Maandelikse Argiewe: September 2011

Die terapie van ‘n haarsalon

Donderdagoggend half nege (ek moes seker vroeër gaan werk het, ja, maar ander dae is ek al 6h00 by die werk) neuk ‘n wit Toyota Tazz met ‘n CJ registrasie nommer reg oor die pad, reg voor my in. My gunsteling kleur kar, my gunsteling fabrikaat kar, my gunsteling registrasie nommer kom donder een Donderdagoggend my dag, my week, duidelik op. Probeer die Universe my dalk iets vertel?

Eintlik het Meneer eers voor ‘n trok verby geskiet en toe voor my in. Die trok het hom misgery, ek kon nie, al het ek baie hard probeer. Ek moet erken daar was oomblikke agterna wat ek gewens het die TROK het hom eerder gestamp. Ja, ja, wreedaardig, ek weet. Maar as hy kleiner was, en ek groter, het ek hom dalk geslaan laat dit lyk asof dit eintlik die trok was wat hom getref het. Ek het dit oorweeg in die hitte van die oomblik, maar toe voel ek die swaar hand van die gereg op my skouer, wat sê; “Kalmeer, dame, kalmeer.”

In elk geval, vandat ek die Opel gekoop het, huil ek nog steeds in my binneste binnekant omdat ek nie ‘n Toyota kon kry nie. My rasionele denke vertel vir my ek dink boktjol, my denke wat nog in feëtjies en kabouters glo, sê vir my dit was my straf. Ek WIL mos kerm oor ‘n Toyota, nou sal ek ‘n punt bewys word.

Be that as it may… ek het wel ‘n paar lesse geleer.  Ek het nog net een keer voorheen ‘n groot ongeluk gemaak – in 1996 toe ek my Mazda gerol en afgeskryf het. En nie verseker was nie. Ek sal julle die drama en trauma spaar. Van toe af verseker ek my kar tot by die doppies wat jy op die uitlaatkleppe waar jy lug in die bande blaas, draai. Overkill, but nonetheless. Ek weet nou hoekom ek dit gedoen het.

Dan is daar die ding van beheer. Ek het ‘n moerse probleem daarmee. Ek hou nie van NIE in beheer wees van my lewe nie en vir byna alles in my lewe het ek nie net ‘n plan B nie, maar ook ‘n plan C. Nog overkill, go figure. (Sielkundiges sal ‘n field day hê met al my issues :twisted: ) Van die oomblik wat ek my kar gestamp het, was ek nie meer heeltemal in beheer nie. Ek was nog wys genoeg om te besef ek laat niemand aan my kar raak voor ek nie die okay van die versekering gekry het nie – die polisie wou nog die kar uit die pad stoot, maar ek het amper hulle koppe afgebyt nadat ek vasgestel het hulle is nie van Stellenbosch nie en het net toevallig agter my gery (goeie ooggetuies ten minste!). En ek het hulle beveel om Stellenbosch se polisie te ontbied.

Maar van die oomblik wat die wegsleepdiens die Opel daar weggevat het, was alles uit my hande uit. Ek moes ‘n kollega bel om my te kom haal by die ongelukstoneel. En daarna moes ek die versekering weer bel om vir my ‘n huurkar te reël. Ek moes weereens ‘n kollega vra om my na die verhuringsmaatskappy te neem. En ek moes wag, Wag, WAG. Wag is een van die moeilikste dinge in my lewe, dis hoekom ek sukkel om te delegeer. As ek iets gedoen wil hê, dan bedoel ek NOU, nie netnou of later nie. So ek doen dit eerder net self. My kinders kon die aapstuipe kry as ek hulle vra om iets te doen en hulle doen dit nie dadelik nie en ek ruk my op en doen dit sommer self.

“Ma, ek sal dit mos netnou gedoen het!” (Wat vir ‘n woord is netnou in elk geval?!)

“As ek dit netnou gedoen wou hê, sou ek so gesê het. Ek wou dit NOU gedoen gehad het!”

Ja, ek weet. *SUG*

So, toe moes ek wag. Wag vir die eis om geregistreer te word. Wag vir die assessor om te gaan assess. Wag om te hoor of dit regmaak of wegmaak is – daai was die swaarste wag. En dis hier waar ek geleer het daar is ook ander baie bekwame mense in die wêreld. Dis hier waar ek ‘n baie groot kompliment wil gee aan 1st for Women versekering. Want teen Vrydagmiddag, net bietjie meer as 24 uur later, was alles gedoen en besluit en gereël . En Maandagoggend is die Opel na die paneelkloppers vir herstelwerk, en volgens hulle sal ek my kar teen volgende Vrydag terug hê, amper R18 000 later, maar nogtans. En natuurlik baie stres later.

Toe, na alles, toe my baas my gisteroggend laat weet hy gaan fietsry tot kwart oor 10, het ek besluit – te hel met dit – dan gaan ek haarsalon toe tot 10 uur. Ek gaan my hare laat sny en blaas en sommer net die hele week se bliksems uit my kop laat masseer. Omdat ek wil, omdat ek lus het, omdat ek ‘n vrou is. Want iemand het gesê as ‘n vrou haar kar stamp, gaan sy haarsalon toe, as ‘n man sy kar stamp gaan hy kroeg toe.

My grootste les: – ek weet vandag daar is min terapie beter as die terapie van ‘n besoek aan ‘n haarsalon nie. Ons karre kan gestamp wees, ons kinders kan stout wees, ons mans kan moerig wees, ons huis kan vuil wees, ons beursies kan dun wees – maar as mens by die deure van ‘n haarsalon uitstap en jy weet jou hare lyk mooi, regtig regtig mooi, DAN is die Kaap weer Hollands, is die dag weer vol sonskyn, lyk als wat verkeerd is sommer baie makliker om reg te maak.

If all else fails, have your hair done! ;-)

Categories: Die Lewe, Gedagtes | 24 Kommentaar

My pa se land

Dit was ‘n week met gemengde gevoelens – sleg en goed, maar uiteindelik tog meer goed as sleg. En vanaand as ek my oë toemaak, dan sal ek weet ek is presies waar ek wil wees.

 

Categories: Musiek | 3 Kommentaar

Die duiwel se naam is…

SIMS! My naam is Son en ek is verslaaf aan SIMS. Ek kan myself doodeenvoudig nie help nie. Ek bou en ek breek en ek koop huise en klere en karre. Ek gaan mal! Ek kan nie glo iets so simpels het my so gebyt nie!

Hoe het dit gebeur!? Hoe gebeur enige verslawing? Ag, probeer net hierdie enetjie. Ag, sluk net hierdie pilletjie. Ag, drink net hierdie een glas. Ag, rook net hierdie sigaret. Ag, trek dit tog net IN jou longe in!

Ek het al daai al gedoen, eendag op ‘n reëndag. Sigaret gerook, wyn gedrink, pilletjie gesluk, groenblare gerook – NADA! Niks van daai het my amuse nie, niks het my verslaaf nie. Ek vergeet selfs om my ysterpille te drink. Ek het gedink ek is verslawingsbestand! Bha! Famous last words!

“Ma, wil jy SIMS op jou rekenaar hê?” Wyk Satan! “Ag nee Bernard, wat sal ek nou daarmee doen? Gee my eerder ‘n Suduko game of Solitaire?”

“Ma, dis ‘n LEKKER game, jy maak jou eie mense, bou vir hulle huise, trek hulle aan, bou stede, ensovoorts.” Wyk Satan! “OK, laai dit maar op my laptop, dan het ek dit. Weet nie of ek dit juis gaan speel nie, dalk as ek verveeld is.”

Facebook, jou bliksem! Toe nooi iemand my om SIMS daar te speel, toe begin ek so klein bietjie te speel. Toe raak dit al hoe lekkerder. Maar niemand wil regtig saamspeel nie, ek moet hulle boelie. Toe onthou ek – Wyk Satan! – ek het mos die game op my laptop!!!

Ag liewe donner – ek slaap sleg snags, want ek is BESIG in my slaap. Ek beplan en ek bou en ek breek en ek koop klere, en meubels en you-know-what! By die werk bewe my hande en klap my tande, want ek kan nie SIMS speel nie.

Is daar ‘n SIMS Anonymous – ek sal moet gaan aansluit?! Wag, dis amper huis toe gaan tyd. Wat eet ons vanaand? Ag sommer brood, ek moet eers my SIMS gaan kos gee en kyk dat hulle okay is. Wag, issit nog nie huis toe gaan tyd nie?

As julle wonder waar ek is, kom SIM City toe :lol:

Categories: Die Lewe, Gedagtes | 8 Kommentaar

Daar is nie pille nie…

(Thanks for this one Ray!)

Die mense in die blou motor het ‘n 25-liter emmer verf op die agterste sitplek gehad!

Die ambulansbestuurder wou nie die paramedikus uit die ambulans laat uitklim nie, want sy kon nie ophou lag nie – hy het gesê sy is baie onprofessioneel!

Hou maar eerder volgende keer die verf in die kattebak…

Categories: Die Lewe, Raak gelees | 5 Kommentaar

Tou – Piet Steyn

Ek het ‘n hele rukkie terug ‘n Afrikaanse skrywer ontdek van wie ek definitief elke boek sal lees – Piet Steyn.

Tou is Piet Steyn se derde boek in die Pine Pienaar-misdaadreeks. Steyn se debuut, Snoeiskêr,  is in 2007 as ‘n finalis in Sanlam/Insig se Groot Romanwedstryd aangewys en sy tweede boek, Bottelnek het in 2009 verskyn. Ek het altwee sy vorige boeke ook reeds gelees. Elke storie staan onafhanklik, maar Pine en sy kollegas se karakters is deurlopend en dit help as mens by die eerste boek begin.

Die afgryslike berigte oor plaasmoorde waarvoor ons mense al tot ‘n mate afgestomp geraak het, vorm die grondslag van Tou. In Tou kom ‘n baie kontroversiële misdaadbende Pine se lewe deurmekaar krap. Die Hof-Onder-Kruis-bende wat geregtigheid in eie hande neem en moordenaars teregstel, veral plaasmoordenaars!

Die slagoffers (moordenaars) word gewoonlik in verlate geboue gehang, met ‘n lys van misdade wat elkeen gepleeg het, op sy bors vasgespeld en die teksvers uit Levitikus 24 vers 17: “Iemand wat moord pleeg, moet die doodstraf kry.”

In Pine se soektog na die Kruisbende, kom hy en sy bevelvoerder tot die gevolgtrekking dat daar ‘n “mol” in hulle midde is. ‘n Polisie kollega wat aan die Kruisbende inligting verskaf. Pine sukkel hiermee, want skielik kan hy nie eers sy beste vriend en jarelange kollega, Kat, vertrou nie.

Die roman is nie net uiters aktueel nie, dit laat mens ook wonder aan wie se kant jy sal staan as daar werklik so ‘n bende in Suid-Afrika begin om die helsems wat ons vrouens en kinders en boere uitmoor, te vang en tereg te stel. In Tou word dit sonder twyfel duidelik gestel dat die hele land die Kruisbende as verlossers en helde sien. En ek sal lieg as ek sê dat ek die heeltyd wat ek die boek gelees het, nie lekker gekry het elke keer as die Kruisbende die moordenaars vastrek en straf nie.

Veral na een plaasmoord toneel besonder grusaam beskryf is, het ek absolute ondersteuning vir die Kruisbende gevoel. Die skrywer wek natuurlik ook subtiel die leser se simpatie met die Kruisbende. In ’n peiling spreek 68% van ’n koerant se lesers hulle ten gunste van die Kruisbende uit. In koerantadvertensies bied oudweermagmanne hul dienste vir die bende aan. Alhoewel dit fiksie is, ontstaan die vraag wat sal wel gebeur as daar werklik so ‘n vigilantegroep ontstaan en waartoe kan dit dinge in ons land dryf?

Dit word ook goed uitgebeeld hoe selfs die polisie in twee geskeur is, want hulle moet die wet en orde handhaaf, en dit beteken hulle moet die Kruisbende probeer vang, maar eintlik sal hulle eerder hierdie bende wou help.

Daar word ook ander karakters en storielyne bygewerk by die hoofstorie, so die verhaal is nie een-dimensioneel nie. Piet skep ’n paar kleurryke karakters, wat die leser geniet en wat die spanning van die Kruisbende se doen en late op net die regte manier verbreek.

Tou is ‘n boeiende speurverhaal sonder tierlantyntjies en ek sien uit na Piet se volgende boek.

Categories: Raak gelees | 4 Kommentaar

Blog at WordPress.com. Theme: Adventure Journal by Contexture International.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 545 other followers