat Megan vir jou ‘n bottel van jou gunsteling parfuum gegee het nie. Oor en oor het jy gekyk of dit n jou handsak is, asof jy wou seker maak dis werklik.

Die naweek is jy by kleinsus vir jou verjaarsdag, eintlik al die hele week. Ook sy het nie die omvang besef nie. Ek is jammer vir haar, ek is meer jammer vir jou. Maar ek sien nie kans nie, ek het jou maar net vanoggend gebel. Ek sal volgende week weer vir jou gaan kuier, maar ek sal net ‘n paar ure bly en dan weer huis toe gaan. Ek voel skuldig daaroor, ek lê snags wakker en ek kan nie glo die ma wat ons geken het, is nie meer daar nie. Gaan nooit weer daar wees nie.

Jy, wat altyd so lewensgroot in ons lewens was, is nou klein en verdwaal in jou eie kop. En ek wil dit nie sien nie, ek wil dit nie beleef nie, ek wil dit nie weet nie en dit laat my so skuldig soos die hel voel.

Ma, jy het gewerk toe meeste ma’s nog by hulle huise gebly en kinders grootgemaak het. Soms het ek gewens vir ‘n gewone ma wat ook by die huis is elke dag, maar dit het my ook geleer om selfstandig te wees. Jy was nie ‘n onderdanige vrou nie – jy het ons geleer om sterk te wees.

Ma, ek sal altyd onthou – die goeie en die minder-goeie:

hoe ons tot laatnag gesels en gelag het as Pa Johan nagskof gewerk het. Hoe Berdine in die oggende vertel het dat sy laasnag in haar bed, in die huis langsaan, gelag het net vir die manier hoe ons lag, al het sy nie geweet waaroor ons lag nie.

hoe jy ons geleer het om nooit te lieg nie – dat ons soms ‘n pak sou vryspring net deur die waarheid te praat.

hoe ons saamgesing het, die liedjies wat jy ons geleer het en die gedigte wat jy vir ons opgesê het.

hoe jy soms my keuses bevraagteken het, maar my altyd ondersteun het. Het ek maar meer vir jou geluister, Ma.

hoe jy vir kleinsus by pa agtergelaat het en jouself vir jare daaroor verwyt het, selfs toe sy later terug was by ons.

hoe jy altyd in die nag lus was vir soetgoed en roomys geëet het en van die keer toe ek vir jou mikrogolf appels met roomys gemaak het. Vir jare het jy gesê dit was die lekkerste ‘midnight snack’ wat jy nog ooit geëet het.

hoe ons een keer vir drie maande lank nie met mekaar gepraat het nie, maar jy steeds vir jou kleinkinders kom kuier het en dan vir my pakkies in die kombuis gelos het. Hoe simpel was daardie rusie tog nie.

hoe jy altyd my en kleinsus se kombuislappe gebleik het, want dit was nooit wit genoeg na jou sin nie – ons het jou Ma-Jik genoem agter jou rug!

hoe jy altyd vir my gesê het ek moet my hare kam, maar vergeet het ek het my weerbarstige krulle by jou familie geërf.

hoe jy in die Transvaal by my kom kuier het en besef het dat my man my slaan en my nogtans daar agtergelos het. Hoekom het jy my nie huis toe gevat nie, Ma?

hoe jy vir my papierpoppe op karton geteken het, omdat dié in die winkels nie mooi genoeg na my sin was nie. Megan het jou kunstigheid geërf, Ma – gelukkig kon jy darem sien hoe mooi skilder sy, al onthou jy dit seker nie meer nie.

hoe bang jy vir die donderweer is.

hoe jy geglo het mens gaan nooit ooit slaap as al jou skottelgoed nie gewas is nie, maak nie saak watter tyd van die nag dit is nie. Weet jy, Ma, ek het daai by jou geërf?

Ma, ek onthou vir Mabalel, ek onthou die ewige rintinkel in die ou Slamaaierwinkel, ek onthou van Amakeia wat belowe het, toe haar nonna sterwend was, om die hulpelose kindjie, tot hy groot was, op te pas.

Ek onthou hoe jy vir ons op die tafel geklim en Inamorata met jou beste operastem gesing het. Hoe jy gesing het van die kleine engel met sy vuil gesig, van die kerk en die bar sit langs mekaar ahum, van die sterwende seuntjie wat net wil hê sy moederlief moet sy skoentjies bêre en van Enjin No 5. Weet jy, Ma, ek kan al daai liedjies vandag nog toe oë onthou en sing.

Ma, jy sal dalk nie vir my aardse skatte nalaat nie, maar jy sal vir my onskatbare herinneringe nalaat.

Ma, ek is lief vir jou, Ma. Ek kan dit net nie hanteer hoe jy nou is nie. Daarvoor is ek nie sterk genoeg nie, Ma. Ek is jammer, Ma.

Categories: Die Lewe, Gedagtes | 14 Kommentaar

Post navigation

14 thoughts on “Ma, ek skryf vir jou

  1. Ja Son, dit is swaar as geliefde voor jou vervreemd. Dit is asof die persoon in gees sterf en weggaan en ons met die liggaam wat agter bly na kyk. Ek vind die beste is om al die goeie dinge te onthou en daarop te konsentreer. Sterkte!

  2. Ai Son, die seer en die liefde kom baie sterk deur- baie sterkte met hierdie stuk seer in jou lewe!

  3. die soet en die suur…… gelukkig het jy baie soet om te onthou. Sterkte

  4. Ek lees jou seer. Dra jou en jou familie op in gebed. Vir nou sal jy dit moet verduur, maar eendag sal jy net die mooi onthou.

    Baie sterkte

  5. Flentertjies op jou doppie is sterk Son!

  6. Baie mooi geskryf, Son. Ek kan uit eie ervaring werklik deel in hoe jy voel…en dis nie ‘n lekker gevoel nie. Sterkte in die verband!

  7. Gogga

    sterkte met al die innerlike wroeg, dit is nie maklik nie.
    Jy het laat ek nou amper al my swangerskap hormone laat uithuil.

  8. Jy het wonderlike ‘onthou’ om saam jou te dra. En ja, soms is ons nie sterk genoeg om alles te sien of te beleef nie.

  9. Nou verstaan ek hoekom my Lieslkind Saterdagsoo gehuil het oor haar pa. Die pa wat sy nog kan onthou. Haar seer is anders as myne.

  10. Theo Marx

    Seermooi.

  11. Ai, Son. Dis nie lekker om jou ouers te sien agteruit gaan nie. Ek het net die naweek vir my man gesê ek is nie natuurlik aangelê om die agteruitgang wat ek nou in my ma en my skoonma sien, te hanteer nie.

  12. Sjoe – ek het nie woorde nie. (Son)

    Beautiful inskrywing.

  13. Son, ek het die een al gelees die dag na hy geskryf is, maar ek kon nie woorde kry nie. Ek het gevoel deur jou woorde, en ek dink ek verstaan. Ek weet dat elke ou moet doen soos sy hart dikteer, en ek weet jou hart is goed.

    Ek is geraak, diep geraak met die een.

    Dankie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Blog at WordPress.com. Theme: Adventure Journal by Contexture International.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 374 other followers