Is die mens. Ek vra by voorbaat verskoning oor die gal wat ek hier gaan braak. As jy ‘n positiewe, opgeruimde, kentekend aan die Feesgety gekwyl wil hoor, moenie verder lees nie.

Ek is nie op die oomblik op ‘n goeie “space” in my kop nie. Nie omdat daar iets fout is in my lewe nie. Omdat daar meer as iets fout is met die mensdom. Mense teef en teem oor die vrou wat in China tereggestel is “net omdat” sy dwelms gesmokkel het. My goedere fok, man! Sy is so goed as ‘n moordenaar haarself. Gaan vra elke ouer wat deur die hel van dwelmverslawing met ‘n kind is of hulle dink haar straf was oordadig.

Die mens is die grootste fout van God se skepping. Hy moes by die diere opgehou het. Ja, stenig my, ek gee nie ‘n flenter om nie. Daar is NIKS op aarde gevaarlik nie, behalwe die mens. Die “Ry veilig” veldtogte se boodskap is spoed maak dood. Stront man! MENSE wat te vinnig ry maak ander mense dood. Dwelms maak dood. MENSE het daai dwelms uitgevind en vervaardig. Daar is anti-gewere veldtogte. ‘n Geweer skiet nie vanself nie. Dit het ‘n MENS se hand nodig.

Ek verstaan hoekom baie mense nie kan glo daar is ‘n God nie, want hoe kan enige God so ‘n wese skep wat die saad van vernietiging in hom ronddra. Kyk hoe lyk die wereld. En skielik wil almal in Desember sing van vrede op aarde en in die mens ‘n welbehae. Net sodat hulle weer in Januarie verder kan moor, roof, drink, ander verongeluk, hoereer, oorlog maak, kinders verkrag en mishandel? Tot volgende Kersfees.

Nee dankie. As ek vandag kon, op hierdie oomblik, sou ek my lidmaatskap van die mensdom sonder ‘n oogwink opgegee het. Ek troos myself daaraan daar is wel net soveel goeie mense as slegtes daar buite, maar soms, net somtyds, raak die mensdom vir my te veel. NOU is een van daardie somtyds.