Nog een slapie en 3 ure se werk, dan is ek ook met vakansie. En dan ‘n halwe slapie en ek is oppad Karoo toe. As ek die weerburo kan glo, sal ons tonge darem nie hierdie jaar uithang van die hitte nie. Dit gaan maar NET 31 grade word :twisted:

Ek het myself belowe die rekenaar bly by die huis. Die internet modem bly by die huis. Net genoeg klere gaan saam – blykbaar het statistiek (mmm, ek wonder wie s’n) bewys vrouens pak altyd net mooi dubbeld soveel as wat nodig is as hulle op reis gaan. So, ek gaan ‘n kleeiiin klein tassie (moet) saam vat. Want Megan se bagasie is anyway klaar 80% van wat in die kattebak kan gaan. En my ma gaan ook saam. En die geskenke moet saam. En die krismis kos (wat nog gemaak moet word). En die krismis drank (wat nog gedrink moet word).

Net die Galaxy Tab gaan saam – vir lees (en Facebook en darem so nou en dan na die blogs loer… ). En 7 Dae. Van Deon Meyer. Vir poeding.

Talk is cheap, money buys the whiskey. Dus, ek gaan nie baie praat nie. Wens julle was almal hier, dan kon ons saam whiskey drink. Of Tequila…

Op blog-vriendskappe, in die blogwêreld en in die werklike wêreld, dié van julle wat ek persoonlik ken.

Op 2011 wat op sy rug lê en 2012 wat soos ‘n groot lig voor in die wa-pad wink.

Al weet julle dit nie altyd nie… soms dra julle my. Soms, as die pad te lank word en die opdraande te swaar, dan kry ek weer brandstof en ‘n nuwe asem iewers op een van julle se blogs. Wanneer die swart kat aan my hakke kom krap, sal een van julle se swart hond hom kom opvreet. Wanneer ek lag, lag julle saam. Wanneer ek huil, troos julle. Wanneer ek kwaad of moedeloos word, praat julle my moed in of word sommer saam met my kwaad.

Dankie. Vir elkeen wat hier lees en my lewe mooier en voller maak.

Vrede vir julle gedurende die Feestyd. Ry veilig, waar julle ook al gaan, al is dit net kafee toe om die hoek.

Mooi loop, mooi maak, mooi bly.

Ciao!