So paar naweke gelede braai ek by my tweede jongste suster. Eintlik half suster. Ons het een pa, verskillende ma’s. Die ouderdomsverskil tussen my en haar is 20 jaar.
Noudat sy groot is, getroud en met twee seuntjies, het ons mekaar ingegroei, by gebrek aan ‘n beter beskrywing. Dis die eerste keer in byna 5 jaar wat ons weer saam kuier. Soos die aand loop kom ek tot die besef dat ek regtig van my sus hou. Dat sy baie soos ek dink, dat sy ‘witty’ en intelligent is en dat ek uitgemis het deur die jare wat ek nooit moeite gedoen het om meer tyd met haar te spandeer nie.
Later in die aand, elkeen met ‘n doppie en tjoppie in die hand, begin ons oor ons onderskeie kinderdae praat. En deel ons herinneringe oor Pa. Ons goeie, maar helse streng pa. Ons pa wat geglo het jy bly slegs uit die skool as jy in die hospitaal opgeneem is. Wat ons gatvelle sou aftrek as ons sou bank. Ons pa wat een van die slimste mense is wat ons ken, maar nooit die geleentheid gehad het om verder te gaan studeer nie.
Toe se my sus: “Weet jy, Pa vertel nou nog vir my ek kon soveel meer in die lewe bereik het.” (Sy het ‘n gewone kantoor werk, maar is ook bitter intelligent.) “Maar ek vee my gat aan hom af” praat sy verder. “Ek het hom net een keer vertel ek is gelukkig met wie en wat ek is, ek het geen ambisie om soos Alida (ons jongste sussie wat ‘n high flyer is) te wees nie.”
Ek kyk vir haar en ek besef sy is eerlik, sy bedoel dit regtig. Sy is gelukkig om net te wees wie en wat sy is. Al het sy nie ‘n graad of ‘n hoe pos nie. Die gesprek bly my vir dae by. En ek onthou te veel. As ek huis toe gekom het met 85 persent, dan wou pa weet hoekom is dit nie 90 persent nie. As ek 5 boekpryse aan die einde van die jaar gewen het, dan wou pa weet hoekom was dit nie die ander 3 ook nie. Al het ek hoe goed gedoen, ek kon altyd beter gedoen het. Volgens pa.
Moenie my verkeerd verstaan nie, ek het een van die beste pa’s, maar my sus het my ‘n newsflash gegee. Oor hoekom ek soms as ek iets regtig complicated reggekry het in my werk, soos ‘n ‘imposter’ gevoel het. Asof dit nie regtig ek is nie, want ek kan mos nie so goed wees nie. Oor hoekom ek so min geloof in my eie vermoens het, al het ek myself al in verskeie velde bewys.
Want my beste was nog nooit goed genoeg nie. Al was my beste beter as baie ander s’n. So, EK was nooit goed genoeg nie. Dit het oorgespoel in soveel afdelings van my lewe. Ek is bly my sus het vroeg in haar lewe haar eiewaarde besef. Ek het nog nodig om myself elke dag ‘n ‘prep talk’ te gee om myne te besef.
Hoe fok ons ouers ons nie soms op met die beste bedoelings in die wereld nie. Ek is nie kwaad vir my pa nie, nee, ek weet hy wou vir ons net meer in die lewe laat bereik as wat hy kon. Maar ek hoop ‘n ander pa (of ma) van jong kinders lees hier en catch a wake-up. Moedig jou kind aan, maar moenie dink hy of sy moet jou drome verwesenlik nie en moenie dat jou kind se beste nooit goed genoeg vir jou is nie.





Kommentaar