Dinsdagoggend net voor 5 maak ek die laaste plaashek agter my toe. My hart is swaar en my trane sit vlak. Maak nie saak hoe groot hulle is nie, dit bly maar ‘n slegte ding as jou kind ver van jou is. Nie dat mens elke dag hul drumpel wil deurtrap nie, dis net makliker om te weet hulle is ‘n halfuur ver eerder as ses en ‘n half uur. Ek bere vir eers my hartseer, want ek weet die pad terug gaan al my aandag verg.

Die keer is Megan nie by om kommentaar te lewer oor taxi’s wat van agter aangestorm kom nie, maar gelukkig is die pad so vroegoggend nog redelik stil. Op Beaufort-Wes is dit net mooi tyd vir ontbyt. Na ons geeet het, is die enigste rede hoekom ek die blonde meisie oplet, omdat sy so na aan my parkeer het, dat ek byna nie my deur kan oopkry nie. Ek sien haar egter net skrams, omdat sy op dieselfde oomblik in haar VW Polo klim. Ek trek eerste uit die parkering en merk in die verbygaan op dat dit ‘n blinknuwe motor is, en dis ‘n GP registrasie nommer.

Dis nie inligting wat ek doelbewus ingeneem het nie, dis van daardie dinge wat mens raaksien en later eers weer onthou. As daar iets gebeur het.

Die iets gebeur ongeveer tien kilometer buite Beaufort. Sy moes eers petrol ingegooi het toe ek daar weg is, want sy was nie onmiddellik agter my nie. Ons is vier motors wat agter ‘n trok vashaak, ek is derde en agter my is ‘n swart Jeep. Die motor wat reg agter die trok is, het pas ‘n gaping gesien en verbygegaan en my aandag is vorentoe gevestig toe ek skielik die wit links van my gewaar. My eerste reaksie is skrik en toe ongeloof en daarna witwarm woede.

Die blond in die GP Polo het met ‘n spoed van agter die swart Jeep gekom en ons almal, die trok inkluis, aan ons linkerkant verbygegaan, anderkant die geel lyn! Sommer net so. Ek kon nie glo wat ek sien nie. In hierdie tyd word daar heeltyd gemaan teen roekelose bestuur en daar is al soveel mense dood op die pad en sy jaag so aan. As enigeen van ons ander net ‘n aks na links moes padgee vir enige aankomende verkeer, was dit ‘n gemors. Om nie eens te praat van wat sou gebeur het as die trok vir ons padgemaak het en haar dalk nie gesien het nie.

Sy is ook net verby toe gee die trok wel pad na links sodat ons ander hom verby kan steek. Ek kook nog van verontwaardiging toe ons skaars 5 kilometer verder ‘n verkeersman in sy motor langs die pad sien staan. Dis toe wat ek besluit te hel met dit en ek slaan remme aan en stop sommer dwars langs die verkeersman, klim uit en beduie vir hom van die blond met die GP Polo, wat toe reeds in die verte verdwyn het. Hy kyk my eers aan asof hy dink ek maak ‘n grap, maar toe hy sien ek verwag regtig reaksie van hom, klim hy darem in sy motor en sit haar agterna. Toe ek daar wegtrek, wonder ek of hy haar ooit gaan inhaal en verwag enige oomblik dat hy van voor af gaan kom, onverrigter sake.

Seker maklik tien kilometer verder, toe ek om ‘n draai kom, staan die flitsende blou ligte skielik langs die pad, met die wit Polo voor. Hy het haar toe wragtig gevang. Ek stop agter hulle en stap nader en is nog skaars by haar venster toe sy begin praat.

“Ek is jammer, ek is regtig verskriklik jammer. Ek het vir hom gese ek is baie jammer.”

Sy is so wit soos haar Polo geskrik en so jonk soos my eie meisiekind. Ek is sommer van voor af kwaad.

“Jy was roekeloos en dis ‘n idiotiese onverskillike ding wat jy gedoen het! Jy kom van ver af en daar le nog ‘n lang stuk pad voor jou Kaap toe. En jy ry SO, op hierdie pad. Wat de hel het jy gedink? Wat dink jy, hoe gaan jou ma en pa voel as jy verongeluk? Of ander mense se dood veroorsaak? Jy is alleen en haastig en ongeduldig, nou stel jy jou eie EN ander mense se lewens in gevaar!”

Ek steek vir haar ‘n preek van epidermiese proporsies af wat selfs die verkeersman laat luister. Toe ek stilbly, vra hy ewe of ek dink hy moet vir haar ‘n boete gee.

“Ja, ek dink beslis jy moet vir haar ‘n boete gee, sommer ‘n ordentlike een, sodat sy vir die res van haar lewe sal onthou om ordentlik te ry.”

Toe draai ek om en ek loop klim terug in my kar. Die verkeersman loop saam en vra my naam en telefoon nommer en skryf my registrasie nommer neer en vertel my ewe om my veiligheidsgordel vas te maak en veilig verder te ry. Eers so dertig kilometer voor Laingsburg haal die Polo my weer van agter in. Ek maak vir haar pad om verby te gaan, want op die langpad sal ek nooit ‘n vinniger voertuig aspris agter my vashou nie. Sy flits ewe dankie. Ek wonder of sy de hel in is vir my en of sy dalk net iewers in haar rasionele denke sal dink dat ek haar dalk, moontlik, miskien van ‘n ongeluk gered het deur haar in die bek te laat ruk. As dit my dogter was wat so onverskillig gery het, sou ek wou he dat iemand haar moet rapporteer, eerder as om haar te los totdat ‘n oordeelsfout haar of ander mense se lewens kos.

Gisteraand hoor ek op die nuus hoeveel mense al dood is op ons paaie, 39 per dag vanaf 1 Desember, en dat die regering nou wetgewing wil maak dat jou lisensie permanent opgeskort kan word vir dronk, roekelose of nalatige bestuur. Ek hoop die blond met die GP Polo het dit ook gehoor en dalk, net dalk, sal sy volgende keer dink voor sy doen terwyl sy bestuur.

En dalk sal sy eendag vir haar kinders vertel van die kwaai vrou wat haar een keer op die langpad laat besef het ‘n lewe is kosbaar en nie die moeite werd om weg te gooi net omdat jy haastig is nie.