Maandelikse Argiewe: November 2011

Jy kan beter doen

So paar naweke gelede braai ek by my tweede jongste suster. Eintlik half suster. Ons het een pa, verskillende ma’s. Die ouderdomsverskil tussen my en haar is 20 jaar.

Noudat sy groot is, getroud en met twee seuntjies, het ons mekaar ingegroei, by gebrek aan ‘n beter beskrywing. Dis die eerste keer in byna 5 jaar wat ons weer saam kuier. Soos die aand loop kom ek tot die besef dat ek regtig van my sus hou. Dat sy baie soos ek dink, dat sy ‘witty’ en intelligent is en dat ek uitgemis het deur die jare wat ek nooit moeite gedoen het om meer tyd met haar te spandeer nie.

Later in die aand, elkeen met ‘n doppie en tjoppie in die hand, begin ons oor ons onderskeie kinderdae praat. En deel ons herinneringe oor Pa. Ons goeie, maar helse streng pa. Ons pa wat geglo het jy bly slegs uit die skool as jy in die hospitaal opgeneem is. Wat ons gatvelle sou aftrek as ons sou bank. Ons pa wat een van die slimste mense is wat ons ken, maar nooit die geleentheid gehad het om verder te gaan studeer nie.

Toe se my sus: “Weet jy, Pa vertel nou nog vir my ek kon soveel meer in die lewe bereik het.” (Sy het ‘n gewone kantoor werk, maar is ook bitter intelligent.) “Maar ek vee my gat aan hom af” praat sy verder. “Ek het hom net een keer vertel ek is gelukkig met wie en wat ek is, ek het geen ambisie om soos Alida (ons jongste sussie wat ‘n high flyer is) te wees nie.”

Ek kyk vir haar en ek besef sy is eerlik, sy bedoel dit regtig. Sy is gelukkig om net te wees wie en wat sy is. Al het sy nie ‘n graad of ‘n hoe pos nie. Die gesprek bly my vir dae by. En ek onthou te veel. As ek huis toe gekom het met 85 persent, dan wou pa weet hoekom is dit nie 90 persent nie. As ek 5 boekpryse aan die einde van die jaar gewen het, dan wou pa weet hoekom was dit nie die ander 3 ook nie. Al het ek hoe goed gedoen, ek kon altyd beter gedoen het. Volgens pa.

Moenie my verkeerd verstaan nie, ek het een van die beste pa’s, maar my sus het my ‘n newsflash gegee. Oor hoekom ek soms as ek iets regtig complicated reggekry het in my werk, soos ‘n ‘imposter’ gevoel het. Asof dit nie regtig ek is nie, want ek kan mos nie so goed wees nie. Oor hoekom ek so min geloof in my eie vermoens het, al het ek myself al in verskeie velde bewys.

Want my beste was nog nooit goed genoeg nie. Al was my beste beter as baie ander s’n. So, EK was nooit goed genoeg nie. Dit het oorgespoel in soveel afdelings van my lewe. Ek is bly my sus het vroeg in haar lewe haar eiewaarde besef. Ek het nog nodig om myself elke dag ‘n ‘prep talk’ te gee om myne te besef.

Hoe fok ons ouers ons nie soms op met die beste bedoelings in die wereld nie. Ek is nie kwaad vir my pa nie, nee, ek weet hy wou vir ons net meer in die lewe laat bereik as wat hy kon. Maar ek hoop ‘n ander pa (of ma) van jong kinders lees hier en catch a wake-up. Moedig jou kind aan, maar moenie dink hy of sy moet jou drome verwesenlik nie en moenie dat jou kind se beste nooit goed genoeg vir jou is nie.

Categories: Gedagtes | 11 Kommentaar

Sommer net

Ek verlang na my blog. Nie dat iemand my keer om hier te kom skryf nie, dis net – op die oomblik het ek so baie ysters in die vuur, dit voel of ek binnekort my hande gaan verbrand. Maar nou ja, ek is al daarvan beskuldig dat ek die duiwel se dogter is – ja, daai is ‘n lekker, lang, skandalige storie wat ek julle dalk tog eendag moet vertel, as ek my moer goed genoeg gestrip het, maar vir nou sal ek dit maar laat verbygaan. Mens kry die armes van gees en dan kry jy die armsaliges. Armsalig is die een wat altyd sy eie tekortkominge en fokops wat hy (sy) aangejaag het, wil vergoeilik deur Rooikappie in die drie Varkies se storie te wil sit.

Maar wag, laat ek julle nie verveel met antieke geskiedenis wat elke kort-kort sy kop by die agterdeur inwurm nie. Ek wou sê ek is regtig besig. Die November storie-uitdaging gaan ek nie maak nie, dis nou om 50 000 woorde voor 30 November te skryf. Die gaan sit en begin skryf het my egter laat besef dat ek werklik WIL en KAN. Die “plot” is daar, die karakters is daar, ek het al ongeveer twaalf duisend woorde geskryf en ek weet in my binnekant van my binneste kant:

Dat ek hierdie storie gaan skryf, al vat dit my ‘n paar maande.

Dat dit vir my lekker is om te skryf, maar ook dat ek vrek LUI is.

Dat ek myself elke keer moet aanpraat om te gaan sit en nog ‘n hoofstuk te begin, maar dat ek dan soos ‘n ou Ford kar is – damn hard to start, but then damn hard to stop :-)

Dat ek alreeds ‘n volgende storie se buitelyne in my kop het.

Dat ek ook nog ‘n hygroman wil skryf, sommer net omdat ek wil :twisted:

Verder werk ek my in ‘n flat spin by die werk, want die mense by wie ons verslae moet indien, wil niks meer verslae hersien na 1 Desember nie, en nou het almal skielik wakker geskrik. What else is new?

Wat nog?

Ek begin die 1ste Desember met Pilates klasse, dalk help dit vir die knaende seer skouers.

Ek samel klere, skryfbehoeftes en alles wat ‘n kind kan nodig hê in vir Die Herberg kinderhuis in Robertson. Dis ‘n saak wat my verskriklik na aan die hart lê. Toe ek ‘n klein kind was, het my ma en pa altyd kinders van daar gaan haal vir naweke en vakansies. Tot vandag het ek daardie kinders nie vergeet nie en wonder baie keer wat van hulle geword het.

Ek is ook highly befok oor die ouers van die seuntjie wat hulle mishandel het en wat dood is, en nou, NA AGT JAAR, word die saak eers afgehandel en hullle kom so te sê NIKS oor nie. Fokkin goed moet gehang word. Ek kan nie hulle name onthou nie, dalk ook maar beter so, maar dit was gisteraand op die nuus. Hulle is nou 26 en was 18 toe hulle die klein seuntjie so mishandel het – hulle eie kind. Maar mag God nie slaap nie.

Ek wens ek kan op die mooi aande langs die see gaan loop, maar dit sal maar moet wag tot ek vakansie het. Ek wens dit was al vakansie, maar dit sal ook maar eers moet wag. Ek wens ek kan vir ‘n week iewers in ‘n berghut gaan bly en net skryf, maar ek sal maar ‘n paar dae in die Karoo daarvoor moet gebruik. Ek wens ek het tyd om Jacobsbaai toe te gaan sodat my siel bietjie kan opvang met my lyf, maar dit sal ook eers moet wag tot later – of vroeg in die nuwe jaar.

So gaan mens se lewe verby. En helfte van die tyd kom jy nie uit by dit wat jy wens nie. Ek maak ook al lankal nie meer nuwejaarsvoornemens nie, dis te depressing as ek niks daarvan uitgevoer kry nie. Soos die spreekwoord sê: “Life is what happens while we are making other plans.”

Laat ek ophou bubbles blaas en aangaan. Eintlik wou ek net kom sê ek mis die blog(gers).

Ciao!

Categories: Sommer net | 15 Kommentaar

Soms wil ek my hart iewers los

Soms wil ek my hart iewers los

iewers ver van mense weg

soos iewers in die diepsee of die Knysnabos

net die verste weg van die naaste aan my

net die mees onbekende plek verby

wens ek soms ek kan daar my hart los

êrens met winterreën en ‘n lente met eindeloos kleur

somer met skaduwee

en ‘n herfs wat gestroop aanhou gee

dan daar sal ek my hart ‘n wyle los

of in die diepsee, dalk die Knysnabos

 

Soms wil ek my hart iewers los

van als gestroop sal ek ligter loop

soos iewers aan die sonkant van ‘n verre land

nog onverniel, sonder letsels getrap

sonder genadelose voeteval

wens ek soms ek kan daar my hart los

êrens met winterreën en ‘n lente met eindeloos kleur

somer met skaduwee

en ‘n herfs wat gestroop aanhou gee

dan daar sal ek my hart ‘n wyle los

of in die diepsee, dalk die Knysnabos

Categories: Musiek | 11 Kommentaar

Die ontwyking van die wondersoete ding

Ek is nie ‘n oggendmens nie. Dit maak die lewe moeilik. Die gewone werkslewe is nie aanmekaar gesit vir nagmense nie. Dit werk so; jy staan soggens op, vroeg, en gaan werk. Ongeveer 5nm kom jy huis toe en doen jou huis dinge, maak kos, eet, kyk TV, gaan slaap.

Nie as jy ‘n nagmens is nie. Tienuur in die aand raak jy soos die Duracell Hasie. Wanneer jy uiteindelik jouself dwing om te gaan slaap, is dit ‘n onderbroke slaap, want jy gaan slaap omdat jy weet jy moet, nie omdat jy wil nie. En in die oggend is jy gedaan. Soos my pa baie dae met my geraas het; “Gisteraand was jy kaatjie van die baan, vanoggend is jy dooie bobbejaan”

Daar gaan dae, weke, maande verby wat ek nooit een nag ordentlik slaap nie. Ek slaap net-net genoeg om myself aan die gang te hou. En elke keer is die onderneming daar: ek gaan hierdie naweek myself ‘n slag uitslaap, al my verlore slaap inhaal. “Famous last words.” Wanneer die naweek daar is, hou ander dinge mens weer uit die slaap. Bly jy laatnag wakker, want jy kan mos die volgende oggend laat slaap, trek jou brein jou lyf ‘n streep, of andersom. Wat ookal die geval, daai volgende oggend werk jou ingeboude wekker oortyd, asof dit ‘n weeksdag is.

Dit word ‘n bose sirkel. Op ‘n dag begin jy voel hoe jy stadig maar seker in ‘n swart gat afsak. Eers het jy geen idee hoekom jy so mislik voel nie, asof duiwels die heel tyd op jou graf dans, never mind nog daaroor loop. Party mense begin happy pille drink, ander vat ‘n dop. Maar die swart gat bly gaap.

So twee weke gelede het ek so begin voel. Ek, vir wie die woord depressie ‘n erger vloekwoord as fok is. Dit soek nie vir my nie, ek het nie tyd vir depressie nie. Ek verstaan ander mense kry dit, maar dis soos misdaad – dit gebeur met ander mense, nie met my nie. Ek het huilerig begin voel, swaarmoedig, niks lus vir enige iets nie. En tog kon ek geen konkrete rede daarvoor kry nie. Tot verlede Saterdag.

Ek dink my brein het besluit om in te gryp. Ek het opgestaan en wou nog allerhande dinge doen, toe voel ek sleg en gaan le weer. En ek slaap. En SLAAP. Hier en daar het ek opgekom vir asem, maar dit was soos narkose. Ek kon met die beste wil in die wereld nie my oe oopkry nie. Vir ses ure lank.

Toe ek uiteindelik wakker word, tydsaam en rustig, voel ek soos ‘n nuwe mens. Die swart gat was toe. Ek weet depressie is nie altyd weens ‘n tekort aan slaap nie, ek weet baie mense kan met min slaap klaarkom sonder om depressief te raak. Ek weet ook nou ek is nie een van hulle nie.

Moenie die waarde van ordentlik slaap en goed uitrus onderskat nie. Veral nie as jy sommer skielik soos die dood begin voel nie. Slaap, inderdaad, is ‘n wondersoete ding!

Categories: Gedagtes | 9 Kommentaar

November

Vir die wat wonder of nog nie weet nie, ek gaan so rukkie weg / stiller wees hier, want ek is die hele Novembermaand besig HIER

Dis nogal ‘n hap wat ek afgebyt het! Wish me well :-)

Categories: Sommer net | 8 Kommentaar

Blog at WordPress.com. Theme: Adventure Journal by Contexture International.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 545 other followers