Maandelikse Argiewe: Julie 2011

Kykie in my binnekamer

Leon het daarmee begin, toe vat Ds Bileam die aflosstokkie aan en Toorts gaan verder. Dis nie eintlik ‘n ‘tag’ nie, maar sommer omdat ons lus is om uit te haal en te wys :-)

Wat is in my bedkassie? By nadere inspeksie blyk dit my bedkassie is maar vervelig in vergelyking met die ander s’n, maar dalk is my boekrak ‘n ander storie!

Bo links, van onder na bo:

‘n Keur van wysheid (Woordskakels wat mense oor eeue heen bind) – Nina Smit

Ask your Guides (Connecting to your Divine Support System) – Sonia Choquette

Tydkringe van die lewe – Solly Ozrovech

‘n Swart A5 hardeband notaboek vir my nag-gedagtes

Weggesteek, bo-op die swart notaboek: ‘n Ma is spesiaal – Christa Jonker-Jordaan

Voor die stapeltjie lê my houertjie Zam-Buk salf. Daar is NIKS beter vir muskiet byte se jik of enige ander gogga byt nie!

Dan is daar ‘n boekmerk en in die middel-gangetjie bo is nog boekmerke, ‘n swart en ‘n rooi pen, ‘n geel highlighter en ‘n klein aansteker (“lighter”) vir die kerse in my badkamer.

Bo regs, van onder na bo:

My pienk Die Eenjaarbybel – Nuwe Lewende Vertaling

‘n Klein swart Bybel – NLV

‘n Halwe Beacon Orange Peel & Almond Dark Chocolate Slab (Saans is dit een blokkie chocolate saam met my Bybellees)

Regs in die hoekie, my Nazene-Z neussproei – ek het dit onlangs gebruik toe ek griep gehad het en my neus so toe soos ‘n klei-os was.

Onder links, van onder na bo:

Running with horses – Allan Boesak

Stoornis – Nini Bennett (‘n bundle kortverhale)

Reflexology Today – Doreen E. Bayly

Langverlof – Annemari Coetser (‘n biblioteek boek wat ek pas klaar gelees het)

In die gangetjie in die middel onder:  ‘n Neon flitsliggie en my Blackberry se charger.

Onder regs, van onder na bo (hierdie is almal my biblioteekboeke – soos ek hulle klaar lees, skuif ek hulle oor na links)

Lammervanger – Frans van Rensburg

Hush hush – Becca Fitzpatrick

The Saffron Gate – Linda Holeman

Donatello en Volksie – Marion Erskine

Flirting with Pete – Barbara Delinsky

Bo-op my bedkassie is:

My bedlampie. Twee “coasters” vir koppies of glase. My klok-radio, waarin ek ook my iPod “dock” en speel. My botteltjie Pepsi – hierdie wissel af. Soms is dit Aquelle Honey & Melon water. Dis vir die dors in die nag en ek drink maklik heelweek aan so ‘n botteltjie. Net ‘n sluk of twee in die nag.

Dis dan my bedkassie.

My boekrak… wel dis ‘n totale perd van ‘n ander kleur. Dis feëtjies en boeke en klippe en DVDs en CDs – kyk maar self.

Ek wonder soms self wat vertel die boeke wat mens lees van jouself :twisted:

Categories: Sommer net | 26 Kommentaar

Swart Sambrele (vir ‘n Vrydag)

Swart Sambrele – Andriette

Ek en jy, jy praat nie meer oor ons nie,

daar is skaduwees waar ek jou hart kon kry.

Hier en nou, jy praat nie oor vandag nie,

daar is vensters vol beloftes wat hier bly.

Ek soek jou ware liefde, maar die liefdesreën betoog

en die lande van ons liefde bly droog.

 

As liefde reën was en jy geweet het dat net ek die een was

Dan sou jy geweet het dat die reën ook net vir ons geleen was

So hou my vas, ek weet jy wil, dalk wonder jy te veel

Die swart sambrele van jou twyfel het die reën by ons gesteel.

 

Wag vir my, die son is nie genoeg nie,

sonder spore kan ek nie jou liefde vind.

Gee vir my die woorde in jou drome

waarin elke droom met net my naam begin.

Ek soek jou ware liefde, maar die liefdesreën betoog

en die lande van ons liefde bly droog.

 

As liefde reën was en jy geweet het dat net ek die een was

Dan sou jy geweet het dat die reën ook net vir ons geleen was

So hou my vas, ek weet jy wil, dalk wonder jy te veel

Die swart sambrele van jou twyfel het die reën by ons gesteel

 

Al die water in die hemel

sal vir ewig in my reën

en hier staan ek alleen

 

As liefde reën was en jy geweet het dat net ek die een was

Dan sou jy geweet het dat die reën ook net vir ons geleen was

So hou my vas, ek weet jy wil, dalk wonder jy te veel

Die swart sambrele van jou liefde het die reën by ons gesteel

Die swart sambrele van jou liefde het die reën by ons gesteel

Categories: Musiek | 10 Kommentaar

Hou op “whine” oor Amy Winehouse!

Genoeg is helaas genoeg. As ek nog een tweet, een bloginskrywing of een donnerse berig moet lees oor Amy Winehouse en wat se tragedie haar dood was, dan gaan ek reg bo-oor my keyboard kots. Nie opgooi nie – dis te ordentlik.

Amy was ‘n dwelm- en drankverslaafde bont getatoeëerde Britse popsangeres wat gevloek en geskel het in die openbaar as sy nie haar sin kon kry nie. Sy het haar vele male soos ‘n “hooligan” gedra en mense aangerand ook.

‘n Mens hoef nie soos Amy op te tree om NIE konvensioneel te wees nie. FFS!!! Daar is onkonvensioneel en dan is daar bloot onopgevoed, ongeskik en pleinweg vieslik.

Dis alles goed en wel om te sê mens doen wat jy wil en te hel met die wêreld, maar selfs dan is daar grense en perke.

Amy was miskien ‘n goeie musikant, en dit hang ook af van persoonlike smaak, maar sy was beslis geen voorbeeld vir enige jongmens nie. As a matter of fact, vir GEEN mens nie. Ek dink sy was ‘n “sad case”. Punt.

En ja, dis jammer dat sy dood is, net soos wat enige jongmens se voortydige dood ‘n jammerte is. Maar MOET ASSEBLIEF NIE NOU VAN HAAR HIERDIE IKOON MAAK NIE!!!

En dis al wat ek wil sê. MOES sê. Voor ek my klere skeur oor al die valsheid van almal wat haar lewend verskeur het en haar nou dood wil eer.

Categories: Gedagtes | 10 Kommentaar

Tot dan

Tot die see nie meer sout is
Tot die winde nie meer waai
Tot die lug nooit weer blou is
Tot die aarde ophou draai

Tot die swaeltjies nie weer terug kom
Tot die wereld ophou oorlog maak
Tot die blomme nooit weer blom
Tot die maan vir altyd wegraak

Tot die son se strale ophou
Tot dan sal ek jou
Onthou.

Categories: My gedigte | 4 Kommentaar

Twee in een lees-reis

Voorverlede week leen iemand by die werk vir my Natasha Sutherland se boek, Bittersoet. Ek het al geruime tyd Steve se “Mense van my asem” op my boekrak (as geskenk gekry met my verjaarsdag) en het al paar keer begin lees daaraan, maar kry net nie lekker vatplek aan die boek nie. Ek is nie juis iemand vir biografieë nie, dus neem ek Natasha se boek, met die belofte dat ek dit sal probeer lees.

Almal wat kan lees ken Steve en Natasha se storie en ek weet nie regtig of ek NOG daarvan wil lees nie. Ek maak egter twee aande later die boek oop en ek hou nie maklik weer op met lees nie. Dis natuurlik ‘n vertaling van haar boek “Bittersweet”, maar die vrou het wragtig ‘n slag met woorde. Die hoofstukke is kort en kragtig en nie een keer word dit ‘n vervelige storie oor ‘n verbitterde vrou in haar liefde verneuk en verlaat nie.

Nee, dit word ‘n leesreis na selfstandigheid en self-erkenning en selfliefde vir elke vrou wat al ooit deur ‘n man verraai, seergemaak of verniel is. Vir elke vrou wat in ‘n huwelik is, maar eintlik eensaam en alleen die pad stap.

Dit wys hoe sommige vroue keer op keer die verkeerde man kies, omdat jy iemand soek om jou heel te maak, terwyl die antwoord op heel wees eintlik in jouself lê. Die kostelikste aanhaling in die boek is waar die klein seuntjie bid: “Here, as U my nie ‘n beter seuntjie kan maak nie, moenie daaroor worry nie. Ek geniet die lewe net soos ek is!”

Saam met Natasha stap mens die pad en sien hoe sy weer haar self vind en haar lewensvreugde terugkry.  Na aan die einde van die boek, waag sy dit weer in ‘n verhouding in, al is sy skrikkerig. Maar sy besluit dat sy, soos Cyndi Lauper, sal sing “Don’t be afraid to let them show your true colours, true colours beautiful like a rainbow.” Dat sy werd is om liefgehê te word vir wie sy is, net soos sy is.

Ek het skaars die boek se laaste bladsy toegemaak, of ek kry my nuwe speelding, my e-reader, en tesame daarmee toevallig ‘n gratis e-boek deur ‘n tydskrif.

Ruitevrou deur Maretha Maartens. (gegrond op ‘n ware verhaal)

Hierdie boek maak my kwaad, hartseer, opstandig en nog ‘n paar onnoembare dinge.

Een van die voorwoorde is: “Wanneer is genoeg genoeg?” is die vraag wat ‘n mens jou afvra by die lees van hierdie deernisvolle verhaal oor mishandeling binne ‘n verhouding.

Dis ‘n ware verhaal oor ‘n vrou wat ‘doodgemaak’ is en doodgemaak het.

Die boek is al twaalf jaar gelede geskryf, en al het vele dinge verander, al het mishandelde vroue en kinders stemme gekry, is daar baie wat nog swyg.

Maretha skryf in 2009 in die Voorwoord: “Wanneer onreg aan die lig kom en die soeklig dalk vir die eerste keer wit en gefokus op lank versweë dinge in ‘n bepaalde gemeenskap val, trek daar skokgolwe deur so ‘n gemeenskap. Twaalf jaar gelede, toe Ruitevrou met sy inhoud van lank versweë dinge sy eerste druk beleef het, het daar ‘n storm losgebars. Dit kan nie die waraheid van tienduisende vroue se werklikheid wees nie, is gesê. Twaalf jaar later herken baie vroue hulleself steeds in hierdie verhaal.”

Met die herdruk na twaalf jaar het die uitgewer haar gevra of sy iets aan die boek wil verander.

Haar antwoord: “Nee. Al wou ek, kan ek nie hieraan verander nie. Wat hier geskryf staan, is die waarheid. Die waarheid deurstaan die toets van die tyd. Onveranderd en van die leuen ontdaan, sal dit vroue wat daardeur aangeraak word, vrymaak.”

Die twee boeke saam was ‘n kragtige leeservaring. Elke vrou wat al die pad gestap het van mishandel word, emosioneel of fisies, of nog steeds stap, MOET hierdie boeke lees. En ook dié wat hierdie vernedering genadiglik misgelewe het.

Categories: Die Lewe | 4 Kommentaar

Blog at WordPress.com. Theme: Adventure Journal by Contexture International.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 545 other followers