Ons (ek inkluis, ja) sê so maklik iets of iemand is ‘common’. Ek, veral, trek gou my neus op vir iets of iemand wat hom/haarself platvloers gedra of platvloerse goed aanhang. Ek dink dis ‘common’ om in die openbaar te baklei, ‘common’ as ‘n vrou in die publiek loop en rook, ‘common’ om te drink en al hoe luidrugtiger te raak, ‘common’ om te spog oor hoe dronk jy gisteraand of laasweek was en hoe baie jy gekots het, ‘common’ om jou kar te ‘drop’ en breë wiele wat verby die kar uitsteek op te sit, met liggies wat onder die kar uitskyn en ‘n klankstelsel wat jou adverteer 10 kilometer ver in aantog. Ensovoorts. Maar dis net MY perspektief. Elkeen se waarheid is anders, soos elkeen se ‘common’ seker ook dan.

Vanoggend ry ek werk toe en ek luister die radiostasie wat ek die afgelope paar maande luister. ‘n Radiostasie wat ‘n hele paar mense hier op die blogs (en elders) sal ‘label’ as ‘common’. Dis ‘n redelike nuwe stasie in die Kaap en dit speel merendeels Afrikaanse musiek. Dit laat my weer dink aan ‘common’ en ek soek die woord op toe ek by die werk kom.

Common = gewoon, alledaags, algemeen.

Maar verder ook = platvloers, vulgêr, laag, sleg.

En ‘n ‘Commoner’ = ‘n Pleb

So, ons is almal maar plebs, want ons is almal eintlik net gewone mense (dié van ons wat nou nie blou bloed in ons are het nie)

So, waar lê die pleb in my?

Laat ek maar bieg:

Ek koop die Sarie, maar ek lees ook die Huisgenoot as ek dit in die hande kry (ek kan darem met ‘n skoon gewete sê dat ek nog NOOIT die Son koerant gelees het nie – DIS nou common kwadraat, as jy my vra!)

Ek luister Afrikaanse musiek, al laat party songs my tande stomp word omdat dit so pateties is. Daar is egter ook baie goeie Afrikaanse musiek. Ek luister egter ook Franse musiek, Reggae, R&B, HipHop en ander – so, as ek aan my musiek moet geoordeel word, sal hulle my diagnoseer as seriously skisofrenies.

Ek volg vir Steve en Natasha en Wicus ensovoorts op Twitter (Is dit common?)

Ek sal maklik kaalvoet winkel toe gaan in die somer, maar my voete is altyd versorg en ek sorg dat my hakke ordentlik lyk (skurwe hakke = common)

Ek kyk sepies soos Binnelanders en 7de Laan (as ek tyd gehad het, het ek seker meer gekyk). En destyds was ek ‘n Santa Barbara verslaafde. Ek kyk darem so nou en dan opvoedkundige kanale ook, dis goed vir slaaploosheid.

Ek lees ‘heavy’ boeke, maar ek lees ook gereeld ‘n lekker hygroman/liefdesverhaal waarvan ek reeds die einde op bladsy 1 kan raai. Sulke boeke laat my brein rus en my batterye herlaai :lol:

Ek praat en lag te hard. Altyd. Seker omdat ek op ‘n plaas grootgeword het. En ek praat soms te veel, veral as ek senuweeagtig is. Soms probeer ek myself stiller maak, maar voor ek sê mes, lag ek weer te hard. As my familie bymekaar is, klink ons soos die spreekwoordelike (en vergewe die rassistiese woord) regte-egte koelie-basaar. LOUD!

Ek vloek as ek kwaad raak en my geliefde woord is FOK en ek raak hoogs befok in verkeer en sal maklik vir iemand ‘n vingerteken wys – ja, ek weet – dis ook BAIE common!

Ek kan seker nog aanhou. Daar is seker ‘common’ en ‘COMMON’. Maar sonde bly sonde, groot of klein, so eintlik moet ‘common’ dan ook ‘common’ bly. Of hoe? Punt is, iewers glo ek elkeen van ons het iets ‘common’ in ons, wat ons nie noodwendig platvloers, vulgêr, laag of sleg maak nie. Dalk net meer mens.

Dalk moet ek hierdie ‘n tag post maak. Kom, kom, staan op en vertel ons wat doen jy wat as ‘common’ kan kwalifiseer :lol:

Laat ek bietjie dink… okay. Ek tag vir:

Demoerin

Vy’tjie

en die

Wosonki’s

Julle weet hoe dit werk – gaan heen en vermenigvuldig! :lol: