NIE VIR SENSITIEWE LESERS NIE!!!

Ek lees gisteraand die laaste paar sketse in Kom ons sit sommer by die tafel – André le Roux en dit ontstel my so dat ek spyt is ek het ooit so ver gelees. Dis nie ‘n maklike boek nie en ek was vroeër al lus en los dit. Toe wens ek ek het.

Ek weet ons stap aan na twintig jaar in die nuwe Suid-Afrika. Ek weet die dinge van die verlede moet nou begrawe word en ons moet aanbeweeg en ophou om apartheid die skuld te gee. Ek weet al daai dinge en dis goed en reg so. Maar wat ek NIE weet nie is hoe mens vergeet van die dinge wat aan jou en joune gedoen is. Hoe groot moet mens wees om te kan vergewe en vergeet as jy weet dat jou kind, jou ma, jou man, jou geliefde doodgemartel is.

En dis nie gebonde aan ons land, ons situasie nie. Dis universeel. Mense en mag word so maklik gelyk aan BOOS.

In sy boek draai André nie doekies om nie. Hy beskryf in detail hoe iemand met ‘n draai van die slinger van ‘n ou telefoon elektries geskok word. Van ‘n wankelrige liggaam wat gedwing word om op ‘n baksteen te staan, ‘n baksteen wat net-net nie groot genoeg is vir albei voete nie, ‘n baksteen wat skuins wikkel in los sand en die man weet hy mag nie af trap nie. DIS glo nie marteling nie. Daarvoor maak die Burgerreg nie voorsiening nie.

Hy vertel van ure lank toegesluit word in ‘n sinkhok op die hitte van die dag, van opgehang word aan arms aan ‘n balk en voetsole wat ritmies geklop word met ‘n dun rottankie, van ‘n kop wat onder water of ‘n bak braaksel of urien of bloed gedompel word. Hy skryf van ‘n sandsak wat oor ‘n kop getrek word en stadig natgemaak word totdat die sak self voor die man se mond begin asemhaal, vlakker, al vlakker, tot die sak vasslaan teen sy gesig en daar nêrens meer lug deur die nat goiing kom nie. ‘n Man word geblinddoek, op ‘n dwarspaal, ‘n paar sentimeter bo die grond – maar hy is onder die indruk dat hy verdiepings ver bo die aarde en sand hang. Die duiseling loop sy hele kop vol.

Twee word in ‘n helikopter die lug in vervoer. Een is gelukkig, die keuse is lukraak, hy kom terug. Een word by die oop deur uitgestamp, om hom dood te val. ‘n Man word van sy vrou en kinders geskei en daar word gedreig dat hulle doodgeskiet gaan word. Dan kom die skote, een vir een, deur die bosse. Die man skree, hy wil praat, hy wil so graag praat dat hy amper onverstaanbaar raak. Wat laat hom dink sy vrou en kinders word regtig doodgeskiet? Dit sou mos moord wees en ons is nie moordenaars nie…

Die vindingrykheid ken geen perke of grense nie, die brutaliteit wissel, die onmenslikheid net effens. Marteling wat gepleeg word in die naam van oorlog, in die naam van die behoud van vrede, van veiligheid. Met geweld behou ons vrede?!

Om te weet jou kind of man of geliefde het in ‘n oorlog gesterf, doodgeskiet in ‘n skermutseling, ‘n skoon dood gesterf – dis nie maklik nie, maar dis verdraaglik. Want oorlog is deel van menswees. Nie dat dit reg is nie – geen oorlog is werklik geregverdig nie, want dit gaan gewoonlik oor mag en besittings en die werklikheid is dat daar eintlik genoeg is vir ons almal. Genoeg ruimte vir elke mens, elke geloof. Maar die mens is selfsugtig, suinig, inhalig, kleinsielig. Daarom is daar oorloë. Dis een ding.

Om te weet jou kind of man of geliefde is doodgemartel in ‘n “oorlog” – dis ‘n ander ding. Hoe leef mens ooit daarmee saam? Hoe vee jy die beelde uit jou kop as jy iemand gemartel het? Hoe vee jy die beelde uit jou kop as jy die marteling oorleef het? Hoe vee jy die beelde uit jou kop as jy weet jou geliefde is doodgemartel? Met sielkundige hulp? Ek glo te min.

Wie de hel kan ‘n tydsbeperking op iemand se onthou sit?

Hoekom skryf ek vandag hierdie? Is alles dan nie lankal verby nie? Is daar nie Menseregte, ‘n Geneefse konvensie, al sulke kommissies van die waarheid en versoening nie? Moenie jouself belieg nie. Marteling is nie beperk tot ‘n land of ‘n tydperk nie. Iewers word daar iemand gemartel, of dit nou vir oorlog of vrede of inligting of magsgevoel is.

Daar is verskeie soorte marteling. As jy ‘n vrou verkrag, martel jy haar. As jy ‘n kind verniel en misbruik, martel jy daardie kind. As jy iemand verneder met woorde en verkleineer en die persoon se selfvertroue afbreek tot in die grond in, martel jy daardie persoon. Die boelie op die speelgrond by die skool is ‘n martelaar in wording.

Moenie op die seepkis klim en verontwaardiging uitskree teen oorlogsmisdade terwyl jy dalk self elke dag jou eie klein dosisse marteling uitdeel aan jou medemens nie. Of toekyk hoe ‘n ander dit doen sonder om op te tree nie.

Ons wil nie betrokke raak nie.

“Die enigste ding nodig vir boosheid om te oorwin, is dat goeie mense met gevoude arms sit en toekyk en maak asof hulle niks sien nie.”